Brief van Ernst Toerien

Gister het die Myanmar skadu-regering aangekondig dat al die verskillende groepe in Myanmar nou moet saamstaan en oorlog begin teen die junta. Beteken dit nou die amptelike begin van burgeroorlog? Al wat ek kan se is dat die broeders in Myanmar hieroor bly is, veral die jonger geslagte, want hulle leef al die laaste 7 maande onder vrees om enige tyd deur die junta soldate gevange geneem te word, gemartel te word en selfs te sterf. Kan ‘n mens hul blameer?

Voordat  hierdie afkondiging gedoen is gister kon ek die laaste maand darem met een broer van Jangon ‘n Bybelstudie begin oor Romeine (nou en dan kom ander by, maar dis moeilik met internet toegang en skielike verskynings van soldate in hulle gebiede). Verlede Vrydag en Saterdag kon ek selfs ‘n seminaar aanbied aan omtrent 25 Myanmar dominees/sendelinge van oor groot dele van die land per zoom. Die tema was die Heiligheid van God met die fokus dat ons hoop le in ‘n Heilige God wat deur niks onkant gevang kan word nie, en niemand of niks wat Hom van Sy Troon kan afkry nie. Omdat Hy Heilig is hoef ons niks te vrees nie, buiten vir God self.

Die afgelope Saterdag kon ons ook ’n  zoom gebedsgeleentheid hou vir Myanmar. Ek moet se die bywoning laat veel te wense oor. Ondanks die feit dat ek ‘n hele paar keer op Facebook mense genooi het om saam te kom bid, het net ek en 2 ander broers van Amerika opgedaag om saam met 4-5 Myanmar broeders te bid.  Indien ons gebede voor die Troon van God uitgestort word as wierook voor Hom, maak dit vir my glad nie sin dat ons nie eens 2 ure van ‘n Saterdag kan afstaan om saam met die Christene van Myanmar te bid vir die oorlog in hulle land nie. Ons beplan om hierdie gebedsgeleentheid die 1ste Saterdag van elke maand te hou. Indien enige van julle per zoom wou inskakel om te bid, laat weet asb. vir my en ek sal die skakel stuur. Vir veiligheidsredes kan ek nie die skakel aan net enigeen gee nie, dus asb. laat my weet en sal met graagte stuur. Gee dit dan ook net aan mense wat julle ten volle kan vertrou.

Mede broers en sisters, ek pleit by julle. Indien ons nie gaan begin opstaan vir die Waarheid en vir mekaar en die wêreld begin intree op ‘n gereelde basis nie, gaan wat in Myanmar en Afghanistan gebeur sprei na ander lande, en voor jy weet dalk ook jou land tref. Daar is nie meer tyd vir Christen speel nie; daar was nooit tyd daarvoor nie.

Wat my drawwery aanbetref kan ek darem nou al 11km in amper onder 1 uur draf. Dit gee my dus ‘n ekstra 30 minute amper oor op die tyd wat ek daarvoor sal kan kry. Op die oomblik weet ek egter nie wanneer en of ek selfs sal kan gaan nie, maar ek moet altyd reg wees.

Ek wil die volgende paragraaf uit verlede maand se brief herhaal omdat dit nog steeds erg aktueel is en tot op hede daar nie werklik reaksie was nie. Die kerk in Myanmar het al honderde dominees die laaste 3 maande verloor aan Covid. Die nood vir opleiding is massief. Onder al die druk wat die Christene verkeer is daar niemand om hulle te lei nie, omdat die skaapwagters dood is. So, hier volg die paragraaf weer:

Hoop kan beslis net in die God van die Bybel gevind word. Maar om Hom te ken moet jy die Woord ken. Hierdie is ‘n projek waaraan ons nou al meer as ‘n jaar werk, en ondanks oorlog, vloede en Covid dalk nou naby staan om waar te word. Die begin van teologiese opleiding vir dominees in klein dorpies in die suide van die Chin Staat. Hulle kennis van die woord is minimaal; in hulle poste gedruk maar net omdat niemand anders wou nie. Soos lammers in ‘n wolfkraal, ingestuur om andere te leer, wanneer hulself niks weet nie.

Dit is wat ons wil verander. Om dit regte kry gaan ons hulle oplei. Dit gaan ons 100US kos per student/dominee. Indien daar enige gemeentes is wat so persoon onder hul vlerk wil neem, laat weet my asb. Hierdie is meer as net die opleiding van iemand wat dalk eendag ‘n taksidrywer gaan word; hierdie manne staan reeds in die bediening en dra reeds verantwoordelikheid vir honderde mense wat onder erge spanning en vrees lewe. Nou is die Tyd. Dus, bid asb. daaroor en raak betrokke. Bid sal beslis help, maar nou kort ons geld. Bid asb. mede broers en sisters! Bid!!!


Mag Hy herlewing in ons harte bring, sodat daardie onbeskryflike Genade kan uitvloei na die hele wereld.

Soli Deo Gloria.

NS: Versprei die brief asof so ver en wyd as moontlik sodat meer mense kan bid, asook geld gee.