“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Handelinge 1:8
Met groot dankbaarheid kyk ons terug na 2025, na dit wat beplan is en dit wat deur die Uitreikaksies van die gemeente tot stand gekom het. Uit die verhale wat vertel word en terugvoer wat ontvang is, is dit duidelik dat om uit te reik na alles en almal om ons nie die verantwoordelikheid van ’n klompie belangstellendes is nie, maar die roeping van elke gelowige. Die groot opdrag is deur Jesus Christus gegee: Gaan en laat die wêreld deur woorde en dade kennis neem van wie God is en hoe groot Sy liefde vir die wêreld is. Hierdie laaste “Oesnuus” van 2025 vertel wat op georganiseerde wyse deur die gemeente gedoen word om aan hierdie roeping uitvoering te gee – wetende dat elke gelowige wat deel van die gemeente is daagliks besig is om uit te reik na alles en almal om ons!
Aan die hand van Hand 1: 8 vertel ons graag wat deur die Uitreik werksaamhede van die gemeente deur die loop van 2025 gebeur het:
JERUSALEM – GETUIES IN DIE PLAASLIKE GEMEENSKAP
Naaldwerk
Die Naaldwerk klasse het in 2025 bygedra tot groei in vaardighede en die geestelike verdieping van almal wat die geleenthede bygewoon het. Teenoor almal wat by wyse van hulle kennis en liefde leiding geneem het en betrokke was by elke persoon wat die naaldwerk klasse bygewoon het, groot en opregte dankbaarheid! Die fotos vertel die verhaal van trots en dankbaarheid!


Almal in die naaldwerk klasse het hierdie jaar baie fluks gewerk en vele projekte is al voltooi. Nou lê die jaar op sy rug en moet almal hulle laaste naaldwerkprojekte voltooi vir ons jaareindfunksie waar leerders sertifikate ontvang vir bywoning en spog met hul naaldwerk artikels. Dié funksie sal plaasvind op Donderdag, 27 November.
Met ‘n terugblik op 2025 kan ons net getuig van die voorsiening uit die Here se hand in terme van die gees wat heers tussen leerders en naaldwerk tannies, materiaal- en ander skenkings uit die gemeente, nuwe personeel wat by ons aangesluit het en die kerk van Langenhovenpark wat ons ondersteun. Baie dankie aan almal wat hierdie jaar ‘n bydrae gelewer het. Sonder elkeen se bydrae sou ons nie die goeie uitkomste kon behaal het nie. Soli Deo Gloria!

Aksie olyftak
Aksie Olyftak se byeenkomste het deur die loop van 2025 voortgegaan soos beplan. Voet behandelings is gegee en bloeddruk en glukose van diegene wat die byeenkomste bygewoon het, is getoets. Wond behandeling kon ook plaasvind waar dit nodig was en dit vooraf gereël is. Ongeveer 20 mense woon die byeenkomste maandeliks by. Groot dank en waardering aan elkeen wat hierdie uiters noodsaaklike uitreik na die gemeenskap moontlik maak!
Noodspens
Die noodspens het in 2025 sy vlerke wyer gesprei danksy kinders van die Here wat voortgegaan het om produkte na die kerk te bring of deur ‘n finansiële bydrae te maak vir die noodspens. Dankie ook aan die gereelde span wat op verskeie Saterdae betrokke was by die bak van pannekoek by PnP Towers. Dankie aan Stefan van PnP Towers wat vir ons die geleentheid bied.
Die persone in die gemeente wat help om kospakkies te versprei waar daar nood is, het ook vermeerder. Die nood is in hierdie tyd groot. Baie dankie aan die groep gemeentelede betrokke by die aksie wat met soveel liefde en omgee gereeld kom help!
2. JUDEA – GETUIES IN DIE GROTER BLOEMFONTEIN
Voedingsprojekte

Dr Böhmerskool se voedingskema is een van die projekte wat bygevoeg is tot die noodspens se uitbreiding vanjaar. Ons voorsien per kwartaal pap, soja, samp ens. soos deur die skool versoek. Die gemeente is dankbaar om op hierdie wyse betrokke te wees by die jeug van Bloemfontein
ENGO Gesinsorg Bloemfontein
Op 13 Junie 2025, een week na die Pinksterbyeenkomste van die gemeente, is die Pinkster insamelings deur Pieter Miles vir ENGO geneem. Dit was ’n skenking wat bestaan het uit klere, skoonmaakmiddels en kos. Dit is met groot dankbaarheid deur ENGO personeel ontvang. Vroeër in die jaar is heelwat klere ook deur Mnr Pieter Miles aan ENGO oorhandigFoto – regs Pieter Miles saam met die ENGO Personeel.
Die ENGO MOTOR kompetisie het weer vanjaar plaasgevind. Die gemeente het die kompetisie soos in die verlede ondersteun met die wenner wat op 31 Oktober 2025 aangewys is.

