Van die eerste dag wat ek vir Johan en Charlotte Vermaas ontmoet het, was ek nuuskierig oor wat die storie agter die storie is. Ek sien met hoeveel moeite hulle Sondae by die kerk uitkom, moet soek vir geskikte parkering, en dan die proses om van daar met die rolstoel in die kerk te kom. Toe besluit ek dat mense met soveel durf en deursettingsvermoë se storie gedeel moet word. Alhoewel Charlotte eers huiwerig was, het sy tog ingestem om iets op skrif te stel. Hier is haar storie:

Waar begin jy wanneer jy gevra word om jou storie te skryf en hoe omgee jou lewe verander het. Deur almal se lewe gebeur daar dinge wat ‘n mens se lewe, jou gesindheid en jou uitkyk op die lewe verander. Die goue draadjie deur alles, is die omgee waarmee jy omring word- geliefdes, die kerk en bo alles die omgee en die Liefde van ons Hemelse Vader.

Ek kan nie onthou wanneer die rugpyn begin het nie, maar na 4 epidurale behandelings, het die spesialis in 2014 gesê dat ‘n fusie die enigste oplossing is. Ek het uitgesien na die operasie, geen pyn! Die dokter het agter sy lessenaar gesit die gevare afgerammel en my verseker dat niks gaan gebeur nie, want hy doen sulke operasies elke dag. Opgewonde is ek daaruit en so breek 6 Maart 2014 aan.

My tannie bel my die 5de en gee vir my die boodskap- wanneer jy die teater ingestoot word; dink aan Ps 23 en sien die Here voor jou staan en weet dat
alles sal goed gaan. So is ek en Ps 23 die teater in.

Ek word wakker, sien my man staan; my ma langs my bed in trane, my seun en my susterskind. Vra my ma hoekom sy huil, sê vir my seun dat ek gesê het hy moenie deurkom van Bfn nie. Ons bly toe nog in Bedfordview. Die ernstige gesigte verstaan ek nie. Verpleeg personeel wat aanhoudend vir my sê ek het hul groot laat skrik. Ons het jou amper verloor.

Ek vind eers later uit dat my man by die hospitaal in die parkeerarea geslaap het om naby te wees, sou iets met my gebeur. Hy het ook my seun aangesê om maar liewers deur te kom want ek het nie goed gedoen nie.

Na die rugoperasie was ek in ‘n koma. Breinskanderings het gewys ek het ‘n Arnold Chiari. Di ‘n toestand waar die klein brein deur die skedel druk op die
rugmurg. So gebore en niemand het dit ooit geweet nie. Die Arnold Chiari op sigself kan suksesvol met chirurgie behandel word deur ‘n dekompressie te
doen.

So, lê nog ‘n operasie voor. ‘n Wonderwerk gebeur- Die breinskandering voor die operasie wys geen teken van die Arnold Chiari nie. Prys Hom! Ek glo die
Here het gesorg dat ek nie die operasie kry nie.

Terug by die werk op 9 Junie 2014. Terug na my gewoonte van 18 ure werk. Ek is skielik nie myself nie. Bars uit in trane in vergaderings en loop uit. Ek gee myself af en gaan eet ‘n middagete by die Eastgate Mall. Ek is in ‘n toestand, want ek kry nie my kar nie en weet nie waar ek is nie. Onthou net die
aanhoudende ligflitse. Kry my kar na 2 ure. Hoe en waar, kan ek nie onthou nie. Ek is ellendig, kry koud en eet nie. Mense sê vir my ek lyk soos die dood.

Weer word ek wakker in die hospitaal. Drogbeelde en geluide wat ek nie ken nie. Net my dierbare man herken ek. Vog op my brein het genoodsaak dat ‘n
shunt in my brein gesit word. Dit was 1 Julie.

Terug by die werk 18 Augustus, 18 ure se werk en kliënte stres maak my gedaan. Ek val by die werk, by die huis. Loop toe maar met krukke. Ek bid en
vra die Here dat ek nie so kan aangaan met al die stres en kliënte krisisse nie, ek wil asseblief net ‘n rustige lewe he.

My lyf is net nie reg nie, sukkel om te bestuur en moet my voet met my hand optel om die pedaal te trap. In Oktober 2015 kry ek ‘n operasie om vog van my rugmurg te verwyder. Laaste operasie en laaste van motor bestuur.

Die probleem was dat ek ‘n spinale lekkasie gehad het na die rugoperasie en infeksie in die rugmurg gekry het. Arachnoiditis- my leke verduideliking aan
mense is dat die senuwees soos elektriese drade aanmekaar gesmelt het. Seldsame, maar onomkeerbare toestand. Niks menslik kan vir my gedoen word nie.

Deur al hierdie beproewinge, kry ek my troos in my gunsteling boek in die Bybel- Psalms. Interessant vir my om nou deur Psalms te blaai en te kyk wat ek
onderstreep het al was ek nie myself nie.

Die goue draad in die onderstreepte gedeeltes, is dat alleen God in beheer is, dat alles op die aarde aan Hom behoort. Vertrou op God en loof Hom!

Van werkstres wat nie meer bestaan nie, tot sit in ‘n rystoel. Ek kan slegs loop met my stoel en is meestal gebonde aan my rystoel. Die verandering van ‘n Atipe persoonlikheid tot sit in ‘n rystoel, is op sigself ‘n aanpassing. Die grootste stres is- glo dit- om parkering te kry in die malls of by die Woolworths in
Langenhovenpark.

Ds Riaan, ek wil jou en die kerkraad uit my hart uit bedank vir die rystoel parkering voor die kerk. Dankie dat jy geluister het, die bal aan die rol gesit het.
Dis wonderlik om nie meer oor die pad aangesukkel te kom nie. ‘n Voorreg om aan ‘n omgee gemeente te behoort. Dankie dankie!

In enige nuwe fase of omstandighede in ‘n mens se lewe, is dit belangrik om die beste van ‘n situasie te maak wat jy nie kan verander nie. Mens doen dit
alleen deur genade en om te weet dat HY altyd styf teen mens staan.

Dis nie maklik nie. My jongste kleinseun ken net die ouma wat die heeltyd sit. Die oudste een kyk my die ander dag so-: ” Ouma, kan jy nie soos ons loop nie? Vat my handjie, ek sal jou help” Die wonder van omgee in ‘n mens se lewe, is
die woorde van ‘n 5 jarige…

Mense sê ek is sterk. Ja, ek is sterk, WANT EK IS TOT ALLES IN STAAT DEUR

CHRISTUS WAT MY KRAG GEE!

Blessings

Charlotte Vermaas
charlottevermaas1@gmail.com