
September 2025
“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Handelinge 1:8
Met meer as die helfte van 2025 agter die rug het die gemeente baie verhale om te vertel ten opsigte van die uitreikaksies en projekte waarby die gemeente reeds vanjaar betrokke was. Die einddoel bly altyd om die goeie nuus van Jesus Christus op elke moontlike manier verder en verder te laat hoor en die liefde van God daarmee saam te beleef! Ons vertel kortliks van die gemeente se:
GETUIENIS IN JERUSALEM (GETUIES IN PLAASLIKE GEMEENSKAP)
Naaldwerkklasse.
Naaldwerkklasse word onder leiding van Ina du Plessis word vir enige belangstellendes aangebied. Ons is dankbaar om te noem dat die Naaldwerkklasse flink voortgaan en daar by elke geleentheid baie aandag, sorg en liefde betoon word aan elkeen wat opleiding ontvang. Tydens hierdie klasse word aan elke persoon se behoefte aan kleding en die vaardigheid om self daarin te voorsien, aandag gegee. Daar word ook aandag gegee aan die geestelike en emosionele versorging van elkeen wat teenwoordig is. Met naald en gare, die Woord van God en liefde in die hart word vaardighede oorgedra, die goeie nuus gedeel en mense met hoop terug na hulle huise gestuur! Groot dank aan elke gemeentelid wat hierdie projek moontlik maak!

- Noodspens
Die “Noodspens” doen presies wat die woord sê. Die spens van die gemeente voorsien in die nood van mense wat aanklop om voedselhulp. Ander in nood word bereik deur gemeentelede en die leraars van die gemeente wat bewus word van mense in nood en dan deur die Noodspens hulp en ondersteuning aanbied. In die Mei 2025 se “Oesnuus” is kennis geneem van instansies wat ook vanaf die gemeente se Noodspens ondersteuning ontvang. Almal is bewus van die ekonomiese- en finansiële uitdagings van ons tyd. Aan elke lidmaat wat op watter wyse ’n bydrae lewer om hierdie uiters noodsaaklike diens moontlik te maak, opregte dank!
- Huis Nederig
Betrokkenheid by Huis Nederig is ’n voortgaande projek van ’n Omgeegroep van die gemeente. Hierdie betrokkenheid strek reeds oor jare met die grootse waardering by elke inwoner van Huis Nederig. Soos wat die jaar aanstap word die afwagting na die groot bederf aan die einde van die jaar wat deur die Omgeegroep aangebied word aan die inwoners, al groter. Ons weet die inwoners sien reeds baie uit na wat kom!

- Aksie Olyftak
Aksie Olyftak se maandeliks byeenkomste gaan voort soos beplan. Tydens hierdie byeenkomste word almal teenwoordig bederf met voetbehandelings, bloeddruk en glukose wat getoets word en wond behandeling wat plaasvind indien dit vooraf gereël word. Ongeveer 20 mense woon die byeenkomste maandeliks by en geniet die kuier en persoonlike aandag baie!
GETUIENIS IN DIE GROTER BLOEMFONTEIN (Judea)
Die gemeente is op gereelde basis besig om uit te reik na mense wat buite die gemeente maar tog saam met ons in Bloemfontein bly. Hierdie uitreikaksie van die gemeente buite sy grense gebeur by en saam met
1) ENGO Gesinsorgdienste
- Die KOUE NAG projek het weer vanjaar tydens die Pinksterbyeenkomste van die gemeente aandag ontvang. Alle insamelings in hierdie tydperk is op 6 Junie deur Pieter Miles – foto regs – oorhandig aan ENGO.
- Die bekende PENNE PROJEK is ook vanjaar weer deur Pieter Miles in die gemeente gehanteer.
- ENGO se motor kompetisie word vanjaar deur die gemeente ondersteun. Die inskrywings sluit op 30 September 2025 en die wenner word DV op 31 Oktober 2025 aangewys. ’n Donasie van R50.00 word per kaartjie gevra.
- Klere wat geskenk en by die gemeente afgegee word, word gereeld aan ENGO oorhandig.

