As ‘n mens na die opskrif hierbo kyk, verwag jy dat die “storie” wat gaan volg verlede jaar hierdie tyd begin het. Ek wil u egter so bietjie verder in die verlede terug neem.
Ek het besluit om aan die einde van 2016 met vervroegde pensioen uit die onderwys te treë. My vrou het dieselfde besluit geneem en ons het uitgesien om die “laaste hoofstuk” van ons lewe rustig saam deur te bring. Aan die begin van 2017 het ons die finale reëlings rondom mediese fonds, uitbetaling van pensioengeld ens. afgehandel. Gedurende die eerste week van die Aprilvakansie was ek vir die sesde jaar op ‘n gholftoer na die skilderagtige George-omgewing.
Toe ons vertrek het ek ‘n bietjie grieperig gevoel. Tydens die toer het ek maar so effens olik bly voel. Terug by die huis het ek al slegter begin slaap en my
energievlakke was maar laag. Ek het besluit om ‘n sielkundige te gaan spreek aangesien ek vermoed het ek was depressief omdat ek my aftrede nie lekker kon hanteer nie. Na twee besoeke is ek in Bloem Care opgeneem. Ek is na ‘n psigiater verwys en sy wou eers ‘n verslag van ‘n internis hê voordat daar op behandeling besluit sou word. Die middag van 24 Mei 2016 om 4 uur was ek by die internis. Sy het enkele vrae gevra en my toe begin ondersoek. Skaars het sy die stetoskoop op my borskas gedruk toe sy uitroep: “Jy is uitgebrand!”
Die internis het dadelik Medi Clinic gebel en my reguit Saal 4 toe gestuur. Daar is verdere toetse op my gedoen en van hier af kan ek nie veel onthou nie. Ek kan byvoorbeeld nie eers onthou dat hulle ‘n angiogram uitgevoer het nie! Ek is meegedeel dat ek ‘n aorta klepvervanging moes ondergaan. Gelukkig was daar geen ander vernouings van are of ander afwykings nie. Wat ek wel onthou, is dat van die dokters vir my gesê het hulle weet nie hoe ek die gholftoer oorleef het nie aangesien my hartfunksie slegs 19% was. Ek onthou ook dat ek voor die operasie Psalm 118 gelees het. Dit is hierdie Psalm wat ek ook aan my vrou en kinders “gegee” het toe hulle om my bed gestaan het voor my operasie. Die opskrif is: “Die Here doen magtige dade.” Ek het ook aan my seun, wat baie bekommerd was, gesê hy moet
rustig wees, Kersfees is ons weer almal saam.
Op 31 Mei is ek in teater toe vir ‘n operasie van ongeveer 5 uur. Aanvanklik het dit met my goed gegaan na die operasie en is ek van die ventilator afgehaal. Vyf dae later het ek egter ‘n ernstige terugslag gehad en is weer aan die ventilator gekoppel. Vier weke na die operasie het die CPE – virus my longe aangetas. Nou was dit regtig ‘n op-en-af stryd! Gedurende hierdie tydperk was ek swaar gesedeer, so veel so dat ek eintlik van niks en niemand om my geweet het nie. Wat ek wel kan onthou, is dat ek op hallusinasie togte was. Later sou ek ook van my vriende en oud-kollegas verneem dat hulle my in hierdie tyd “gegroet” het omdat hulle oortuig was ek sou nie die stryd wen nie. Dr Frieda Pienaar het ook in hierdie tyd vir my vrou en dogter nagmaal gehou. Na my vyfde week in die intensiewe sorgeenheid is die ventilator met ‘n trachea-insnyding vervang. Daarna het dit stelselmatig beter begin gaan met my.
Wat ek hierbo vertel het, is aan my oorvertel aangesien ek, soos reeds voorheen gesê het, eintlik niks daarvan kan onthou nie.
