Oesnuus
   Julie 2020

“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”  – Handelinge 1:8 –

In die vorige Oesnuus was daar verskeie getuienisse van sendelinge wat vertel het hoedat hulle die Covid-19 pandemie en die gepaardgaande inperkings ervaar, en hoe dit hulle bedienings raak.  Die situasie het hier en daar verander en ons deel graag in hierdie uitgawe nuus daaroor. Dit is egter duidelik dat die Koninkrykswerk op verskeie plekke voortgaan en dat selfs nie Coronavirus nie die werk van die Heilige Gees kan stuit nie.

DEGNOS (Diens en Getuienis Noord-Oostelike Streek) in Namibië
DEGNOS is verantwoordelik vir die opleiding en begeleiding van San-leraars in Namibië.  Ons gemeente is veral betrokke by Wildevy, een van die gemeentes wat deur DEGNOS begelei word en wat tans bedien word deur twee inheemse leraars, di. Regina Nauses en Josef Gevers (Foto links). 

Die Algemene Jaarvergadering van DEGNOS het vanjaar op 20 Junie plaasgevind deur middel van Zoom.  Gewoonlik gaan ondersteuners van DEGNOS gedurende die Junie vakansie na Grootfontein vir uitreike, die vergadering en ’n lekker Namibiese vakansie.  Dit was weens die inperking vanjaar natuurlik nie moontlik nie. 

As gevolg van die heengaan van Ds. Hendrik van Zyl, moes ’n nuwe bestuurder vir DEGNOS aangestel word. Die aanstelling van Dr. Andries Gous as bestuurder is tydens die vergadering bekragtig.  Ds. Van Zyl se weduwee, Elize, wat die kantooradministrasie behartig het, het reeds vertrek na haar aftree-bestemming. Die persoon wat van nou af vir ons nuus uit Namibië gaan aanstuur, is Rita Haccou.

Uit die bespreking op die vergadering het dit duidelik geword dat ten spyte van die inperking wat sy besondere eise aan die bediening stel, die groot afstande en baie invloede wat mense van die ware evangelie wil wegtrek, soos onder meer voorspoed-teoloë en Afrika-godsdienste, die kerk in Namibië tog groei.  Daar is tans ’n groot tekort aan leraars.  Dit is verder ook so dat hierdie jong inheemse leraars baie leiding nodig het en dat daar ’n swaar las, finansieel, geestelik en emosioneel, op die begeleiers by DEGNOS rus. Kom ons bid dat hulle ook finansieel in staat sal wees om voort te gaan met die groot werk.

ENGO-nuus: Dakvenster van hoop vir ons kinders  (Huis van Omgee)
 Hierdie Jeugsorg sentrum reg agter die  Bainsvlei kliniek is vir die afgelope klompie jare ‘n ware baken van lig vir sy inwonertjies. Maar, die gebou is nie meer in so ‘n goeie toestand nie en het gereelde instandhouding geverg. Daar was min vensters en meeste van die kamers was donker en depressief. Die droom was om ‘n dakvenster in te sit om die huis te verlig.

Op ‘n ander plek in Bloemfontein was daar nog ‘n gebou, vervalle, met baie probleme. Tog het Engo se bestuur nie moed opgegee nie en bly glo en dit is hier waar die dinge toe bymekaar kom. Een sentrum is gesluit en skielik was daar weer hoop vir ‘n nuwe blyplek vir die kinders. Planne is opgetrek en in Januarie 2020 het die bouery begin.

Hierdie maand het Engo se House of Compassion, Ntlo ya Tsotello,  Huis van Omgee se kinders hul ‘sin van behoort’ ontvang, deur na hulle nuwe huis te trek. Die planne en visie wat God in gedagte gehad het vir hierdie Sentrum was baie groter as wat enige iemand kon dink. 

Nou, ná sewe jaar, het hulle nie net hulle pragtige nuwe Jeugsorg sentrum gekry nie, maar een met ‘n dakvenster waar daar nou baie lig en lag is.

Engo bedank almal wat van hierdie projek ‘n wonderlike sukses gemaak het… wat ewige hoop gebring  het!  (Oorgeneem uit Vrypos 4 Junie)

Kgalagadi Botswana: Ds. TC Du Toit
Die volgende gebedsversoeke is die afgelope week van ds.  TC Du Toit in Botswana ontvang en ons plaas dit onveranderd.

Ons is dankbaar vir die Here se genade dat Botswana tot op datum Covid-19 suksesvol ‘bestuur’. Van ‘n totaal van 53 positiewe pasiënte tot op datum het 29 reeds herstel. Net 1 sterfte word aan C-19 toegeskryf. In ons Kgalagadi-streek was daar nog geen gevalle nie. 

