KONINKRYKSPROJEKTE VAN DIE NG KERK LANGENHOVENPARK 2025

 Ons streef daarna om gehoorsaam te wees aan Jesus se opdrag in Hand.1:8:

“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom,

en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die aarde”

 

Die Woord van God word in die NG Gemeente Langenhovenpark bedien tot die groei en versterking van die gemeente en uitbreiding van die Koninkryk van God. Die uitreik aksies van die gemeente wat hier in “Koninkrykprojekte 2025” aan die gemeente bekend gemaak word, is deel van die totale bediening van en aan die gemeente en gemeenskap tot aan die uithoeke van die aarde!

Die uitreik aksies van die gemeente word georganiseer aan die hand van Hand 1: 8. Enige persoon wat by hierdie uitreik aksies betrokke wil raak word uitgenooi om die kontakpersoon wat genoem word of die kerkkantoor te skakel.

 

WELKOM BY UITREIK – DS GERHARD MEYER!

Aan die einde van 2024 het die gemeente vir Ds Riaan en Gesina Stander gegroet na hulle aftrede en jare lange betrokkenheid by die Uitreik aksies van die gemeente.  Aan die begin van 2025 is die Diensraad: Uitreik en gemeente dankbaar om Ds Gerhard Meyer te verwelkom as die leraar van die gemeente wat nou by die Uitreik bediening van die gemeente betrokke gaan wees. Mag daar baie seën rus op die werksaamhede en betrokkenheid van Ds Gerhard by hierdie bediening van die gemeente, die gawes wat die Heer aan hom gee en die leiding wat hy aan die Diensraad gaan bied.  Ons sien uit na ‘n nuwe hoofstuk in die bediening van die gemeente aan die wereld waarin ons woon!

 

 

 

Getuies in die plaaslike gemeenskap (Jerusalem)

Naaldwerkklasse

Naaldwerkklasse word deur lidmate van die gemeente aangebied en is ‘n gevestigde projek wat ten doel het om vroue in die gemeenskap met hul vaardighede, liefde en deernis te bereik.  Dit word gedoen deur persoonlike belangstelling in die lewe en omstandighede van diegene wat die klasse bywoon en die aanleer van naaldwerkvaardighede onder leiding van persone wat die begeerte het om die lewe van ander daardeur te verryk.

Naaldwerkklasse word op Donderdae om 15h00 in die Gemeentesentrum aangebied.  Persone wat dit bywoon word oor die bestek van ’n paar jaar opgelei en begelei in die bemeestering van vaardighede wat nodig is om klere en ander artikels te maak. Hierdie naaldwerkklasse vind onder leiding van Ina du Plessis en haar helpers plaas.  Vir navrae, kontak gerus vir Ina by (0734195730).

Aksie Olyftak

Aksie Olyftak is ‘n uitreik aksie van die gemeente met gemiddeld 16-22 lede wat elke tweede Dinsdag bymekaar kom. By hierdie byeenkomste word gesellig saam gekuier, ‘n koppie tee of koffie geniet saam met ‘n lekker eet dingetjie.

Dienste by Aksie Olyftak sluit in haarsny, bloeddruk- en glukose toetse asook voetbehandelings.  Lede word opgelaai indien vervoer ‘n probleem is. Wondversorging word ook gedoen indien dit vooraf gereël is.  Persone wat betrokke wil raak by hierdie aksie kan met Mada Benade in verbinding tree.

Opruimaksie

Hierdie projek word georganiseer in samewerking met twee gemeentes van die NG Kerk in Afrika. Rommel word een maal per maand in die oop areas in Langenhovenpark deur lidmate van die NGKA opgetel. Daar is waarde en betekenis in hierdie aksie vir elkeen wat betrokke raak en help met die skoonmaak van hierdie openbare areas.  Pick ’n Pay borg vir elkeen wat betrokke is ‘n middagete. Die gemeente vergoed die helpers met ‘n kospakkie en ‘n bedrag van R150.00 per geleentheid. Lidmate word aangemoedig om hierdie verdienstelike projek te ondersteun. Kontak gerus die kerkkantoor vir meer inligting.

