IRIS IRENE LABUSCHAGNE (NÉÉ MORRISON)
Gebore: 29 Oktober 1918.

Sy is in Betlehem (die een in die Vrystaat) gebore as die oudste van 5 kinders – vier dogters en een seun. Haar kinderjare was aangenaam, ten spyte van die swaar tye in die depressiejare. Tydens haar laerskooldae moes hulle byvoorbeeld vir vyf jaar by hulle tannie Agnes Vorster (hulle ma se suster) in Arlington gaan woon saam met die Roux familie se kinders – agt in totaal!

Die gesin verhuis later na Pretoria waar sy matrikuleer en daarna ’n betrekking as assistent en administratiewe beampte by ’n tandarts aanvaar.

Sy ontmoet haar lewensmaat op ’n besondere manier. Johann Labuschagne is deel van ’n besoekende toneelgeselskap wat ’n krisis het toe een van hulle byspelers siek word en nie kan optree nie. Die jong Iris word gevra om in te tree en die res is geskiedenis! Natuurlik moes Johann by die ouers vra belowe om op te hou toneel speel as hy met Iris wil trou. Sy liefde was groot genoeg en hy besluit om die verhoog vaarwel toe te roep
en liewer met motors te werk. Hy word ’n sakeman in die motorbedryf met sy eie besigheid.

In 1950 verhuis hulle na Windhoek, waar hulle vir 25 jaar woon en waar hulle in 1966 die burgemeesters-paar van Windhoek word. Sy is daar voltyds tuisteskepper en baie betrokke by liefdadigheidswerk. Sy hou haar ook besig met weefwerk, die maak van tafeldoeke, kussingoortreksels en skinkbordlappe en verwerf verskeie toekennings vir haar naaldwerk. 

In 1975 verhuis die gesin na Pretoria waar Johann weer ’n motorsaak begin. Hier is Iris betrokke by baie vrywillige werk, waaronder kreupelsorg, bejaardesorg en die versorging van ’n baba in die gemeente. Sy neem ook ’n verstandelik gestremde kleuter, met wie sy tot vandag toe nog kontak het, oor naweke in haar sorg. 

Hulle het vier kinders. Johann, die oudste, is in 1943 gebore. Die twee dogters, Nora-Louise en Ronelle, is in 1957 en 1958 onderskeidelik gebore. Hulle neem ook vir Marcél in 1955 aan as ’n pasgebore baba. Daar is vyf kleinkinders van wie twee reeds oorlede is, en ses agterkleinkinders. Johann (jr.) se twee seuns is drie jaar uitmekaar, albei op 19 jarige ouderdom in motorongelukke oorlede terwyl hulle met diensplig besig was.  

Iris se lewensmaat, Johann (sr.), het haar in 2006 ontval. Sy woon tans by haar dogter, Nora en haar skoonseun, hier in Langenhovenpark. 

Iris het ’n hart vir die verspreiding van die evangelie. Sy was vanaf die stigting van die Japansending deur Peggy en Neil Verwey, betrokke by hulle as voorbidder. Sy het ook lank administratiewe werk verrig vir Voorbidders vir Suid-Afrika.  

Tannie Iris se gunsteling-Bybelvers is Psalm 91 en Gesang 40 (Lied 200: U goedheid Heer, kan ons nie peil nie…) is een van haar geliefde liedere. 

Haar boodskap vir die jonger geslag is die volgende: 

  • Soek Jesus Christus terwyl Hy te vinde is en bou ’n DAAGLIKSE DIEP VERHOUDING met Jesus Christus en die Heilige Gees. 
  • Vernuwe dag vir dag jou denke en jou verhouding met Hom deur die Bybel te bestudeer (Ps.119:9 en Spreuke 4:23).

Op 29 Oktober vanjaar sal hierdie merkwaardige vrou 101 jaar oud wees. Sy kan terugkyk op ’n vol lewe waarin sy ’n verskil kon maak in baie mense se lewens. Nou, terwyl sy meestal bedlêend is, bly sy steeds ’n voorbidder wat die Here baie lief het.