Oesnuus – Maart 2021

“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

 – Handelinge 1:8 –

Hierdie jaar het aanvanklik heel “normaal” afgeskop, maar toe ons ons weer kom kry, was dit weereens grendeltyd – darem net tydelik! Heelwat het egter op die uitreikfront gebeur.

DEGNOS en Wildevy (Namibië)

Ons gemeente ondersteun spesifiek die gemeente van Wildevy waar Regina Nauses en Josef Gevers die leraars is. Andries Gous van DEGNOS in Namibië skryf van verskeie projekte wat tans aan die gang is om leraars en lidmate in ie Wildevy-streek toe te rus vir hulle getuienistaak. Vaste fondamente is ’n basiese  kursus wat vir ’n jaar lank elke Saterdag aangebied word om die plaaslike gelowiges toe te rus vir dissipelskap. Hierdie kursus het in Januarie begin op Ombili en Ondera waar daar om en by 1300 mense woon. Hulle vra ons voorbidding vir die Here se seën op hierdie werk. Daar is groot entoesiasme by hierdie groep en hulle het gevra om ook Dinsdae bymekaar te kom vir lofprysing en gebod.

Tydens die dissipelskap seminaar op Tsintsabis in Oktober 2020 was daar besluit dat Jeug evangelisasie ‘n fokus area is vir die Wildevy Tsintsabis gemeente. Agt  jeugwerkers vanuit die gemeenskap het opleiding ontvang van Child Evangelism Fellowship om hulle te help om waarlik dissipel makers te word onder die jeug in hulle gemeenskap. Dis aangebied ’n span onder leiding van ene Trudie van CEF en NG Gemeente Tsumeb. Trudie het na die kursus rapporteer dat die kursus baie geseënd was en dat drie van die persone wat aangewys was deur hulle gemeentes om te kom vir die opleiding, die besluit gemaak het om Jesus te volg.  Bid asseblief aanhoudend vir hierdie agt Jeug Evangeliste wat die Here opgeroep het in die Wildevy gemeente.  Regs is ’n foto van die groep.

DEGNOS doen tans ook voortgesette opleiding met leraars en evangeliste  wat reeds in die bediening is. Hulle toets tans ’n  nuwe bedieningsmodel waar Willem met een bakkie kos aflewer en dan bietjie die predikante rondvat om by hulle afgeleë wyke uit te kom. Andries koördineer  die begin van die nuwe model en gebruik ook die tyd om bietjie by elke leraar te kuier en saam te beplan. Bid asseblief vir die groot werk wat DEGNOS in Namibië doen: die begeleiding van leraars in hulle gemeentewerk, die aanbied van kursusse oral in die gebied om gelowiges vir hulle dienswerk toe te rus.

Bid ook vir die kleuterskole wat nou nadat eers Marietjie Potgieter en ook haar niggie wat haar opgevolg het, nie meer daar is nie – dat iemand na vore sal kom om hierdie groot werk oor te neem.

Gerrie en Arlene Coetzee

Hulle werk by SIM met nuwe sendelinge se aansoeke, plasing, onderhoude, ens., het sedert verlede jaar verander na ‘n meestal digitale platform, wat ook opwindende nuwe era inlei en dit lei ook na nuwe geleenthede. So ’n nuwe geleentheid was hulle skakeling ETHNOS Movement International (EMI) met die oog op samewerking tussen SIM en EMI. Daar is ooreengekom dat hulle nou, benewens hulle taak by SIM, ook by EMI betrokke sal wees – hoofsaaklik met deelname by hulle Sending Opleidingskursusse wat deurlopend aangebied word. Hierdie betrokkenheid skep die geleentheid om die sendelinge wat moet uitgaan om die opdrag van die verkondiging van die Evangelie uit te voer, beter toe te rus vir hulle groot taak! Hierdie samewerkingsooreenkoms sal DV in April 2021 in werking tree.

