Connie van Heyningen – só onthou ons hom
Die skielike heengaan van Connie van Heyningen was vir ons almal ’n groot skok. Met hierdie korthuldeblyk gee ons graag erkenning aan die besondere rol wat hy in die kerk en ons gemeente gespeel het.
Pieter Adriaan Coenraad (Connie) van Heyningen is op Bultfontein op 20 Januarie 1943 gebore as die jongste van vyf kinders. Hy is ’n agterkleinseun van Genl. Edwin Conroy, held van die Tweede Vryheidsoorlog en Volksraadslid vir 24 jaar. Connie se ander oupagrootjie en naamgenoot was die
bekende Ds PAC van Heyningen. Hy was afkomstig uit Nederland, was die eerste leraar van Kroonstad (1865) en was daarna lank op Winburg (1867 – 1893). In 1881 was Ds van Heyningen ook moderator van Vrystaatse Kerk en het hy veral ‘n belangrike rol in die onderwyswetgewing
van die Vrystaat gespeel. Connie se broer is die bekende kunstenaar Francois van Heyningen en sy broerskind die ewe bekende musikant en radiopersoonlikheid Charl van Heyningen wat Sondagaande die musiekprogram Dis Opera op RSG aanbied. Connie het self ook ’n mooi stem
gehad en het dikwels by troues en ander geleenthede gesing.
Nadat Connie sy skoolopleiding voltooi het, is hy vir ’n jaar militêre diensplig na die Leërgimnasium in Pretoria. Daarna het hy die boerdery by sy pa oorgeneem op hulle plaas Kleinkalkspruit in die Bultfontein distrik. Uit sy huwelik op 19 Augustus 1967 met Alta, ’n nooi van Calitzdorp, is twee
seuns, Franco en Emille, gebore. Franco en sy vrou Hestelle, woon in Bloemfontein en hulle het ’n seun en ’n dogter, Janco en Hestelle. Emille en sy vrou Sonja het na Australië verhuis en woon in Perth. Ook hulle het twee kinders, Noa en Miika.
Op Bultfontein was Connie en Alta aktief betrokke by die Bultfontein-Oos Gemeente waar hy ook lank as diaken en later as ouderling gedien het. Mettertyd het die roeping om die evangelie te verkondig al duideliker geword en na deeglike gesinsgesprekke en baie gebed, besluit hy in 1987
om sy boerdery te verkoop en hom voltyds toe te lê op evangelisasiewerk saam met Dr Piet Cloete in diens van die Vrystaatse Sinode. Hulle vertrek na Bloemfontein en leef aanvanklik op ’n karige salaris wat hoofsaaklik bestaan uit die opbrengs uit die verkoop van sy plaas.
Hy skuif later oor na Arbeidsbediening waar hy vir baie jare lank met groot getrouheid werksplekke oor die stad heen besoek, bidure hou en oor kerk grense heen mooi pastorale verhoudinge met werkgewers en werknemers opgebou het. Saam met Ds Obie Oberholster het hy
veral ook by Transnet mooi werk gedoen. Hy het ook gereeld klein spoorwegstasietjies, met hulle afgesonderde gesinne, oral oor die Vrystaat heen besoek.
By die Sinodale kerkkantoor was hy baie geliefd onder sy kollegas. Hulle onthou sy nederigheid, sy toewyding, sy roepingsbewustheid en sy deernis. Hulle getuig verder soos volg oor hom:
“In hom het ons altyd hierdie diepgesetelde geloof, nederige diens, en volhardende geroepenheid gesien; ‘n vaste, volwasse geloof en gebalanseerde spiritualiteit, iets wat oor geslagte heen oorgedra is”.
Nadat Connie amptelik afgetree het, het van sy bedieningsareas daarop aangedring dat hy steeds voortgaan met dienste op Maandae en Donderdae. Dit het hy met dieselfde oorgawe gedoen as toe hy voltyds bedien het. Verder het hy ook nog saam met Ds De la Harpe le Roux, van Torings
van Hoop, getrou dienste gehou by verskillende werksplekke. Hy het ook na sy aftrede, vir ‘n ekstra inkomste, toesig gehou by die Sentrale Universiteit van Tegnologie tydens toetse en eksamens.
Connie was lief vir sport en hy was veral ook ’n gesinsman. Hy en sy vrou Alta was ‘n geliefde Oupa en Ouma vir hulle kleinkinders. Familiebyeenkomste was vir hom belangrik en die bywoon van sy kleinkinders se sport- en kultuuraktiwiteite ’n prioriteit.
Die afgelope klompie jare was Connie en Alta meelewende lidmate van die NG Kerk Langenhovenpark . Getrou aan sy aard het hy nie stilgesit nie maar op ‘n wye front betrokke geraak, onder andere as Kerkraadslid, met die hou van eredienste vir huiswerkers, as voorsitter
van die gemeente se Uitreikaksie en as deel van die bestuur van die Huis van Omgee Jeugsorgsentrum. Wie van ons sal ooit die besondere wyse vergeet waarop hy die Skriflesing tydens erediens gedoen het. Ons sal hom onthou as ‘n Godvresende, nederige man, wat graag die
belange van ander bo sy eie gestel het.
Connie het diep spore in diens van die koninkryk van God getrap. Ons eer sy nagedagtenis.
Soli Deo Gloria.