Ek is Wessie van der Westhuizen, en 51 jaar oud.
Ek het die grootste gedeelte van my lewe in Pretoria gewoon, waar ek ‘n aktiewe lewe gelei het. Ek was iemand wat net eenvoudig nie kon stilsit nie en altyd iets gesoek om my besig te hou. Ek het aan alles moontlik deelgeneem: rugby, krieket en tennis gespeel en was ook al my skooljare aktiewe lid van die Voortrekkers. Ek het gehengel en gejag.
Ek was iemand wat daarvan gehou het om kompeterend deel te neem en het dus ook verskeie van die sportsoorte op provinsiale vlak deelgeneem.
Verder was ek ‘n adrenalien-verslaafde en aktiwiteite soos motorren resies op Kyalami. Bungee jumping en river rafting om ‘n paar te noem was deel van my funksionering.
In 1997, op 30 jarig ouderdom, is ek gediagnoseer met Friedrichs Ataxia. Dit is ‘n motorneuronsiekte wat veroorsaak dat daar ‘n kortsluiting is tussen die klein brein en spiere. Verder veroorsaak dit ook dat die senupunte stelselmatig doodgaan. Die resultaat hiervan is dat die spiere nie die senuwee impulse ontvang wat hulle moet aktiveer om te beweeg nie. Die medici vermoed dat alhoewel dit geneties is, die motorongeluk waarin ek as vierjarige kind was die toestand aktiveer het. Tydens die motorongeluk is my ma en jonger boetie oorlede.
Tydens die diagnose het die spesialiste aan my ‘n lewensverwagting gegee van tussen 13 en 20 jaar gegee.
Ek is egter ‘n positiewe persoon en laat my nie onderkry deur sulke voorspellings nie. Ek het besluit om die spesialiste verkeerd te bewys en nog steeds ‘n vol lewe te leef vir solank moontlik. Sedert 1997 het my gesondheid stelselmatig verswak. In 2007 is ek gediagnoseer met diabetes en hoë bloeddruk. Ek het ook stelselmatig alle gevoel in my bene onder my knieë verloor, tot so ‘n mate dat ek sedert April 2009 genoodsaak was om permanent van ‘n rolstoel gebruik te maak. Tot en met Januarie 2015 het ek nog steeds my eie besigheid bedryf. Ek het tuindienste besigheid gehad en behalwe die normale tuin instandhouding het ek ook tuinuitleg, boom sloping, besproeiing en grasplant gedoen. Ek was aktief betrokke by die besigheid en het elke dag saam met my span werkers gery van kliënt tot kliënt en persoonlik toesig gehou oor hulle kwaliteit werk wat hulle gedoen het. Ons verhuis toe uit Pretoria en het ek my besigheid verkoop.
Vir die jaar wat ons in Volksrust gewoon het, het ek bietjie algemene vervoerwerk gedoen maar was ook aktief betrokke by Louis Hildebrandt Kinderhuis as vrywilliger.
Ons verhuis in Maart 2015 na Bloemfontein waar ek weer begin het met mini-vervoer tot en met Maart 2016.
Maart 2016 het my bestuurslisensie verval. As gevolg van die diabetes wat permanente skade aan my sig veroorsaak het, kon ek nie my bestuurslisensie hernieu nie.
Binne twee weke het ek besef dat ek nie so kan sit en niks doen nie en onmiddellik begin met navorsing om weer my eie ding toe doen. Ek het begin met ‘n mini-besigheid, aanvanklik net om besig te bly. Die besigheid het aanvanklik behels die aankoop van vars groente en die verwerking van die vars groente to gevriesde groente. Die besigheid het intussen uitgebrei en sluit ook in die aankoop en verkoop van eiers, speserye en gebottelde produkte.
Op hierdie stadium is ek 100 % in beheer van die besigheid en neem ek volle verantwoordelikheid vir die totale bestuur van die besigheid, die verwerking van die groente, die bemarking van die produkte en die verspreiding van die produkte. My vrou, Elsa, help net om my te neem vir die aankope van die produkte en met die aflewerings van die produkte. Dit is na-ure aangesien sy voldag werk. Ek deel graag die volgende ongelooflike ervaringe die afgelope 20 jaar, maar meer spesifiek die laaste 12 jaar van my lewe.
- In Junie 2006 ontmoet ek ‘n engel en in April 2017 is ek en Elsa getroud. Sy is my anker, maat, versorger, vrou en my alles.
- Gedurende Mei 2008 het depressie die oorhand oor my gekry. Ek het gesukkel om te verwerk en te aanvaar dat ek is voltyds in ‘n rolstoel is.
- Ek het op aandrang van my vrou en met verwysing van ons predikant in Pretoria ‘n sielkundige gaan sien. Sy fokus haar terapie op geloof en hoop en is dit absoluut gefokus op die Boodskap en teksverse uit die Bybel.
- Net nadat ek haar begin sien het, het ek die Sondagoggend erediens op die radio geluister en was die teksvers en boodskap, woord vir woord die wat die sielkundige net vroeër in die week vir my gegee het in ons terapie sessie.
- ‘n Paar dae later het ek en my vrou besluit om die Sondagaand bietjie “window shopping” in a naby geleë winkelsentrum te doen. Terwyl ons daar rondloop het ‘n swart man wat Woolworths werk uniform aangehad het, ons genader en gevra of hy vir my kon bid. Net daar in die winkelsentrum het hy op sy knieë gegaan en vir my gebid. Sedertdien het ek geen pyn meer in
my bene nie,
Ten spyte van agteruitgang in my gesondheid, is die spesialiste steeds verstom oor die slakke pas van die agteruitgang en die feit dat ek nog goed kan funksioneer.
My hande het die laaste paar maande ook alle gevoel verloor, en ek het begin sukkel met asemhaling, maar elke keer het die Here spesialiste op my pad gestuur wat my kon help en ook kon begelei in die pad vorentoe.
Ek is geseënd en baie dankbaar vir ‘n wonderlike vrou, 2 dogters en ‘n seun(stief) in my lewe en baie liefde van God en mense wat daagliks om my is.
Ek ervaar elke dag hoe die Here my krag en genade gee om nog steeds my dagtaak te doen na die beste van my vermoë en nog steeds ‘n diens te kan lewer.
Wessie van der Westhuizen.