Senior bediening

Senior bediening

Aksie olyftak

Hierdie aksie het ontstaan weens die behoefte aan ‘n dienssentrum vir senior burgers in die gemeente asook die wyer gemeenskap van Langenhovenpark. Lede kom eenmaal per maand bymekaar vir kuier en om algemene versorgingsdienste, soos skoonheidssorg te ontvang. Hulp van kundiges uit die gemeente is altyd welkom. Die tyd en datum van hierdie byeenkomste word deur die Omgeenuus gekommunikeer.

 Aksie afgetredenes

As jy na aftrede die huppel in jou stap wil behou, is die Aksie Afgetredenes ’n goeie plek om in te skakel. Ons vergader elke eerste Dinsdag van die maand in die Kleinkerk om 9h30 (skoolvakansies uitgesluit).

Die jaarprogram sluit die bespreking van verskeie interessante en relevante onderwerpe soos klimaatsverandering,  senior “Mind Moves”, die sielkundige aspekte wat belangrik is in die senior jare, tuinbou en die kweek van Bonzai en nog baie meer.  Onderwerpe oor Kerkwees en die rol wat ons in die gemeente kan vervul, word ook aangespreek

Ontspanningsaktiwiteite soos uitstappies na museums en die planetarium, word gereeld aangebied, ’n flinkdink word in die vooruitsig gestel en ons lentetee en konsert in September is ’n wenner.  Ons hoop om weer volgende jaar by te dra tot die gemeentekermis, waar ons gewoonlik ’n plaasstal aanbied.

Ons werk ook elke jaar aan verskeie projekte, waarvan die brei van kleertjies en speelgoed vir vroeggebore babas en die maak van serpe en musse vir seemanne, maar enkeles is.

By elke vergadering sing ons ook die lekker ou liedjies wat ons herinner aan die goeie tye en natuurlik word daar koek geëet, tee gedrink en gekuier!  Die jaar word afgesluit met ’n spesiale Kersete.

Die meeste van hierdie aktiwiteite kon nie vanjaar plaasvind nie, as gevolg van die ingrendeling, maar ons sien uit na ’n heerlike vol program vir volgende jaar!

 Kontak gerus vir Susan Bester by 0822138813