My storie begin op 4 Mei 1942 toe die dokter in Williston se hospitaal vir my pa gesê het: “Geluk, dis ’n dogter!” Na my was daar nog twee boeties, Albert en Kobus en vier jaar na Kobus twee sussies – Marietjie en Christa.
My eerste dertien grootwordjare was gelukkig, ongekompliseerd en my dae gevul met spel en avonture op ons Karooplaas tussen Williston en Brandvlei saam met my twee boeties; van veld toe gaan saam met Pa agterop die bakkie met die wind deur my hare en koekies bak en huiswerk doen saam met ma. My ma was ’n onderwyseres en het my tot in standerd twee (graad 4) tuis geleer. My pa koop later ’n groter plaas naby Touwsrivier en ons verhuis in 1955 daarheen. Net ses maande daarna kry hy sy eerste hartaanval.
My ma se broer, oom Eli, wat teologie op Stellenbosch gestudeer het, was my held. Hy wou ’n sendeling word en my droom was om ook eendag ’n sendeling te wees. Nie ’n dominee soos hy nie, want meisies word nie dominees nie. Hulle word onderwyseresse wat die kinders van die sendelinge leer en die “heidenkindertjies” van liewe Jesus vertel. Oom Eli is na sy bevestiging as predikant met tannie Millie de Villiers getroud en met hulle volgende vakansiebesoek het sy vertel hoedat sy naaldwerkklasse aanbied vir die jong swart vroue op Morgenster. Dit, het ek by myself gedink, sal ek mos ook eendag kan doen.
Teen die einde van standerd 8 (graad 10), moes ons ’n vakkeuse doen tussen Naaldwerk en Wiskunde. Dit het beteken dat ek ernstig moes besin oor my toekomsplanne. Onderwys was reeds vir my ’n gegewe en ek het veral uitgeblink in Wiskunde. Maar wat nou van my droom van sendingveld toe gaan? Ek sal mos meer werd wees daar as ek Naaldwerk neem! EK moes hierdie besluit op my eie neem, want my ouers was vêr op die plaas en ek in die koshuis op die dorp. Die aand voordat ons vir ons klasonderwyser ons keuse moes gee, het ek in groot benoudheid en kinderlike onskuld vir die Here gevra om vir my ’n antwoord uit die Woord te gee. Moes ek eendag hier in die Suide bly of na Rhodesië in die noorde gaan? Na ligte-uit het ek nog nie ’n antwoord gehad nie. EK het saggies opgestaan en na die badkamer gegaan, op die toiletsitplek stelling ingeneem en biddend my Bybel oopgemaak. En die Here wat die hart van ’n kind ken, het my geantwoord uit Esegiël 20:46-47:
Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, rig jou aangesig na die suide en laat jou rede druppel teen die suide en profeteer teen die bosveld, die Suidland, en sê aan die bos van die Suidland: Hoor die woord van die HERE: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek steek ‘n vuur in jou aan wat in jou elke groen boom en elke droë boom sal verteer; die uitslaande vlam sal nie uitgeblus word nie, maar daardeur sal alle aangesigte verbrand word van die Suidland af tot die noorde toe.
Ek het die volgende dag my regmerkie langs WISKUNDE gemaak en heelwat later (einde 1962) ’n B.Sc.-graad met Wiskunde as hoofvak, by Maties verwerf.
Gedurende my matriekjaar sterf my pa en my ma word agtergelaat met vyf kinders van wie die jongste slegs vyf jaar oud was. Welmenende vriende en bure raai my aan om liewer te gaan werk en van universiteit te vergeet, om my ma te help om die pot aan die kook te hou. My dapper, gelowige ma hou egter voet by stuk dat ek moet gaan studeer. Sy kry uiteindelik ’n onderwyspos op Sutherland en ek kan met ’n onderwysbeurs en ’n merietebeurs Stellenbosch toe gaan. Daar het die CSV ’n groot rol in my geestelike vorming gespeel en ek was van die begin af betrokke by Sending aktiwiteite op die kampus.