Noodspens 

In 2025 is die ondersteuning aan mense in nood net so noodsaaklik as om mense in geestelike nood te bereik.  Dit is moeilik om die goeie nuus van God se liefde in Jesus Christus oor te dra aan ’n medemens wat ook honger is sonder om iets te ete in sy of haar hand te gee!  Groot dank aan gemeentelede wat elke maand ondersteuning gee deur kospakkies voor te berei sodat dit deur die leraars en gemeentelede na verskeie plekke van nood versprei kan word. Op hierdie wyse maak ons Hemelse Vader deur die diens van Sy kinders ’n groot verskil in mense se lewens.  In ’n tyd waar nood en armoede ’n steeds groter wordende probleem onder alle mense in Suid-Afrika is, kan daar nie genoeg klem gelê word op hierdie noodsaaklike uitreik projek van die gemeente nie.

Groot dank aan Pick ‘n Pay Towers (foto bo) wat gereeld aan die gemeente geleentheid gee om voor hul ingang pannekoek te bak en te verkoop ten einde fondse in te samel vir die kospakkies.

Vir navrae kontak Willien Fourie by 083 700 8684

Projekte in die groter Bloemfontein (Judea)

Voedingsprojek (Böhmer-skool)

‘n Uitreik aksie van die gemeente vind gedurende skoolkwartale by Böhmer-skool plaas. Kontak gerus vir Nonnie Heyman vir meer inligting of as u betrokke wil raak by hierdie uitreikprojek. 

NGKA Waterbron

Die gemeente is op verskillende maniere by die NG Kerk in Afrika in Waterbron betrokke. Finansiële ondersteuning word deur die gemeente aan die NGKA Waterbron gegee. Ds. Daniel Moshoaliba  bedien die gemeente.

 

Engo Gesinsorg Bloemfontein

 

Die Gemeente het met die verloop van tyd ’n baie goeie verhouding opgebou met ENGO Gesinsorgdienste. Engo bied onder andere professionele maatskaplike dienste in die Vrystaat. Pieter Miles as gemeentelid van Langenhovenpark (op foto regs saam met ’n personeellid van Engo) neem deur sy betrokkenheid by Engo Gesinsorgdienste verantwoordelikheid vir verskeie projekte wat deur die loop van die jaar in die gemeente plaasvind.  ’n Voorbeeld hiervan is die Penne projek ter ondersteuning van gesinne en kinders wat hulp dringend nodig het. Enige persoon is welkom om van hierdie professionele diens gebruik te maak.  Engo fasiliteer verskeie gemeenskapsprojekte en bied hoop vir baie wat dit nodig het. Navrae kan gerig word aan die Engo kantoor by 051 522691 of Pieter Miles by 0829671096, e-pos:  pieter.miles@gmail.com.

 

Jeugsorgsentrums

 

Die gemeente is betrokke by twee Jeugsorgsentrums naamlik Huis Amor en Huis van Omgee.  Ondersteuning van jongmense woonagtig in hierdie huise vind deur lidmate van die gemeente op gereelde basis plaas. Die jongmense skakel by die gemeente se eredienste, kategese en ander aksies in.  Lidmate kan persoonlik betrokke raak by die sentrums of ondersteuning bied deur die skenking van benodighede.

Kontakbesonderhede

Huis Amor, Faurelaan 12A, Willows – Trudie Peyper (0762827276)

Huis van Omgee, Faurelaan 12A, Willows – Kontak gerus die kerkkantoor.

 

Bloem Shelter  (SKuilplek vir haweloses)

 

Bloem Shelter is ʼn Christelike organisasie wat in Bloemfontein skuiling bied aan hawelose mense. Behalwe kos en huisvesting word die goeie nuus van God se liefde aan almal wat daar om hulp aanklop, verkondig.  Berading word gegee en lewensvaardighede aangeleer.  Hierdie huis vervul ʼn onontbeerlike rol in die stad en ons as gemeente ondersteun die Skuiling graag.

Kontakpersoon Suretha Odendaal – 0828221398

 

Torings van Hoop

 

Die bekende Tweetoring kerk in die middestad van Bloemfontein het met die verloop van tyd sy bediening by die eise van die tyd aangepas.  Mense, veral in die midde stad van Bloemfontein, kontak die gemeente vir hulp en ondersteuning.  “Torings van Hoop Leierskapstigting” het in Februarie 2010 tot stand gekom met die visie om die gemeenskap te begelei van kwesbaarheid na vaardigheid. Die leuse van die gemeente (‘n variasie op Kol 3:11) lees:  “Hier maak dit nie saak of iemand ‘n Afrikaner of Sotho is nie, man of vrou, huiseienaar of haweloos nie.  Maar hier is Christus alles en in almal”. Tweetoring Gemeente staan vir jare bekend as “Torings van Hoop”.  Die doel is inderdaad om hoop te bring in die lewe van mense waar moed en hoop in die lewe verlore geraak het.

