Oesnuus
   Maart 2020

“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” – Handelinge 1:8 –

Geopende deure
Bid vir Leah Sharibu van Nigerië
Pastor Gideon, ’n Nigeriese leraar, berig oor die ontvoering van Leah Sharibu en haar medeleerlinge twee jaar gelede uit hulle skool in Dapchi, Borno Staat, Nigerië, deur Boko Haram. Al die meisies is ’n maand later vrygelaat, (behalwe vyf wat gedurende die ontvoering gesterf het}, maar die sestienjarige Leah bly in aanhouding omdat sy weier om Christus te verloën en haar geloof prys te gee. Al wat Leah se ouers begeer, is om weer met haar verenig te wees. Honderde jong meisies en vroue in Nigerië is reeds ontvoer.  Selfs jong seuns word gevang en gedwing om vir militante in die naam van Islam te veg. Pastor Gideon vra dat die wêreld sal kennis neem van hierdie misdaad teen die mensdom.  

Pakistan
Pakistan het ’n sterk Islamitiese samelewing. Radikale Islamitiese groepe oefen al meer invloed uit en politieke partye, die weermag en regering probeer om hulle guns te wen. Christene is die teikens van gewelddadige aanvalle deur ekstremiste en word oor die algemeen as “onrein” behandel.

Somalië
Altesaam 99% van Somalië, wat in die Horing van Afrika is, se inwoners is Moslems. Godsdienstige minderhede word swaar vervolg. Islam is dus ’n belangrike aspek van Somaliërs se identiteit. Wanneer ’n Somaliër besluit om Islam te verlaat en Jesus te volg, word dit as geweldige verraad gesien. 

Hierdie is maar drie voorbeelde van die geweldige vervolging wat ons broers en susters in Moslemlande moet deurmaak.  Ons bydrae aan Geopende Deure help om die las van hierdie Christene ligter te maak, deur hulle te bemagtig met Skrifkennis en begrip, van Bybels en geestelike leesstof te voorsien en ook op praktiese gebied te help met kos, slaapplek en die skep van geleenthede tot entrepreneurskap.  Hulle het veral ook ons gebede nodig.  Ons moenie ophou om vir hulle te bid nie.

Slowakye: Pierre en Lisa van Vuuren
Jeugwerk
Verskeie jongmense van Hlinné het die maandelikse Opál Camp Foundations of the Faith kursus bygewoon om leiersvaardighede te ontwikkel. Die jongmense geniet dit baie om deel te wees van die kursus. 

Verder lei hulle Slowaakse pastor se vrou, Renata, twee jeuggroepe – ’n jonger en ’n ouer groep. Baie van die jongmense kom nou kerk toe, veral vandat sommige van die jongmense begin het om die lofprysing en aanbidding in die eredienste te lei. 

Een van hulle lidmate, Erna, het ’n Kersprogram gereël vir die jongmense en kinders in Hlinné en  in Hermanovce. Die kinders het heerlik saamgesing, gedigte voorgedra en ’n Kersverhaal, Die Skoendoos, opgevoer.  Pierre het ’n Kersboodskap gebring en aan die einde het almal Stille Nag in Romani gesing. Elkeen van die 74 kinders wat die geleentheid bygewoon het, is huis toe gestuur met  ’n geskenksakkie met ’n lekkergoed en ’n traktaatjie. 

Samuel was tuis vir die Kersvakansie en het gehelp met Sondagskoollesse en ook meegedoen aan die oefensessies vir die lofprysing in die gemeente saam met die jeugleiers. 

Bybelskool
Hulle het in September verlede jaar begin met ’n maandelikse Bybelskool (wat oor drie jaar sal strek) om Roma leiers toe te rus vir hulle taak in die gemeentes. Deelnemers kan ’n sertifikaat verwerf na suksesvolle voltooiing van die kursus. Op die foto verskyn ’n groep wat die Bybelskool bywoon tydens ’n lesing.