Gebedsversoeke: Hulle vra dat ons asseblief sal bid dat hulle ALTYD in die Wil van God sal leef. Bid ook vir die groot verantwoordelikheid wat met die opdrag aan hulle opgedra is vir die uitvoering daarvan.

Ds. Deon Potgieter (VGK Heidedal-Suid)

Ons het in die laaste Oesnuus van verlede jaar berig dat ds. Deon Potgieter aan die einde van Februarie 2021 sou aftree. Die mense wat sy aftrede moes gereed kry, het egter te laat met die proses begin en sy afskeid is nou op 28 Maart 2021.

Hy is weer by die gemeente gekontrakteer om die sakramente vir die volgende jaar te bedien. Hy gaan ook steeds voort met Kinderkrans, Gevangenisbediening (wanneer hy weer toegelaat sal word) en  VERITAS modules 1, 2 en 4 in die gemeente.  Hy gaan verder voort om die buitegemeentes Springfontein, Trompsburg en Wepener eenmaal per maand te besoek.  Hy bied ook VERITAS daar aan.

Hierdie dienskneg van die Here het nie afgetree nie. Hy tree net toe tot ’n gewysigde bediening.  Ons bid hom en sy gesin die seën van die Here toe.

Sam Selva Raj (Indië)

Brother Sam skryf in sy jongste brief dat hy en sy vrou, Jesy, besig is om die bediening oor te gee in die hande van die jonger garde. Jesy was ook ernstig siek, maar haar gesondheid is nou beter. Alex Samson, hulle sun, is nou in beheer van hulle kerklike bediening. Hulle dogter Angelina sal hulle tydskrif publikasies, sowel as die St. Paul’s Matriculation School behartig.  Hy vra ons voorbidding vir hierdie veranderinge en vir al hulle pogings om die blye boodskap van generasie tot generasie oor te dra.

Hulle ondervind, soos die meeste ander Sendingorganisasies en kerke, ook geweldige finansiële uitdagings vanweë die Covid-pandemie en hulle is baie dankbaar vir ons maandelikse bydrae. Foto: Brother Sam en sy gesin

Nuus uit Botswana

Ds. TC du Toit stuur die volgende nuusbrokkies uit Tsabong:

“Die enigste manier waarop ons jeugwerkers die junior jeuggroep van die plaaslike gemeenskap kan bereik in hierdie Covid-era, is deur elke tweede Vrydag lessies en aktiwiteite uit te deel by sekere kontakpunte. Dis net ongelooflik wonderlik om te sien hoe getrou die kinders hulle toewyding toon deur te kom om die lessies op te tel. Verlede Vrydag het 95 kinders lessies afgehaal – ’n klein bietjie minder as die vorige Vrydae. As ons ons eie Sondagskoolgroep van 30 kinders bytel, is dit nogal ’n goeie klompie kinders wat deur die onderwyseresse bereik word. Mag die God van genade die jong lewetjies wat deur hulle bedien word, aanraak”. (Die foto toon een van die aflaaipunte).

Sondag 21 Februarie was in vele opsigte ’n baie spesiale Sondag in die geskiedenis van die Tsabong wyk van die NG Kerk van Kgalagadi.  Hulle het ’n nuwe lidmaat verwelkom vanuit die Lutherse kerk in Bokspits. Ook het ses katkisante belydenis van geloof afgelê.  Twee van hierdie nuwe lidmate is ook as volwassenes gedoop en twee ander het ook hulle babas laat doop! Direk daarna is die nagmaal gevier saam met die nuwe toevoegings tot die gemeente. In hierdie een erediens het die lidmaatgetalle van Tsabong met 10% gegroei.  Soli Deo Gloria!

Hulle het ook verlede Vrydag op verskeie plekke in die Kgagaladi gemeente die Wêreldbiddag vir Vroue waargeneem.

Verdere nuus is dat Ds. TC gaan emeriteer, maar steeds op ’n deeltydse basis betrokke gaan wees by Kgalagadi en Tsabong