Covid-19
Bedreiging of geleentheid op die  frontlinies van die Koninkryk?

Oesnuus
Ekstra

Dis Paassondag vandag. En wat ’n vreemde Paasfees is dit nie! Kerke is leeg. Geen kore sing nie, behalwe oor die radio en televisie. Maar steeds het die boodskap opgeklink: “Die Here het opgestaan, Hy het waarlik opgestaan!” My gedagtes het vandag onwillekeurig uitgegaan na mense naby aan ons – hulle wat in ons plek aan die frontlinies vir die Here stry, wat in hierdie tyd van afsondering groot uitdagings in die gesig staar en ook groot verliese gely het.  

Connie van Heyningen
Die covid-19 virus het sy eerste slagoffer uit ons eie gemeenskap geëis. Dis met groot hartseer dat ons in die week wat verby is, moes afskeid neem van die voorsitter van die Uitreik Diensraad van ons gemeente.  Connie was ’n sendeling in murg en been en het tot aan die einde van sy lewe getrou die Blye Boodskap verkondig, veral op die terrein van Arbeidsbediening in die Vrystaatse NG Kerk.  Ons harte gaan uit na Alta en hulle kinders, maar ons weet ook dat op hierdie Opstandingsondag hy werklik ingegaan het in die vreugde van sy Here.

Ek het ’n week gelede aan ons sendelinge geskryf en gevra hoe dit met hulle gaan te midde van die pandemie wat ons getref het. Hier is ’n paar van hulle se antwoorde. In ’n volgende uitgawe van Oesnuus vertel ons meer oor ons sendelinge se werk.

TC du Toit (Botswana)
TC skryf dat in hierdie tyd van inperking die gebrekkige internet-verbinding en selfoonseine,  negatief bydra tot hulle ervaring van die inperking. Hy skryf: “Dis leë ure van vir die skerm kyk en weer en weer probeer. Iets wat groter as 5Mb probeer ek nie eers oopmaak of stuur nie”.  Vergaderings met Zoom en kontak van die gemeente deur middel van YouTube is nie enigsins ’n opsie nie!  Alle kommunikasie vind plaas deur middel van ’n selfoonoproep of ’n selfoonboodskap van 160 karakters of minder.

Hy skryf verder: 

“Ons is oortuig daarvan dat hierdie tyd vir die Kerk ‘n Kairos moment is, ‘n enorme geleentheid wat onbenut kán verbygaan. Dit is vir ons so ‘n vreemde situasie dat dit vir my voel ons sukkel nog om in rat te kom wat die bediening aan die gemeente betref en in pas te kom met die tegnologie wat dan nou of help, of nie regtig help soos ons dit wil hê nie. Die vraag waaroor ek egter baie tob in hierdie Kairos oomblik, is die bediening DEUR die gemeente. Vir die eerste keer in ons geskiedenis ervaar lidmate kerk sónder die gebou. Mag die Here dit van ons lank genoeg weghou dat ons kan leer dat kerk nie ‘n gebou is nie. Maar dat my gesin kerk is en dat ék die een is wat hulle moet bedien en nie die dominee nie. Dat ons mekaar moet bedien, ook natuurlik buite gesinsverband. 

Maar ek glo die Kairos moment gaan verder. Hoe bedien ‘n kerk ‘n gemeenskap vanuit hulle huise?  In ‘n wêreld wat God toegelaat het (?) om tot STILSTAND te kom ……. Die ‘3de Wêreldoorlog’ teen die fisiese DOOD. 

Die lande is RYP. Maar hoe dra mens gerwe vanuit die ruimte van jou huis? Is dit moontlik om mense te kan bedien oor die foon? Mense wat nie YouTube boodskappies kán kyk nie? Kan die Kerk ‘n verskil maak deur ‘sanitizer’ uit te deel? 

Ons bid vir wysheid en onderskeiding. Tsabong se bevolking is meer as 11,000. Ons beplan om Dinsdag onderhandelinge met twee regeringsdepartemente te begin om kos te verskaf. Of onsself fisies die kos moet gaan oorhandig, self die risiko moet loop weet ons nie. Die kerkraad het reeds besluit dat ons ons bietjie opgehoopte fondse kan bestee op kos indien die staatshulp nie voldoende gaan wees nie. Hoe gee mens die Evangelie saam met sakkies meel en soetboontjies? Is dít wat ons moet doen of kyk ons iets mis? 

Bid asb. vir

– Ons kommunikasie-uitdagings;
– Wysheid en onderskeidingsvermoë oor ons roeping in hierdie tyd;
– Ons kroniese medikasie wat van SA af ‘ingevoer’ moet word.

Pierre van Vuuren (Slowakye)
Pierre se brief gee vir ons die atmosfeer weer van die dorpie Hlinne in Slowakye en hoedat hulle die inperking ervaar.  Ek plaas sy brief effe verkort.

Hy skryf soos volg: 

Dit is Saterdag, Paasnaweek, en die stilte hier op ons dorpie is voelbaar. Die regering van Slowakye het besluit om hierdie week van Woensdag tot volgende Dinsdag die maatreëls rakende COVID-19 te verskerp, juis omdat Paasnaweek ‘n tyd is wanneer die meerderheid van Slowake (soos mense in Suid-Afrika) hulle familie besoek. Baie mense wat in Bratislava werk, sou Donderdag die pad vat huis toe, en om dit te voorkom, is reis van een distrik na ‘n ander verbied (behalwe vir werk en noodsaaklike dienste). Polisie en soldate het blokkades opgestel regoor die land, en by elke so ‘n blokkade moet ‘n motoris ‘n vorm invul wat die rede vir sy reis uiteensit. Die gevolg was dat die verkeer veral in die groot stede Woensdag tot ‘n feitlike stilstand gekom het. Op snelweë moes mense twee of drie uur lank sit en wag om deur die blokkades te kom. 

