Oesnuus
Mei 2019  

“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”  – Handelinge 1:8 –

Bloem Shelter

Die nuus van Izak Botes se siekte en heengaan was vir ons almal ’n skok.  Ons harte gaan uit na sy gesin en ook al sy “kinders” wat in Bloem Shelter skuiling en nuwe hoop gevind het. As stigter van hierdie bastion vir hawelose mense met geen ander uitkoms nie, het hy diep spore  in Bloemfontein getrap. Ons eer sy nagedagtenis. 

Die vraag wat tans op almal se lippe is, is: “Wat nou van Bloem Shelter?”  

Want Bloem Shelter en Izak was vir soveel jare sinoniem! Volgens mnr. Daan Nortier, hoof van die beheerliggaam, funksioneer Bloem Shelter egter steeds soos toe wyle Izak nog aan die stuur was. Daar is egter aanpassings nodig, waarvan die eerste die vind en aanstelling is van ‘n persoon om die pos te vul.   Daar is ook wesenlike besluite oor veral die manne-huis nodig. Die tussentydse bestuur van die mans is tydelik deur die manne van die Kairos gemeente oorgeneem waarvan Izak lidmaat was, maar die beheerliggaam is in gesprek met twee ander instansies om die manne se afdeling van ‘n nuwe, meer werkbare struktuur te voorsien.  Die hoofdoel van Bloem Shelter is om die mense wat haweloos is te herberg, maar óók om hulle op te lei tot ‘n vlak dat hulle selfversorgend kan word. Die manne is veel meer veeleisend as die vroue en dit verg besondere wysheid en insig om hulle te benader. Dis in wese die gesprek waarmee die beheerliggaam nou besig is.

Hulle grootste nood is egter nou kontantvloei, aangesien daar ongelukkig baie twyfel is oor die stand van sake weens Izak se afsterwe. Die beheerraad is verbind om hierdie probleem te oorkom, aangesien Bloem Shelter stellig Bloemfontein se vernaamste rolspeler is om haweloses ‘n heenkome en toekoms te bied. Hulle maak staat op die hulp en ondersteuning van die groter gemeenskap.

Hendrik en Elize van Zyl (DEGNOS)

Dit gaan tans beter met Hendrik se gesondheid na die laaste behandeling vir die karsinoom.  Sy eetlus is terug en hy het meer energie.  

Oor die bedrywighede van DEGNOS berig hulle soos volg:

Ds Lucas wat geestelike opleiding in die Wes-Caprivi gedoen het, berig dat daar ’n sterk neiging is om terug te trek na die Afrika-geloof weens die invloed van die hoofman, Mbambo. Hy probeer werklik om die Christen-godsdiens uit te werk. Daar is egter sterk leiers in die groep waarmee Lucas besig is en hy hoop om deur hulle versoening te bewerk. 

Die predikante wat die Voortgesette Teologiese opleiding verlede jaar in Oktober bygewoon het, het ook getuig van sinkretisme wat sterk na vore kom onder gelowiges, veral as gevolg van die Zionistekerk se invloed op Tsumkwe. Daar is egter mense wat die Waarheid soek en saamloop met Christus alleen.

Op Mangettieduin werk ds Isaac en die AGS saam rondom huisbesoek en bidure en op Omatako is ‘n interkerklike biduur gevestig o.l.v ds Jafet. Mense van ander kerke wat nie leiers daar het nie, kom woon sy dienste by. Hulle besef dat dit nie om die NGKerk gaan nie, maar om God. Deur Jesus Christus is ons een. Ongelukkig sukkel hy om die skool sover te kry dat die koshuiskinders die kategese mag bywoon. 

By almal van Boesmanland was die drankvergrype nadat mense teruggekeer het van die kamaku (duiwelsklou)grawery en uitbetaal is, ‘n groot bron van kommer. 

Rosa Nortje is terug by haar huis in Bloemfontein. Sy het ‘n groot werk in die kleuterskole verrig  in gehoorsaamheid aan die Vader en onder leiding van die Heilige Gees.  Hulle kon egter nog nie ‘n plaasvervanger kry vir haar kry nie. 

Hulle vra ons voorbidding vir elke gelowige in hulle bedieningsarea vir geestelike groei en vir die gawe van onderskeiding om Sy Woord suiwer te hoor en te gehoorsaam; dat daar nog geestelike leiers na vore sal kom sodat hulle die jong predikante kan bystaan in die werk.

Portugal (Gerrie en Arlene Coetzee)

Gerrie en Arlene se sendingwerksaamhede in Portugal het aan die einde van April 2019 ten einde gekom.  As gevolg van finansiële en ander probleme van die moederkerk in Lisabon, (soos onder meer die feit dat hulle die kerk waaruit hulle bedien het moes ontruim weens die onteiening van die gebou), is hulle gedwing om hulle posisie in Portugal  in heroënskou te neem en duidelike leiding van die Here te vra oor die toekoms. Hulle is nou vanaf 1 Mei by SAAWE (Suid Afrikaanse Aksie vir Wêreldevangelisasie) in Kempton Park betrokke, waar hulle sal werk as heeltydse sendingmobiliseerders. 