Dank en gebedsversoeke

  • Prys die Here daarvoor dat Hy sy kerk bou tussen die Roma. Bid asseblief vir die ontwikkeling van volwasse Roma leierskap. 
  • Prys die Here vir die OT vertalingsprojek se borgskap deur die Seed Company. Bid asseblief dat die vertalers steeds deur die Heilige Gees gelei sal word en die vertaling sal doen met literêre vaardigheid en akkuraatheid. 
  • Dank die Here vir die goeie leierskap van hulle senior leraar Peter Prištak  en sy vrou, Renata. Hy het egter nou ’n beroep aanvaar na Michalovce. Bid dat die Here iemand in sy plek sal stuur wat sy goeie werk in die gemeente kan voortsit.  
  • Bid ook vir hulle as gesin, vir leiding in verband met hulle toekoms en vir hulle kinders – Samuel wat in Duitsland op skool is en Elise wat op universiteit is.

Kgkaladi Botswana: Ds. TC du Toit
VKO Speelgroepies:
Die Vroeë Kinderontwikkeling-speelgroepies in die gemeenskappe van Bokspits, Struizendam, Rappelspan en Vaalhoek, waarmee hulle meer as 5 jaar gelede begin het, maak ’n verskil in die  ontwikkeling van kindertjies in die ouderdomsgroep van drie tot vier en ‘n half jaar oud. Dít is die getuienis wat herhaaldelik ontvang word van die vier laerskole in die gemeenskappe. Die projek is egter nog nie gelisensieer nie en die Botswana-regering is dus tans nog nie formeel/finansieel betrokke VKO speelgroepies/skooltjies nie. Daar is egter reeds ’n samewerkingsooreenkoms gesluit wat die kerk ’n volwaardige vennoot maak om oplossings te vind.  Sedert begin van 2018 is daar ook reeds dames opgelei wat sertifikate in vroeë kinderontwikkeling kon verwerf.  Drie donasies uit plaaslike regeringsbronne die afgelope 14 maande en ’n donasie van die Botswana weermag se blaasorkes van R33750, het dit moontlik gemaak om die huise op te gradeer en aan te pas.

Hulle vra ons voorbidding vir die volgende sake: 

  • Die toewyding van ons personeel aan die werk wat hulle doen; 
  • Finansies om aan verskeie personeellede wat tans sonder enige noemenswaardige vergoeding werk, ‘n honorarium te kan gee;
  • Die intense behoefte wat bestaan aan iemand wat, met ‘n eie ondersteuningsbasis, bereid is om in die Boravast-area te woon en as begeleier van die personeel op te tree;
  • dat die lisensiëringsproses spoedig en suksesvol afgehandel mag word. 

Vloerteëls Tsabong-kerkgebou:
Die ruim skenking uit die boedel van ‘n lidmaat van NGK-LHP, wat Dr Riaan en Gesina verlede jaar in Junie aan hulle oorhandig het as bydrae tot vloerteëls vir hulle kerkgebou op Tsabong, is verlede week oorbetaal aan ‘n maatskappy in Johannesburg. Die (industriële PVC) vloerteëls is reeds vervaardig volgens  voorskrif en wag om afgehaal te word. Dit blyk ook dat daar nou ‘n sterk moontlikheid is dat iemand dit (1,8 ton teëls) vir ons na Tsabong kosteloos sal vervoer. Hulle is baie dankbaar vir ons gemeente se ondersteuning en voorbidding.

Degnos: Ds Hendrik van Zyl oorlede
Dit is met leedwese wat ons verneem het dat Ds Hendrik van Zyl oorlede is. Ons eer sy nagedagtenis en die formidabele rol wat hy en sy eggenote Elize, in hierdie bediening gespeel het. Hulle onbaatsugtige en opofferende dienswerk sal ons altyd bybly. Dankie ook vir die gasvryheid waarmee ons altyd by hulle ontvang is. In hierdie hartseer tyd vra ons voorbidding  vir ‘n groot aantal mense wat deur sy dood geraak word, onder andere sy vrou Elize, hulle kinders, die DEGNOS personeel, studente en jong dominees wat deur hom ge mentor is, asook die talle lidmate wat oor die jare heen deur hulle bedien is. SDG!