WONDERWERKE GEBEUR NOG VANDAG
My God is so groot, so sterk en so magtig daars niks wat my God nie kan doen. Dit is die woorde wat gedurig in my kop gemaal het. Selfs tydens my toestand van erge sedasie. Ek glo dat dit gehelp het om nie moed op te gee nie.
Ek is vroeg die oggend van 28 Mei 2021 hospitaal toe omdat ek gevoel het ek kry nie asem nie. Suurstofvlak in die bloed was onder 80%. Noodgedwonge het hulle my getoets vir Covid maar die toetsuitslag was negatief. Verdere ondersoek het die dokters laat besluit dat ek longontsteking het en dat dit oorgaan in akute respirasie inkorting. Die wipkarreis het begin.
In die intensiewe eenheid het ek eers gewone suurstof deur ‘n masker gekry, maar my toestand het verder verswak. Verskeie mense oor die wêreld heen het vir my begin bid. Ek het egter steeds ‘n erge infeksie gehad. Daar is besluit om my te ventileer en ek was gelukkig, aangesien ek die laaste beskikbare ventilator gekry het.
Daar het die verskriklikste gedagtes deur my kop gegaan. Ek het “ervaar” hoe die mensdom so begin geld najaag dat die Here heeltemal vir hulle verdwyn. Almal was bereid om ander dood te maak vir geld. Dit was vir my verskriklik, gelukkig het die woorde hierbo gedurig deur my kop gemaal. Dit het my darem kalmeer aangesien ek dan gevoel het God is naby.
Party dae het my toestand verbeter en ander dae was dit slegter. Dokters het hulle bes probeer om die infeksies te keer. Daar is ‘n paar kere vir my familie gesê dat die kanse sleg is dat ek deur die nag sou kom. Die volgende oggend was ek nog daar. Die hele tyd het daar mense gebid. Ek het agterna gehoor dat hulle so ver soos Hong Kong, Colombië, Ethiopië en nog verskeie ander lande asook hier in Suid Afrika gebid het.
Ek kan vandag getuig dat daar werklik krag in gebed is. Daar is ‘n groot God wat die gebede verhoor. Na baie dae van byna dood tot weer beter word is ek uiteindelik van die ventilator gespeen en kon ek self op my eie begin asemhaal. Dit was wonderlik. Daar is selfs gepraat van my oorplaas na ‘n inrigting vir rehabilitasie. Ek kon nie opstaan of loop nie. Daar het ‘n pad voorgelê van probeer en weer probeer. My infeksietelling het egter weer begin styg en die dokter laat my toets. Ek kry die slegte nuus dat ek Covid opgedoen het, terwyl ek in afsondering gelê het. Alle planne van ontslag is gestop en ek is oorgeplaas na die Covidsaal. Behandeling het onmiddellik begin. In die saal het ek stadig begin loop. Die Covid het my egter nie so swaar getref nie, maar ek moes 10 dae isoleer volgens wet. Die loop het elke dag verbeter.
Na 10 dae kon ek ontslaan word. Dit het beteken dat ek 70 dae in die hospitaal deurgebring het. Gedurende die hele tydperk het familie, vriende asook vreemdelinge steeds gebid vir herstel.
Ek glo vandag dat ons ‘n groot God dien. By Hom is niks onmoontlik nie. Hy het gebede verhoor en my uit die kake van die dood gered. Alle eer aan ons groot God. Dankie aan almal wat deur gebede en meelewing gedurende die tydperk vir ons as gesin bygestaan het.
Ek glo vandag in wonderwerke, want ek is ‘n wandelende voorbeeld
Dankie, Sakkie du Plessis