UITREIKE

In navolging van die Meester se opdrag in Hand.1:8:

“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom,

en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die aarde.”

 

Inleiding

Die God wat ons deur geloof in Jesus Christus ken en aanbid, is ‘n God wat stuur.  Die Woord leer vir ons die rede waarom die Here ons God ‘n sturende God is:  “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.  God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word” – Joh 3: 16, 17.   So leer ons iets van God se identiteit:  God is – liefde en God is – ‘n sturende God!

Jesus Christus, God wat mens geword, het na Sy opstanding uit die dood en net voor sy hemelvaart gesê: “en julle sal my getuies wees in Jerusalem, sowel as in Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld”.  So ontdek ons as Koninkrykskinders iets van ons eie identiteit, wie en wat ons nou voor die wederkoms van Christus is en moet wees:  gestuurdes van die Heer omdat Hy alles en almal wat Hy geskep het, liefhet. Die kerk van Jesus Christus moet dit laat hoor en leef!

Om gestuurdes van die Heer te wees was nog nooit net die taak van ʼn paar mense wat spesifiek daarin belangstel nie.   Dit is die taak van alle gelowiges in Jesus Christus.   Daarom is ons as gemeente betrokke by God se skepping, hier waar ons nou is en verder. Waar ons nie self kan kom nie, ondersteun ons hulle wat die roeping het om elders die goeie nuus van God se liefde vir alles en almal te bring!  Ons raak betrokke deur kennis te neem van hulle bediening, doen voorbidding en waar moontlik ook met finansiële ondersteuning.  Die gemeente van Langenhovenpark wil Christus verkondig aan almal – vanaf hier waar ons is in Langenhovenpark gemeente (Jerusalem), deur Judea (groter Bloemfontein), Samaria (Afrika) tot aan die uithoeke van die wêreld.  Die volgende vertel wat op die oomblik gebeur en waar jy betrokke kan raak.