Hulle spesifieke taak daar sal behels dat hulle met plaaslike kerke sal skakel om individue te mobiliseer om by aksies betrokke te raak wat dit ten doel het om huidige onbereikte en ongeëvangeliseerde  groepe met die Evangelie te bereik. Verder sal hulle  betrokke wees by die fasilitering van besoeke aan sulke groepe, die maak van dissipels en die opleiding en toerusting van individue en gemeentes vir die grootse taak.

 Hulle bly dus direk betrokke by wêreldsending en verander slegs van standplaas en maak steeds staat op ons almal se voorbidding.

Bible cor India  (brother Sam selva raj)

Pastor Sam is baie dankbaar vir ons ondersteuning van sy werk en vra dan ook ons voorbidding vir die duisende eksemplare van sy nuusbrief , “Echo of his call” , wat dwarsoor die wêreld in verskeie tale elektronies en ook as harde kopieë uitgestuur word.  Hy vra ook dat ons sal bid vir die Bybelstudiekursusse wat hulle aanbied en vir hulle Christen-Hoërskool waar kinders nie net boekekennis geleer word nie, maar ook toegerus word om self die Evangelie uit te dra.

Hulle vier op 9 Augustus vanjaar die halfeeufees van Bible Cor India en ons het reeds besluit om aan hulle ’n verjaardaggeskenk van R2000 uit ons gemeente te stuur.

 

Geopende deure 

Noord-Korea is weereens gelys as die mees onderdrukkende plek in die wêreld vir Christene, #1 op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys. In hierdie totalitêre Kommunistiese Staat, word Christene gedwing om hul geloof heeltemal weg te steek van die regeringsowerhede, bure en dikwels ook van hul eie eggenote en kinders.

Aanbidding van die regerende Kim-familie is verpligtend vir alle burgers, en die wat weier (insluitende Christene) word gearresteer, in die tronk gegooi, gemartel of selfs doodgemaak. Hele Christen-families word opgesluit in arbeidskampe, waar onbekende getalle elke jaar sterf van marteling, loesings, uitputting en verhongering. Die wat poog om na Suid-Korea via China te vlug waag teregstelling of lewenslange tronkstraf, en die wat agterbly vaar selde beter.

Sonder die ondersteuning van Geopende Deure sal baie Christene fisies van die honger sterf. Geopende Deure dien Christene in Noord-Korea deur hulle te voorsien van noodleniging wat kos, medisyne en klere, asook Bybels, boeke en ander dissipelskapsmateriaal insluit. 

In hierdie land van ons, waar ons te midde van baie probleme tog nog vry kan aanbid en getuig, vergeet ons dikwels dat daar daagliks mense sterf omdat hulle glo dat Jesus die Here is.  Kom ons bid vir hulle!

Pierre van Vuuren in Slowakye 

Pierre werk in Slowakye in diens van Woord vir die Wêreld en is voltyds besig met die vertaling van die Bybel in Romani, die spreektaal van die Sigeuners in Slowakye.  Die vertalingswerk word geborg deur The Seed Company,  ’n vereniging wat hulle wêreldwyd beywer vir Bybelvertaling. Hy kon onlangs ’n twee week lange vertalings-kursus in Jerusalem bywoon, wat deur die Jerusalem Centre for Bible Translators  aangebied is.  Dit was vir hom ’n sielsverrykende ervaring en hy het baie geleer. 

Die Nuwe Testament is reeds elektronies (insluitende ook ’n YouTube uitgawe) en ook as harde kopie beskikbaar soos op die foto hierbo. Verder is ’n parallelle uitgawe van die Nuwe Testament (Slowaaks en Romani langs mekaar) tans by die drukkers. 

Hulle werk nou aan die Ou Testament, waarvan groot dele reeds in die fase is waar dit deur evalueerders en ook deur die gemeenskap getoets word. Marek Gombar plaas hierdie Skrifgedeeltes op die internet en is besig om ’n webblad vir die Romani-vertaling te ontwikkel.  Hulle kry ook wonderlike samewerking van plaaslike kerke wat hulle fasiliteite aan die vertalers en evalueerders beskikbaar stel.

Hulle vra ook voorbidding vir die volgende sake:

  • Een van die vertalers, Stano Tancos moet saam met sy vertalingswerk ook na sy huis en kinders omsien, omdat sy vrou, Bohunka, elders moet werk om die pot aan die kook te hou.  Bid vir hulle vir krag om hierdie dubbele las te hanteer.
  • Pierre sukkel op die oomblik met sy gesondheid, veral met pyn in sy skouer. Bid asseblief vir volkome genesing.