Jeugsorgsentrums – Huis Amor – Die gemeente is dankbaar vir die betrokkenheid van Pieter Miles by Huis Amor. Hy tree op as vaderfiguur en met ‘n omgee hart vervul hy ’n belangrike rol in die jongmense se lewe en geestelike vorming. Die gemeente is deurlopend by Huis AMOR betrokke. Die dogters woon Sondae die gemeente se eredienste by en is betrokke by die kategese onderrig.
Huis Amor ontvang per geleentheid voedsel en klere vanaf die gemeente.
Suid-Vrystaat Geestesgesondheid
Die gemeente het vanjaar aan inwoners van die Suid-Vrystaat psigiese gesondheid ondersteuning gebied by wyse van klere wat geskenk is. Deur die Taxi Fonds word dit ook vir pasiënte op die platteland moontlik gemaak om mediese hulp in Bloemfontein te ontvang.
Manne-Bediening
Die Mannebediening van die gemeente het vanjaar by verskeie Uitreikaksies van die gemeente betrokke geraak. Dit is gedoen deur die ondersteuning van Huis Nederig, die Noodspens, Huis Omgee en Huis Amor.
Huis Nederig
’n Omgeegroep van die gemeente onder leiding van Willien Fourie het gedurende 2025 by verskeie geleenthede by Huis Nederig in die stad gaan kuier. By hierdie geleentheid is daar nie net iets te ete gegee nie maar ook ‘n boodskap gebring, saam gebid en lekker saam gesing.Die volgende geleenthede is geskep: Koek en Tee kuier dag, Sop en Broodjies, Worsbroodjies en ’n Poeding dag! Verder beoog die omgeegroep om die jaar af te sluit met ‘n kerstema met koek en tee. Die gasbottels van Huis Nederig wat ons vir hulle geskenk het word op ‘n gereelde basis volgemaak. Verskeie gemeentelede voorsien breekgoed, linne en ander ander benodighede wat ook tot groot hulp aangewend word.

VCSV Vrystaat 2025
Lulu van den Berg, Bedieningshoof: VSCV skryf en sê:
“Ons is dankbaar dat die VCSV hierdie jaar weer pragtige getuienisse het van God se goedheid maar ook Sy voorsiening in dit waarmee ons besig is.
Ons kon in Maart ‘n hele paar nuwe Bedieningspersoneel in die land aanstel wat die werk in skole en op kampe hardloop en wat ‘n groot verskil maak. Ons weet mos dat die oes groot is, maar die arbeiders is min. Ons eer die Here vir nuwe arbeiders wat geroep is en bereid is om diensbaar in die Koninkryk te wees.

Ons fokus bly Skole bediening en kampe en daar word gereeld uitreike na gemeenskappe gedoen wat ‘n reuse verskil maak. Elke keer wanneer ‘n skool besoek word of ‘n kamp aangebied word, is ons gebed dat mense se lewens aangeraak en verander sal word. En vandag kan ek maar net getuig van soveel getuienisse.
Daarom wil ek ook NG Langenhovenpark bedank vir die bydrae wat ons elke maand ontvang van julle. Dis mense soos julle wat maak dat ons kan doen wat ons doen. Finansieel kry almal maar swaar, maar God is getrou en voorsien altyd. Dankie vir julle gehoorsaamheid om te gee – dit maak ‘n reuse verskil!”
- SAMARIA – GETUIES IN AFRIKA
Botswana
Die gemeente het in 2025 voortgegaan met die finansiële ondersteuning van die bediening van die Woord in Botswana. Hierdie finansiële ondersteuning is spesifiek gebruik om die vervoer van persone wat die evangelie in Botswana verkondig en lang afstande moet reis, moontlik te maak sodat hulle by bedieningspunte kon uitkom.
Groot waardering bestaan vir die ondersteuning deur die gemeente!
DEGNOS – Namibië
Andries Gouws vertel vanuit Namibië en versoek die volgende:
- Bid asseblief vir hierdie vier manne – maar vir verskillende redes.*
Gert*(knielend) is ’n navolger van Jesus Christus wat woon op Nhoma, waar hy die evangelie leef en bring midde baie moeilike omstandighede.
Die Europese Lodge eienaars op Nhoma het hom al probeer verbied om die Evangelie te bring en sy eie mense sukkel om los te kom van die Voorvader Gees aanbidding.
Saam met hom op die foto is die drie Toordokters van die omgewing – wat gesterk word in hulle kwaad deur die Europese en Amerikaanse toeriste wat graag die “African Spiritualiteit” wil beleef en wat goed betaal as jy die bonatuurlike kan laat gebeur.

