JACOBA ELIZABETH OLIVIER (TANNIE COBA SCHABORT) GEBORE: 29 April 1917 

Tannie Coba se pa, Andreas Johannes Olivier het saam met en sy pa, Coenraad in die Engelse oorlog geveg. Hulle is albei gevang en na Ceylon verban
Hier het die jonge 19-jarige Johannes Olivier vir die Here belowe dat hy predikant sou word as die Here hom veilig in sy land sal terugbring. Hy was egter maar net tot Standerd 3 of 4 op skool. Hy gaan terug skool toe en behaal sy matriek aan die Hoërskool Franschhoek. Hy skryf in as teologiese
student op Stellenbosch, word in 1913 tot proponent gelegitimeer en beroep na die gemeente van Boetsap in Noord-Transvaal.

Uit sy huwelik met Hillétje, word vier dogters gebore, van wie tannie Coba die tweede oudste is. Haar oudste suster, ’n jaar ouer as sy, het ook
honderd jaar oud geword, maar is in 2016 oorlede. Sy was getroud met Prof. Potgieter van die Kweekskool op Stellenbosch. Daar is na haar nog
twee susters.

Die kerkraad van Boetsap koop ’n plaas van 3 000 morge met die naam van Bruintjiesfontein. In 1920 verskuif die kern van die gemeente na hierdie plaas. Die gemeente ontwikkel mettertyd tot ’n dorp. Weens die bydrae wat hy tot die samelewing daar gemaak het, wil die bewoners die dorp na ds. Olivier vernoem. Hy weier aanvanklik maar op aandrang gee hy toe, mits sy van omgedraai word na Reivilo.  

In 1926 aanvaar ds. Olivier ’n beroep na Vryburg en stuur sy kinders na Oranje Meisieskool in Bloemfontein. Hulle verhuis egter in 1931 na Brandfort. Coba woon die skool op Frankfort by tot standerd 8, maar matrikuleer in 1934 aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein. Sy begin in April 1936 met opleiding as verpleegster by die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein. In Januarie 1939 tree sy in die huwelik met Louis Lehmkuhl, ’n teologiestudent van Stellenbosch. Op 20 Januarie 1940 word hulle eersteling, Nico, gebore en hulle vertrek kort daarna na Upington waar Louis as hulp leraar onder leiding van ds. Weideman met sy bediening begin.  

Na 14 maande in Upington aanvaar Louis ’n beroep na Omaruru in Suid-Wes-Afrika, waar hy in 1941georden word tot predikant. Hulle tweede kind, Annalet, word in 1942 gebore.

Louis bedien daarna ook die gemeentes Omaruru, Olifantsfontein en Alberton (waar die jongste dogter, Helene gebore is) en uiteindelik Frankfort waar hy vir 22 jaar, 9 maande en 11 dae werk. Dit was wonderlike jare vir die gesin. Daarom is die dae so afgetel!

Ds Louis Lehmkuhl tree in 1972 af op ouderdom 60 jaar. Hy en tannie Coba gaan woon op die familie-plaas, Eureka, Steynsrus. Ná 2 jaar in 1974 kom hy egter te sterwe. 

Tannie Coba verhuis na Ventersburg op aandrang van Louis se vriend, ds. Pieter Louw, en daar werk sy in die ouetehuis se spens en kombuis. Sy gaan kuier dikwels op Frankfort by haar ou vriende. 

Oom Bosch Schabort (82 jaar oud) wat hul buurman in Frankfort was, maak tannie Coba die hof en  trou met haar in 1981 op Kroonstad toe sy 59 jaar oud is. Hulle woon in Frankfort in die huis agter  die pastorie. Sy het voortgegaan om hom “Oom Bosch” te noem. Oom Bosch kom egter 4 jaar  daarna in 1985 te sterwe. Tannie Coba bly vir nog 5 jaar op Frankfort in ’n woonstel. 

In Desember 2005 verhuis Annalet en tannie Coba na Barend Wessels Gedenksentrum in Langenhovenpark waar hulle tans nog in nommer 46 woon.

Tannie Coba is ywerig in borduurwerk en die huis is versier met talle van haar kunswerke. Sy het haar 100ste verjaardag met ’n groot familie-saamtrek gevier waarheen talle van haar vriende ook genooi is. Sy geniet goeie gesondheid, hoewel die pyne van die ouderdom maar knaag. Sy is steeds ’n blymoedige mens met sprankelende geaardheid en humorsin. Haar gedagtes en geheue is helder. Sy is standvastig in haar christelike geloof en die Here dra haar van dag tot dag. 

Sy kan nie werklik besluit vir watter Bybelvers sy die liefste is nie, maar Psalm 37 is ’n gunsteling. Sy kan getuig daarvan dat as ons ons in die Here verlustig, Hy ons hartsbegeertes sal vervul. Haar gunsteling-lied is lied 305. 

Haar boodskap vir ons wat nog jonger is, is: “Hou koers! Leef volgens God se wil!”