Die gemeente se betrokkenheid by Huis Amor en Huis van Omgee, die ondersteuning van Suid-Vrystaat Geestes Gesondheid, hulp wat verleen word deur die Taxi-fonds en die Mannebediening se uitreik betrokkenheid by die Langenhovenpark Kliniek gaan steeds voort. Ondersteuning van die groot werk by en deur “Torings van Hoop” geniet ook die gemeente se voortgaande ondersteuning.
GETUIENIS IN AFRIKA (Samaria)
DEGNOS – help mense in Namibië om binne hulle potensiaal te ontwikkel tot gesonde (volhoubare) geloofs- en lewensgemeenskappe.
Op grond van die NG Gemeente Langenhovenpark se jare lange betrokkenheid by die bediening van die Woord in Namibië en in die besonder onder die San gemeenskap in Namibië, word hier in meer besonderhede inligting verskaf van die werksaamhede van DEGNOS na afloop van die jaarlikse Konferensie en Jaarvergadering van DEGNOS.
- Die Jaarvergadering en Konferensie van DEGNOS het vanjaar plaasgevind op 4 – 6 Julie 2025 te Grootfontein, Namibië. Die NG Gemeente Langenhovenpark is deur Marietjie Potgieter as afgevaardigde verteenwoordig. Sy het elektronies deelgeneem aan die konferensie en vergadering. Die tema van die konferensie was: “TE GROOT VIR ONS SOKKIES”.

Op die foto regs verskyn
’n Nuwe Beheerraad vir 2025/2026 is tydens die Jaarvergadering verkies.
Voor: Herman Fuls, Leon Fourie (foto op selfoon), Andries Gous (Bestuurder DEGNOS), Isak Chameia, Regfina Nauses.
Agter: Johan Spangenberg, (voorsitter), Jac Schotz, Zjaan Burmeister, Jeanet Conradie
Daar was ook verteenwoordigers vanuit die NG Gemeente Heuwelsig in Bloemfontein wat die Konferensie en Jaarvergadering bygewoon het.
Op die foto is onder andere Ds. Craig Salzmann (derde van regs) van NG Gemeente Heuwelsig saam met onder andere Ds. Gerrie en Ds. Leviet by die Groot boom opN#amapan.

Die volgende is op die jaarvergadering bespreek en besluit:
- Daar word beplan om die Bestuurder van DEGNOS, Andries Gous, se lading te verlig en vir hom ‘n tweede in bevel aan te stel.
- Wildevy Gemeente: Die gemeente het ’n groot terugslag beleef met die afsterwe van ds. Josef Gevers in 2024.
- Broer Aron Ganseb het die leisels op Tsintsabis oorgeneem en word deur die ouderlinge van Wildevy ondersteun.
- Ds. Poppie Haramses het onder andere ‘n sopkombuis, Bybelstudiegroep, lei eredienste en bied emosionele trauma hulp aan.
- Ds. Regina Nauses is ‘n predikant en ook ’n onderwyseres op ‘n plaas.
Ten opsigte van die Jeugbediening word met groot dankbaarheid vertel van:
- Die 14 Vroeë Kinderontwikkeling Sentrums (VKO) met ongeveer 380 kleuters;
- Daar word 5 Jeugkampe vir byna 400 kinders vanjaar aangebied;
- In die “Scholar Assist Programme” is daar tans 3 Graad 9 meisies. Star Khubes, die eerste kind van die program, is suksesvol deur haar skoolloopbaan en is nou ‘n VKO onderwyseres by Oerwoud;
- Die Jeug bediening in Luhebu-Noord gemeente is aan die brand.
Sedert die 1ste Junie is Mishe Matteus voltyds aangestel deur DEGNOS as die Jeug werker vir die Luhebu-Noord gemeente. Mishe se rol is om die jong mense te bedien wat na die jeugkampe besluit het om die Here Jesus te volg. Mishe was onlangs in die Omatako wyksgemeente (deel van die Luhebu-Noord Gemeente) waar hy met 60 jongmense tyd spandeer het in hulle strewe om spoorsnyers te wees wat Jesus se spore volg.
Kanovlei se kinder bediening. Broer Visser Njamba vertel dat daar ‘n groep van 44 kinders op Kanovlei bymekaar gekom het om die Evangelie boodskap te hoor, Bybelstories te leer en speletjies te speel. Kanovlei is ook een van die wyksgemeentes van die Luhebu-Noord gemeente.
- Paaskampe: Ongeveer 600 mense het vanjaar se drie paaskampe bygewoon.
- Opleiding: In die laaste jaar was daar twee Voortgesette Teologiese Opleiding geleenthede vir die predikante. Nog agt studente is besig om as standplaas-leraars opgelei te word. Ds. Isaac Chameia gee weekliks opleiding aan sommige van die gemeentes in Boesmanland. Di. Johannes Aucamp en Lucas van Vuuren gaan van tyd tot tyd Namibië toe om evangeliste op te lei. Jeanette Lubbe het traumaberading opleiding aan drie groepe in Boesmanland gegee.
- Degnos vertel ook van besoekers uit die VSA
Die TVCC gemeente uit Tennessee in die VSA het vanjaar besoek in Namibië afgelê en eerstehands kennis geneem van die verkondiging van die evangelie wat deur DEGNOS plaasvind. Die foto onder wys die span uit Tennessee saam met die Degnos /Tsumkwe span by die Groot boom op N#ama.