Suid-vrystaat gesondheidsorg

 

Die NG Gemeente Langenhovenpark voorsien op gereelde basis klere aan die Suid- Vrystaatse Geestesgesondheidsorg”. Pieter Miles kan by 0829671096 gekontak word vir meer inligting en ondersteuning.

 

Taxifonds

 

Fondse vir die vervoer van pasiënte vanuit die Suid-Vrystaat na hospitale in Bloemfontein word deur indiwidue geskenk en vir hierdie doel gebruik.  Vir enige navrae of ondersteuning, kontak gerus Pieter Miles.

 

Huis Nederig

‘n Omgeegroep van die gemeente het uitgereik en betrokke geraak by Huis Nederig, geleë in Universitasrif. Ondersteuning word gegee aan persone wat in Huis Nederig versorging ontvang en ‘n heenkome vind.  Verskeie kuier geleenthede word deur die lede van die Omgeegroep georganiseer om op persoonlike vlak aandag aan inwoners  te gee.  Baie moeite word deurlopend gedoen om die woning gasvry en vrolik te laat voorkom.  Die tuine en looppaadjies is mooi versorg en rolstoel vriendelik gemaak.  Belangstellendes kan vir Willien Fourie kontak by  083 700 8684.

Manne omgeegroep – ng gemeente langenhovenpark

 

In die gemeente Langenhovenpark is ’n “Manne Omgeegroep”.  Een van die sake wat die aandag van die “Manne Omgeegroep” van die gemeente ontvang is om by wyse van ‘n “broodjie-projek” by die Langenhovenpark Kliniek uit te reik na mense in nood. Hierdie is ’n goed gevestigde projek en mans word aangemoedig om by die “Manne Omgeegroep” betrokke te raak. Persone wat belangstel kan gerus vir Pieter Miles kontak by 0829671096.

 

Ons getuig ook in Samaria (Afrika)

 

Botswana

 

Die gemeente van Langenhovenpark is reeds vir baie jare betrokke by die bediening van die Woord in Botswana. Ds. TC en Linda du Toit het by die Dutch Reformed Church in Botswana (DRCB) betrokke geraak as gestuurdes van die NG Gemeente Hartswater in die Noordkaap. Ds du Toit is ook betrokke by die NG Gemeente Dagbreek in Welkom waar hulle nou woonagtig is. Sy direkte betrokkenheid by Tsabong/Kgalagadi is om finansiële ondersteuning vir die bediening daar te vind asook die voortsetting van die werk by vier Vroeë Kind Ontwikkeling Sentrums in Botswana.  Die finansiële ondersteuning wat Langenhovenpark gemeente gee is om die voertuig- en reisuitgawes  van ‘n leraar in die uitgestrekte land van Botswana moontlik te maak.  Hierdie ondersteuning wat die gemeente bied is noodsaaklik vir die bediening van die Woord wat daar plaasvind. e-posadres:   tc@dieplan.org

 

Namibië: Degnos (Diens en Getuienis Noord-ooste streek)  en Wildevygemeente

 

DEGNOS opereer vanuit Grootfontein in Namibië en is verantwoordelik vir die opleiding van Evangeliste wat werksaam is in Namibië. Ons gemeente is deur finansiële ondersteuning by DEGNOS betrokke.

 

DEGNOS lewer buiten ander aksies waar die Woord bedien word, ’n groot bydrae ten opsigte van die onderrig van kinders binne die DEGNOS bedieningsarea.  DEGNOS bedryf 17 Vroeë Kind Ontwikkeling Sentrums (ECD). Dit is skooltjies waar ongeveer 450 kinders tussen die ouderdom van 4 – 6 onderrig ontvang.

 

Andries Gous besoek gemeentes op gereelde basis om dankie te sê en inligting te verskaf oor die bediening wat deur DEGNOS plaasvind.  Die gemeente kry jaarliks die geleentheid om die Jaarvergadering van DEGNOS by wyse van ’n afgevaardigde by te woon en sodoende inspraak te hê in die besprekinge wat plaasvind en besluite wat geneem word.