Na 8 weke is ek uiteindelik uit die intensiewe eenheid oorgeplaas na ‘n algemene saal toe. Wat lees ‘n mens dan eerste? Psalm 23!!! Wat ek gedurende my
“dwalinge “wel onthou, is dat ek op ’n keer in die donkerste plek denkbaar was, donkerder as die donker gat in die kasteel in Kaapstad. Ek wil nie dweep nie, maar wonder onwillekeurig of dit nie dalk die “dal van doodskaduwee” was nie…
Vier dae later is ek na Hillandale-rehabilitasie sentrum oorgeplaas. By my aankoms daar is ek dadelik deur die arbeids- en fisioterapeute ge-evalueer. Ek
was fisies te swak om te loop en hulle moes my ondersteun. Ek het net 62- kilogram geweeg. En dit vir iemand van 1,9 meter (so 6 voet 3 duim)!
Op die tweede dag het ek met ‘n loopraam begin loop, maar dit gou vir ‘n kierie verruil. My herstel het nou “spoed gevat” en na 3 weke daar kon ek huis toe gaan!!!
Tydens my tyd in Hillandale het ek Psalm 118 aan ‘n ou skoolvriend wat teen kanker geveg het gestuur. Hy stuur toe vir my Ps 18 terug. Ek haal graag met die grootste dankbaarheid vers 17 aan:
Van bo af het Hy sy hand uitgestrek
en my gegryp,
my uit die geweldige waters uit gelig.
Dit is wat God waarlik vir my gedoen het!!!
My kardioloog het met my eerste opvolgbesoek na my gewys en vir die ontvangsdames gesê, “Kyk, daar staan ‘n wonderwerk.” Tydens ‘n helder oomblik
in die hospitaal het my internis dieselfde woorde teenoor ‘n groepie dokters en verpleegpersoneel geuiter. Sonder om te dink het ek beide geantwoord, “Nee, ons is almal wonderwerke. God het net nog ‘n wonderwerk deur my gedoen.” En … ons gesin was Kersfees saam!!!
Terug in die hede. Op 1 Maart was ek weer by die kardioloog. My hartspier het herstel en my hartfunksies is normaal. Hy wil my nou slegs een maal per jaar sien. Ek het weer die gholftoer meegemaak! Vyf rondtes na mekaar gespeel! Die eerste week in Mei het my broer my en my vrou bederf met ‘n vakansie in die Drakensberge. Die eerste oggend toe ek uitkyk oor die prag en majesteit van die berge en my Bybel oopmaak, val dit oop by Psalm 111.
“Met my hele hart
wil ek die Here loof
in die samekoms van die opregtes
in die gemeente.
Die werke van die Here is groot,
almal wat daarin vreugde vind,
dink daaroor na.
Sy dade is vol majesteit en luister,
Sy trou staan vir altyd vas.” (1-3)
Na my siekte was ek verbaas hoe baie gebedsgroepe, vriende en kennisse vir my gebid het en ek het besef dat die gelowige se gebed inderdaad BAIE krag het. Is al hierdie gebeure en skrifgedeeltes wat na my toe gekom bloot toeval? Party mense mag dalk so dink … Maar ek weet, God is groot en niks, maar NIKS gebeur buite sy raadsplan nie!
My vrou, Elise, was onbeskryflik sterk gedurende my siekte. Sy was, en is, ‘n ware voorbeeld van iemand wat haar vertroue in God stel. Dankie aan haar, my kinders, broers en suster, ander familie en vriende. Dankie dominee Riaan vir jou besoeke en gebede. Julle gebede het my gedra. Dankie aan al die verpleegsters, administratiewe personeel, terapeute, skoonmakers en kombuispersoneel vir julle aandeel in my herstel. Dankie aan al die dokters wat gespook het om my deur te trek. Julle doen wonderlike werk en wend die talente wat God julle gegee het aan om lyding te verlig en siekte te help genees. Maar aan die einde moet ek sê,
Dankie Here, U het stempel geplaas op almal se bydraes, nie om my ‘n tweede kans te gee nie, maar om my elke dag ‘n nuwe kans te gee.
Soli Deo Gloria
Koos Cronjé