Bid asseblief:

  • dat ons lidmate die omvang en impak van Covid-19 sal begryp en met die nodige omsigtigheid sal optree.
  • dat die Here, deur die ontwrigting en onsekerheid in hierdie tyd, harte en lewens sal aanraak om hul vrede, verlossing en groei in Hom te vind.
  • dat die hervatting van ons vier “Early Childhood Development” speelgroepe (DV in Augustus) goed sal verloop en die kindertjies, wat in 2021 moet aanskuif na Graad R, nog sal baat by die res van vanjaar se klassies.
  • vir seën op ons eredienste. Verskeie gesinne is nog versigtig om terug te keer na die eredienste.
  • Dat ek en Linda fisies gesond sal bly. (Ons mediese fonds dek nie mediese kostes in Botswana aangegaan nie. Alle aanduidings is dat Botswana haar grensposte geslote sal hou, totdat die Covid-19 situasie in Suid-Afrika heeltemal bestendig het, volgens aanduidings minstens tot November.)
  • Vir groot uitdagings wat oorkom moet word om ons kroniese medikasie gereeld (met gesukkel) vanuit SA te ontvang.

Wees ook verseker van ons voorbidding vir u as gemeente.  

Vriendelike groete, ds. TC en Linda du Toit.

Brother Sam (Indië)
In sy onlangse brief stuur Brother Sam liefdegroete aan ons as gemeente en bid vir ons veiligheid te midde van die Covid-19 pandemie. Hy vra ook ons voorbidding vir sy vrou Jesy, wat tans probleme ondervind. 

Sy brief is eintlik ’n kort verslag oor die totale bediening in Indië en omliggende lande gedurende dié tyd. Hy bedank ons ook vir ons volgehoue finansiële bydrae vir hulle werk.

Hy getuig veral oor die Here se sorg sedert die inperking in Maart. Die kerke, skole, Bybel kolleges, sending kantore is alles is gesluit en niks funksioneer regtig nie. Mense skarrel rond om geld te verdien vir kos op die tafel. Brother Sam se bedieninge kon egter op verskillende terreine hulp verleen.  Die Here het hulle  gehelp om ’n groot aantal gesinne by te staan met kos, klere en ander noodsaaklike lewensmiddele. 

Hulle kon ook ondersteuning verleen en spesiale geskenke stuur aan hulle “Mission Centres” vir die gebruik van die sendelinge en hulle gelowige lidmate.  Hierdie mense wou na hulle tuislande terugkeer as gevolg van die probleme met die Corona-inperking. Danksy hierdie ondersteuning kon hulle egter voortgaan met die goeie werk. Hulle het ons gebede en aanmoediging nou baie nodig.  

Die kerk geboue in Indië en die omliggende lande moet ook gesluit bly soos by ons. Hulle het wel probeer om persoonlik by indiwiduele gemeentelede uit te kom, maar dit is ook nie toegelaat nie. Aanlyn-eredienste was dus die enigste uitweg. Hulle ontvang goeie terugvoering daaroor en dit blyk werklik geseënd te wees. 

Hulle gebruik tans hulle selfone om video’s van die aanlyn-eredienste op te neem. Om ’n beter kwaliteit te verseker en dit ook wyer aan te bied, benodig hulle ’n goeie videokamera en bid dat die Here daarin sal voorsien.  Die virus-inperking sal nog vir ’n hele tyd lank verhoed dat eredienste in die kerkgebou moontlik sal wees.  Die situasie is trouens besig om te vererger in Chennai waar hulle woon.  Verder bereik die aanlyn-dienste ’n groot groep mense wat in elk geval nie kerk toe gaan nie. 

Brother Sam se bediening sluit drie Bybelkolleges met 50 studente in.  Hierdie studente is teruggestuur na hulle tuistes en sal eers weer terugkom wanneer die inperking opgehef is. Die gradeplegtigheid wat vir Junie geskeduleer was, is ook uitgestel Die korrespondensiekursusse verloop egter glad. Hy meld ook: “Our staff workers expect financial support from us during this lock down period.”

Die maandelikse nuusbrief, Echo of His Call,  word in 16 tale wêreldwyd versprei. Dit kon nie in April en Mei gebeur nie, maar daar is weer in Junie ’n nuusbrief uitgestuur per landpos en epos.  

As gevolg van die inperking het die drukpers nou vir ’n paar maande nie gewerk nie en as gevolg daarvan het dele van die masjien beskadig geraak.  Spesialiste sal dit moet kom herstel. 

Die private dorpskool “St. Paul’s Matriculation School”, wat deel is van Sam se bediening, funksioneer ook nog nie as gevolg van die Corona-virus inperkings.  Ook hier word tans aanlyn-onderrig aan die leerlinge voorsien. Alhoewel die onderrig gratis aan leerlinge voorsien word, moet die onderwysers se salarisse steeds betaal word. Hulle vra ons voorbidding dat die Here die fondse sal voorsien. 

Slegs ’n beperkte aantal personeellede is in hulle administratiewe kantoor aan diens om noodsaaklike dienste te verrig. Dit sluit in die stuur van verslae aan die regering en die betaling van salarisse, belasting en rekeninge. Ook daarvoor is getroue en gereelde voorbidding noodsaaklik.

Hierdie is inderdaad ’n nuwe, vreemde tyd vir die globale kerk en vir ons almal.  Vir sendelinge en gestuurdes op die voorposte, besig met die verkondiging van die evangelie, is dit ’n ekstra groot uitdaging.  Onthou hulle asseblief in jou gebede!