 

Kontakbesonderhede: ngtsumke@iway.na en gousandries74@gmail.com

 

Lesotho

 

’n Nuwe uitreik geleentheid het vir die gemeente na vore getree.  Dr. Nico Mostert (Sendingsekretaris van die NG Kerk in die Vrystaat) het kontak gemaak met die Lesotho Evangelical Church (LEC).  Betrokkenheid van die NG Kerk word nou oorgeplaas na die Lesotho Evangelical Church. Meer inligting sal gegee word soos die bediening uitbrei en groei.

 

Tot in die verste uithoeke van die aarde

INDIЁ: Pastor S. Sam Selva raj –“Echo of His Call”

 

Brother Sam (foto regs) en vele ander ondersteuners en medewerkers saam met hom is besig met verskillende evangelisasie bedieninge in Indië.  Die volgende maak die omvang van die werk wat in Indië deur hulle gedoen word, duidelik:

  • Die hou van eredienste in verskillende tale
  • Publisering van die “Echo His Call” nuusbrief wat ons ook in Langenhovenpark ontvang en in 16 tale, onder andere in Afrikaans, uitgestuur word
  • Voorsiening van Teologiese Korrespondensiekursusse deur afstandsonderrig in Tamil en Engels
  • Aanbieding van Bybelkor Bybelkursusse in 3 tale naamlik Tamil, Hindi en Engels
  • Bestuur van 3 Nehemia Bybelkolleges in Hindi en Tamil
  • St Paul Matrikulasieskool waar studente in Engels onderrig word
  • Bedryf van ’n moderne vlakdruk drukpers wat teen hoë spoed in 16 tale kan druk
  • Organisering van sosiale opheffingsprogramme vir die armes
  • Bestuur van veldtogte in verskeie tale
  • Onderhouding van die “Echo His Call” YouTube kanaal

 

Dit is duidelik dat hier baie groot werk gedoen word tot uitbreiding van die Koninkryk van God en gee ons graag as gemeente ons ondersteuning aan en voorbidding vir die werksaamhede wat daar plaasvind!

 

Kontakpersoon: Pastor S. Sam Selva Raj.  e-posadres: sam@echoofhiscall.org.

Slowakye

 

Pierre en Lisa van Vuuren doen sedert 1996 sendingwerk in die Slowaakse Republiek, 

deel van die voormalige Tsjeggo-Slowakye.  Hulle werk fokus op Bybelvertaling.

 

Foto regs – Pierre, Lisa en hul kinders Elise en Samuel.

 

In 2024 het Pierre die NG Gemeente Langenhovenpark besoek en tydens ’n erediens ’n Oos-Slowaakse Romani Bybel aan Ds. Stander en die Voorsitter van die Diensraad: Uitreik, Jurie Kleynhans oorhandig.

 

Die Bybelvertaling gaan in 2025 voort met die Bybel wat in verskillende tale eie aan daardie deel van die wêreld vertaal word. Die gemeente gaan in 2025 voort met ondersteuning van hierdie besondere werk deur Pierre en almal wat by hierdie bediening betrokke is.

Kontak besonderhede: pierre.a.jansenvanvuuren@gmail.com

Geopende Deure

“Geopende Deure” is ‘n wêreldwye organisasie wat omsien na die behoeftes van die mees vervolgde Christene in die wêreld. Daar is meer as 360 miljoen Christene in 60 verskillende lande wat hoë vlakke van vervolging beleef – net omdat hulle Jesus Christus volg.  Dit is 1 uit elke 7 Christene!  Aan die hart van “Geopende Deure” se bediening is die strewe om bewustheid te skep en gebed aan te moedig vir die wêreldwye vervolgde kerk. Die gemeente nooi op gereelde basis persone betrokke by hierdie noodsaaklike bediening uit om inligting tydens ’n erediens aan die gemeente oor te dra.

Besoek gerus www.opendoors.org.za vir meer inligting.

Befondsing

Die finansiering van die gemeente se uitreik projekte vorm deel van die kerkraad se begroting.  Dit het daartoe aanleiding gegee dat die “Arbeiders vir die Oes” fonds gebore is. Lidmate kan, bo en behalwe hulle dankoffers, spesifiek vir hierdie Koninkryksprojekte van die gemeente bydra. Bydraes kan direk in die kerk se bankrekening inbetaal word met as verwysing ‘Arbeidersfonds’. Alternatiewelik kan ‘n ACB-betaling met die kerkkantoor gereël word. Bankbesonderhede: ABSA Brandwag (Tjek) Takkode 632005, Rek nommer:  1570 590 630