Die Tsumkwe gemeente se buite punte is een na die ander besoek. Daar is by sowat 12 Habitatte uitgekom waar die Evangelie boodskap onder bome aan gewillige aanhoorders verkondig is. Daar was vele besonderse momente waar die besoekers en die aanhoorders diep getref is deur die boodskap van die Goeie Nuus.
’n Wonderlike besoek is ook afgelê in die Wildevy gemeente op Oerwoud en Tsintsabis. In die Luhebu-Noord gemeente is die besoekers verras deur ’n groep kinders wat spontaan in die kerk bymekaargekom het en hulle bedien het met pragtige sang. Die vrug op die werk van Ds. Amon, Ds. Isak, Mishe en Visser en al die ander getroue medewerkers onder die jeug was wonderlik om te beleef.
Op Tsumkwe is daar vier aande ’n film gewys – eers die Jesus Film en daarna die opvolg reeks genaamd “Walking with Jesus”. Elke aand was die kerk stampvol met kinders. Degnos het geen toegang tot die skole in Mangetti Duin en Tsumkwe nie en benodig maniere om die kinders te trek na die kerk!
Andries Gous van Degnos sê hy begin daarvan droom om vir die twee gemeentes – Tsumkwe en Mangetti Duin elkeen elektroniese visuele hulpmiddels (TV en Internet toegang) te voorsien. Soos een van die wyse ouderlinge op Tsumkwe gesê het – dit trek die kinders en die kinders trek die grootmense!
Besoek aan Swart Tak
Saam met Ds. Jafet Moyo en Mishe (Jeugwerker) word vir die eerste keer ’n gemeenskap besoek met die naam “Swart Tak” naby die Rooidag hek. Daar is ’n man ontmoet genaamd Elias. Hy en sy familie dien die Here. Elias dra die Evangelie na sy mense toe – al het hy nie baie kennis nie – want, sê hy, die Here is alreeds daar! Ds. Jafet Moyo vertel dat hulle besluit het om die mense daar te help deur die “Vaste Fondamente” opleiding met hulle in die toekoms te deel. Mishe sal help om die jeugbediening van die grond af te kry. Die Here het alreeds sy mense bymekaargemaak – nou is dit ons (Degnos) se werk om te help dat die gelowiges daar beter toegerus is om die Evangelie verder te dra.
Besoek aan #Goaguru
Sowat 230km Noord-oos van Swart Tak besoek Ds. Isak saam met Ds. Leviet die gemeenskap waar Ds. Leviet gebly het voordat hy teruggeroep is na Tsumkwe. Die bediening gaan steeds voort op #Goaguru onder leiding van die plaaslike gelowiges. Hulle het nie meer ’n predikant by hulle in die habitat nie, maar God self hou sy kerk in stand deur die gelowiges wat daar deur Ds. Leviet toegerus is terwyl hy daar gewoon het. DEGNOS se versoek is:
* Bid asseblief saam met ons dat die Here die werk op #Goaguru sal laat voortgaan*
Die NG Gemeente Langenhovenpark is dankbaar vir die lang verbintenis met hierdie bediening wat in Namibië plaasvind en gaan met groot dankbaarheid voort met ons ondersteuning daarvan.
GETUIENIS TOT IN DIE VERSTE UITHOEKE VAN DIE AARDE
Die gemeente ondersteun ook die volgende bedieninge van die Woord tot aan die uithoeke van die aarde:
- Br Sam – Indië. Voortgaande ondersteuning vanuit die gemeente word aan Br Sam en sy bediening in Indië gegee.
- Pierre Janse van Vuuren – Slowakye
Die gemeente gaan voort met ondersteuning aan Pierre Janse van Vuuren en die vertaling van die Bybel waarby hy en sy gesin vanuit Slowakye betrokke is.
- Geopende Deure
Jozua van “Geopende Deure” skryf en sê:
Vir Geopende Deure is hierdie ‘n baie bedrywige jaar. Ons sien dat vervolging aan die toeneem is. Dit kan toegeskryf word aan groei in die vervolgde kerk met ‘n toename van meer as 20 miljoen vervolgde Christene as die vorige jaar.
Hier is ‘n blik oor die vervolgde wêreld:
Outoritarisme beheer in Sentraal-Asië
Geopende Deure se 2025 Wêreldwaarnemingslys (WWL) onthul dat geweld en outoritêre beperkings teen Christene die afgelope jaar wêreldwyd toegeneem het, veral in Sentraal-Asië en sub-Sahara Afrika. Kirgistan is verreweg die land wat die meeste uitstaan en die skerpste styging toon op die WWL, die jaarlikse ranglys van lande waar dit die moeilikste is om as ʼn Christen te leef.
Burgeroorloë
Burgeroorloë in Jemen, Mianmar en Soedan het onstabiele omgewings geskep wat Christene in die kruisvuur plaas.
Geweld in sub-Sahara Afrika
Sub-Sahara Afrika (SSA) is die gewelddadigste plek in die wêreld vir Christene. Chroniese onstabiliteit in regerings- en burgerlike konflikte het ʼn vakuum geskep in verskeie nasies in SSA, wat deur opportunistiese Islamitiese militante gevul word.
Die verdwynende kerk.
Die kerk word in verskeie lande weggedryf of gedryf om ondergronds te gaan. Veral in die Midde-Ooste is verskeie Christen-gemeenskappe aan die kwyn en is in sommige gevalle op die rand van uitsterwing.
Moniteringstate
Christene in China en ander outokratiese state is weens gevorderde monitering toenemend versigtig om hul geloof openlik uit te druk.
Wêreldwaarnemingslys (WWL) 2025 in syfers
Die belangrikste tendense van die 2025 WWL is:
- Altesaam 4 476 Christene is wêreldwyd doodgemaak weens hul geloof. Meer as 90% van hierdie moorde het in sub-Sahara Afrika plaasgevind, wat Mosambiek insluit.
- Vyf van die top 10 lande op die 2025 WWL is in Afrika.
- Daar was 28 368 aanvalle op Christene se huise, winkels of ondernemings weens geloofsverwante redes.
- Altesaam 16 miljoen Christene in sub-Sahara Afrika het gedwonge ontworteling weens geweld deurgemaak.
- Meer as 380 miljoen Christene wêreldwyd staar hoë vlakke van vervolging en diskriminasie in die gesig.
Ek (Jozua) het hierdie jaar vervolgde lande in die Arabiese Skiereiland en Afrika besoek. Ek kan verslag lewer dat die kerk in hierdie streke oor die afgelope 12/13 jaar geweldig gegroei het, in seker gevalle selfs meer as verdubbel het!
Baie dankie vir NG Gemeente Langenhovenpark se bydrae in hierdie groei. Julle bydrae het ‘n ewigheids impak. Namens die vervolgde Kerk, BAIE DANKIE!

DEUR SY KERK IS DIE HEER IN SY SKEPPING DAAGLIKS AAN DIE WERK!