Personeel

Leraars:

Ds Riaan Stander

Riaan Stander het die eerste lewenslig aanskou op die plaas Kaalpan naby Hennenman in die Vrystaatse Goudveld. Na matriek het ek 24 maande se militêre diensplig voltooi as lid van die Staatspresident wag. Ek is ‘n trotse oud Kovsie waar baie van my persoonlike vorming plaasgevind het. Die hoogtepunt was dat ek my vrou Gesina (nooi Lombard) daar ontmoet het. Ons is geseënd met 4 kinders wat almal reeds getroud is. Ons hart se punt is ons 6 kleinkinders.

Ek het my bediening afgeskop in ‘n Sotho sprekende gemeente in Bultfontein. Dit was  ‘n ware Damaskus ervaring wat my oë geopen het vir die kompleksiteit en ongelykhede van die Suid Afrika waarin ek opgegroei en studeer het. Gedurende die byna vyf jaar in Bultfontein het ek tot die besef gekom dat net die genade en liefde van die Here ons land kan heelmaak en versoening tussen ons mense kan bewerkstellig. Dit het vir my ‘n ononderhandelbare roeping geword om dié oortuiging met woord en daad uit te leef.

Sedert 10 November 1989 is ek en my gesin deel van hierdie wonderlike woonbuurt met sy koppies en aangrypende sonsondergange. In dié tyd het ek die gemeente sien groei, met verskeie kollegas saamgewerk en ontdek wat “sout van die aarde” mense beteken.

My bedienings-motto is om daar te wees vir mense, alle mense. Ek bewonder ons gemeente (huisgesin) se oop hart vir God, mekaar en die wêreld. Omgee, Spirituele begeleiding, Bybelstudie, Uitreikaksies, “Retreats”, Sotho kursusse en toerusting is van die hoogtepunte in my bediening. Om my kop skoon te hou draf en ry ek graag bergfiets…

Ek probeer om Lukas 6:31 uit te leef: “En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.”

Ds Riaan Stander

Ds Leon Oosthuizen

Kontak my gerus by ooshuis@gmail.com 
Sel: 087 808 9175 of 083 444 8587

Ds Gerhard Meyer

Kontak my gerus by  petrusgerhardm@gmail.com
Sel: 078 107 7154
Ds Leon Oosthuizen

Leon Oosthuizen (genadiglik het my ouers my net hierdie een en boonop kort naam gegee) is meer as ‘n halfeeu gelede gebore in Wynberg, doer onder in die Kaap. Ek matrikuleer aan die Hoërskool Voortrekker in Kenilworth (ja, vir almal wat van Betlehem kom, daar is ‘n paar Voortrekker Hoërskole in die land), studeer op Stellenbosch en doen my diensplig as kapelaan in Simonstad. Hierna beklee ek vir ‘n jaar lank ‘n proponent pos as jeugwerker by Heideveld gemeente in Port Elizabeth, voor my eerste beroep, naamlik Plettenbergbaai gemeente, waar ek vir amper tien jaar predikant is. En van daar skuif ek hier na Langenhovenpark in 2001.

Ek is verantwoordelik vir Blok B se pastorale versorging, prediking, betrokke by eiendomme, finansies, omgeegroepe, jeug, elektroniese bediening en kommunikasie, lei die Woensdag-oggend Dames-Bybelstudiegroep, en nog so ‘n paar goed – eintlik maar so ‘n “Jack-of-all-trades” dominee. So hier en daar is ook nog Rings- en Sinodale-verpligtinge.

In my vrye tyd probeer ek om klein boompies, na ou boompies te laat lyk, m.a.w. ek hou my besig met bonsai en dan 4X4 ek graag – dis nou wanneer die Jeep loop – wat ongelukkig nie altyd is nie!

Psalm 121 bly maar vir my ‘n riem onder die hart – Ek kyk op na die berge:  waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.

Of dit nou gaan oor kerkwerk, of sommer net die lewe – dis wonderlik om te weet die Here is altyd daar om te help. Neem gerus die vrymoedigheid om my te kontak vir ‘n geselsie – ernstig of sommer net sosiaal – ek is net ‘n oproep vêr.

Ds Gerhard Meyer

Ek is gebore op 16 Maart 1993 in Springbok en het twee jonger susters, 1 en 9 jaar verskil onderskeidelik. Ons verhuis na Caledon toe ek 7 was en het  my skoolloopbaan daar voltooi in 2011. Ek het in 2014  teologie kom studeer en my praktiese jaar voltooi in 2020 by Bloemfontein Student Gemeente. Ek is verlede jaar aangestel en bevestig by die Studente Gemeente en het hierdie jaar die voorreg om ook deel te word van Langenhovenpark Gemeente waar ek betrokke gaan wees met die jeug.
Visie:
Volhoubare Verhoudings. Een van die voorregte wat God ons gun is om iets van Sy wese te sien en ervaar in die mense rondom ons en ek glo Hy is dikwels mees sigbaar wanneer ons ons verhoudings met mekaar benader deur `n gesindheid liefde, deernis en toewyding.

Administratiewe Personeel

Laurane de Kock

Laurane de Kock

Skriba

Jolene Muller

Jolene Muller

Finansiële beampte

Anton Schlebush

Anton Schlebush

Koster

Surita Swanepoel

Surita Swanepoel

Musiekleier