My fokus as onderwyser was om kinders se lewens te vorm en hulle betrokke te maak by die Koninkryk van God. EK beland na een jaar by die Hoër Meisieskool op Worcester, twee jaar op Sutherland en nog twee jaar op Grabouw, uiteindelik by Hoërskool Pearson in Port Elizabeth. ’n Hoogtepunt van hierdie tyd in my onderwysloopbaan was toe ek saam met die tieners van Pearson die Jeug-tot-Jeug aksie onder leiding van ds. Mike Smuts (Sr) kon meemaak. Dit was ’n tyd van geestelike vernuwing onder die jeug, wat vir my skool en ook vir myself groot seën ingehou het. Toe die ACSV1 my dus in 1976 nader om voltyds betrokke te wees by die geestelike vorming van tieners, was die aanvaarding daarvan vir my ’n logiese keuse. Dit was ’n heerlike voorreg om kinders te begelei op hulle geloofspad, te luister na tienervrae en probleme en waar moontlik raad te gee. Dis ook in hierdie tyd dat die droom om teologie te bestudeer begin vorm aanneem het en ek het ingeskryf vir Grieks, Hebreeus en Bybelkunde.
Ek is op 23 Desember 1980 getroud met Justus Meyer en ons is geseën met twee seuns, Justus en Du Toit. Van die teologiese studies het toe niks verder gekom nie, want ek was byna dadelik swanger met ons oudste. Na net sewe gelukkige huweliksjare, sterf Justus en ek bly agter met my twee kinders. In hierdie tyd van enkelouer wees, was my ma vir my ’n ware steunpilaar, veral toe ek weer moes gaan onderwys gee. In hierdie tyd het die woorde van Ps.68:6 ook vir my besondere betekenis gekry: “n Vader van die wese en ‘n regter van die weduwees is God in sy heilige woning”. Dit was moeilike jare, eensame jare, waarin ek soms selfs verwerping ervaar het en aan myself begin twyfel het. Tog was die Here so getrou en Hy het telkens vir my mense gestuur wat omgegee het.
In 1991 het die Kaapse Onderwysdepartement ’n nuwe Bybelonderrig-kurrikulum implementeer en ek was saam met ’n aantal ander onderwysers betrokke by die uitwerk van lesplanne vir skole. Ek wou graag hierdie implementering evalueer en het aansoek gedoen om dit as ’n M.Ed. aan te pak. Dit het gelei tot ’n doktoraat in Didaktiek met as onderwerp “’n Formatiewe en summatiewe evaluering van die implementering van ’n Bybelonderrig-kurrikulum van die Kaapse Onderwysdepartement”.
Na my aftrede by Hoërskool Nico Malan (Humansdorp), gaan werk ek vir ’n jaar by BBI, ’n Bybelkollege op Barberton. Dit het die belangstelling in teologie verder geprikkel. Hierna gaan werk ek vir vyf jaar by CVO Skool Dankbaar in Bloemfontein en tree in 2012 vir die tweede maal af. Dit was
1 Afrikaanse Christen-Studentevereniging
eers na hierdie aftrede dat ek besluit het dat ek nou mag doen wat vir my lekker is en waarin ek waarlik vervulling kan vind. Ek skryf toe in Januarie 2013 in vir so ’n paar teologiese vakke by die Vrystaatse Universiteit en ek besef na ’n paar maande dat ek die volle B.Th.-kursus wil voltooi. Ses heerlike jare het gevolg waarin ek my kon verdiep in die Skrif en veral die Nuwe Testament waarin ek vir my M.Div. gespesialiseer het. Soos my studies gevorder het, het die besef van geroepenheid vir die bediening sterker geword. Dit was nie net meer ’n verrykende akademiese ervaring nie, maar ’n opdrag van Bo. EK is baie dankbaar dat, ten spyte van die feit dat ek reeds verby die aftree ouderdom van leraars in die NG Kerk is, ek tog 28 November 2018 gelegitimeer kon word.
En hier is ek nou in Langenhovenpark gemeente, saam met wonderlike mense, besig om te dien, te preek en ander te ondersteun, in gehoorsaamheid aan Hom wat my hiervoor geroep het en deur baie jare heen, stap vir stap gelei het . Dit is vir my ’n ongelooflike voorreg! Aan Hom al die eer!