Gister, Goeie Vrydag het ons ons eie tuis-erediens gehou, net die preek is oor die internet uitgesaai. Vir vanoggend het ek die boodskap vir OpstandingSondag opgeneem met my telefoon. Dit was ‘n eerste keer vir my, omdat ek beurte maak met die ander predikante in ons kerk. Dit is asof die opstanding van Jesus vanjaar soveel meer betekenis en hoop inhou, te midde van die grouheid, verveling en bekommernis oor die pandemie wat die hele wêreld op sy knieë het. Mens besef net skielik hoe wonderlik dit is om te weet dat hierdie lewe nie al is nie – dis maar net die begin, die inleiding tot die ewigheid.

Ernst Toerien (Thailand)
Ernst Toerien gee sy belewenis van die virus en die invloed wat dit op hulle werk het, soos volg weer  (Brief verkort): 

Wie het gedink dat ons almal onder huisarres gaan sit? Maar, hier sit ons. Of dit nou Thailand is, of Rusland, SA of Amerika – ons is skielik almal op hok. Geen kampe die maand nie. Die mens wik, maar God beskik. 

 

Ons het darem nog so bietjie beweegruimte hier. Daar is nie ‘n verbod op uitgaan nie, maar hulle vra dat mens maar moet tuis bly, en meeste doen dit. Bangkok wat altyd so aan die lewe is; die pad voor ons woonstelblok is skielik leeg. Stilte hang soos dood orals. Die een voordeel wel is dat die lug skielik baie skoner is.

 

 ‘n Ander gevolg van die virus is dat baie jong Christene skielik vol vrae is oor hulle geloof. Deur die jare het hulle grootgeword met die idee dat as Christene ons nooit sal ly nie. Die preke gaan Sondag na Sondag oor hoe God net goeie dinge vir ons beplan, en lyding, volgens die teologie is sleg. Veral uit Myanmar word ek oorval met vrae van studente wat hieroor skielik ‘n groot vraag het oor hulle geloof. Waar is God nou? 

 

Meeste van die studente, in Myanmar spesifiek, moes nou die oggend wakker word (sommige nog nie eens geslaap nie want hulle was besig om te studeer vir die jaareind eksamens), naarstig op busse spring en by hulle huise in die berge probeer uitkom.  Een so ’n Christen student het my laat weet, nadat hy veilig by die huis gekom het, dat sy twee maande oue niggietjie siek is en nou, na bloedtoetse op haar gedoen is, laat weet dat sy Jangon toe moet gaan sodat haar lewer en ander organe ‘gescan’ kan word – ‘n reis van tenminste drie dae per bus. Die dogtertjie, Mary (hulle is Christene) is reeds ernstig siek, en daar is geen manier hoe hulle in Jangon kan kom nie. Boonop as gevolg van die virus mag niemand hulle wonings verlaat nie.

Wat die toekoms werklik inhou weet niemand nie. Wat ons wel weet is dat God in totale beheer is en dat Hy voor ons uit gaan. Selfs al gaan sommige van ons geliefdes aan die dood afstaan, weet ons verseker dat Christus die dood oorwin het. In die dal van doodskaduwee is Hy ook by ons. 

Hierdie is die perfekte tyd om lig te wees; om ons verhouding en verstaan van God onder oë te neem en God toe te laat om weer die middelpunt van ons lewens te word. Sterkte in die geveg. Hy het oorwin. In Hom sal ons oorwin. 

Jos (Geopende Deure)
Die vervolgde Christene wat deur Geopende Deure (https://www.opendoors.org.za/afr) bedien word, tel onder die weerloses wat op geen ondersteuning van hulle owerhede kan staatmaak nie. Geopende Deure se kantore is gesluit vir hierdie tyd van inperking, maar die werk gaan steeds voort en hulle het ons gebede en bydraes baie nodig.  

Ons verteenwoordiger by geopende Deure skryf in antwoord op ’n briefie van my af: 

Dit gaan goed met ons, almal is nog gesond.  Ons het soveel om voor dankbaar te wees.  Die Here het vir ons as gesin die geleentheid gegee om vir drie weke saam te kan wees.  Vir ons is dit ‘n “luxury” en ons benut dit ten volle.  Ek glo ook dat die Here vir ons hierdie tyd gee om nader aan Hom te kom, te heroorweeg, na te dink en nader aan sy plan te kom.  Die Een wat blindes laat sien, help ons om sig en insig in ons omstandighede te kry. Bid asseblief dat die Here ons sig en insig sal gee om die vervolgde Kerk op unieke maniere kan bly dien”.

 Slotwoord
Tussen al die frustrasies heen, het by almal een boodskap deurgekom:  Die virus ontneem ons nie die voorreg om te beplan en steeds te werk vir die Koninkryk nie. Want die belofte van Handelinge 1:8 bly steeds waar:

“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in
die uithoeke van die wêreld.”