Die toerisme is die enigste inkomste vir die mense van Nhoma!
Gert vertel as mense siek word dan gaan die mense eerste na die Toordokters om te bid – en dan nooi hulle hom om saam te kom bid – so asof dit ’n kompetisie is oor watter man is nou die een met die groot krag. Gert neem dan net eenvoudig nie deel nie – want as die mense in God glo, dan sal hulle slegs na God toe gaan en nie na die toordokters toe nie.
Bid asseblief vir Gert vir wysheid en vir deursettings vermoë. Hierdie man het ’n pragtige liefdevolle manier van die Evangelie Leef.
- Bid asseblief vir die drie “dokters”, dat hulle die lig sal sien.*
- Nuwe Sendingveld
Andries Gouws skryf en sê: “Ek besef al meer dat “die nuwe sending” goeie toerusting van geestelike leiers is, want dit wil vir ons al meer lyk of die kerk buitekant die grense van die tradisionele kerke, vinniger groei as die kerk binne die formele kerklik strukture.
Die kerk buitekant die kerk is baie groter as die kerk binne-in die kerk (moet my nie afslag hieroor nie – ek sê dit juis dat jy hieroor moet dink) – en dit is hierdie kerk wat bereik moet word en toegerus moet word en gehelp moet word met die waarheids leer, ten alle koste.”
- Ons was in Oktober baie bevoorreg om 16 van die DEGNOS Sendelinge hier by ons in Grootfontein byeen te hê. Sendelinge noem ek hierdie mans en vrouens, want hulle is voorwaar die manne en vroue wat die Boodskap van Goeie nuus dra na die mense in hulle omgewing. Saam met ons kuier ook twee sendelinge van Windhoek-Wes en vier van Ligpunt gemeente in Pretoria.

- TWT – Opleiding* Ons is baie bevoorreg om vir Ds. Ivan Skinner van TWT (The Word Transforms) in Oktober by ons te hê. Hy het ons kom help met opleiding om elke een van die gestuurdes toe te rus om beter te vaar in hulle roeping as gestuurdes van God. Ons is baie dankbaar dat Ivan dit kon inpas, veral aangesien hy gewoonlik besig is in Noord- of Wes-Afrika met opleiding.
Bid asseblief vir elke student – om hierdie nuwe materiaal weer verder te gaan dra in hul onmiddellike omgewing*
DEGNOS Groete
- GETUIES TOT AAN DIE UITHOEKE VAN DIE WÊRELD
Indië – Br Sam. Uit Indië is die volgende e-pos op 11 Oktober 2025 vanaf Br Sam ontvang: “We did receive your loving contribution of Rand 500 dated 30th September 2025. Our heartfelt thanks to you for your love and concern extended towards our Echo of His Call Ministries. We love you so much. You are so precious to our ministries in India. Kindly uphold all the leaders and staff of Echo of His Call Office, Nehemiah Bible College, Printing Press, Bible Correspondence Courses, Theological Correspondence Courses and St. Paul’s Matriculation School.”
Die gemeente ondersteun graag hierdie arbeid wat deur Br Sam en sy personeel in Indië gedoen word.
Pierre van Vuuren – Slowakye
Vanaf Pierre en Lisa van Vuuren, betrokke by Bybelvertaling in Slowakye is die volgende versoek om voorbidding ontvang:
- Vir ons reisprogram. Ek reis dikwels om TWFTW te verteenwoordig. In hierdie laaste kwartaal is dit Thailand, Turkye, en Montenegro
- Vir beplande nuwe vertalingsprojekte: Montenegrin, die nasionale taal van Montenegro; Bayash – Serwië; Dzjambazi – Masedonië
- Vir ons besoek aan die VSA in Desember, o.a. ook om ondersteunende kerke te besoek
- Vir Elise en Aiden se troue ( 20 Desember in College Church, Wheaton, Illinois)
- Vir ons gesondheid.

Baie dankie vir julle getroue vriendskap, voorbidding en ondersteuning! Ons sal julle voorbidding waardeer!
Geopende Deure
Die gemeente het vanjaar soos in die verlede die werksaamhede van Geopende Deure ondersteun. Geopende Deure neem die Woord van God na die mees vervolgde gebiede in die wêreld. Ons kon in die September 2025 uitgawe van die “Oesnuus” kennis neem waar Geopende Deure op die oomblik betrokke is. Dit was uit daardie inligting baie duidelik dat die teenstand teen die Christendom groot is en daar Christene is wat hulle lewe op die spel plaas vir die verkondiging van Jesus Christus as die Here!
In hierdie uitgawe van “Oesnuus” ‘n gebedsversoek van Jozua van Geopende Deure ontvang vir die Christene in die Midde-Ooste:
“Christene is die sout en die lig. Stel jou dus ʼn plek sonder lig en smaak voor.” Biskop Chimoun Daniel van Irak beskryf met dié woorde treffend hoe die Midde-Ooste sonder Christene sou lyk.
Die aantal Christene in die streek waar die Kerk gebore is, is kommerwekkend.
Palestina, Sirië, Irak en Libanon het die afgelope 25 jaar talle Christene sien weggaan, wat tot ʼn skerp afname in volledige Christelike gemeenskappe gelei het.
- Sirië: Christene het afgeneem van 1,8 miljoen in 2011 tot sowat
579 000 vandag.
- Irak: Van 1,5 miljoen Christene in 2003 tot die huidige minder as 200 000.
- Palestina: Christene in die Wesoewer en Gaza het afgeneem van 11% in 1922 tot ongeveer 1% – slegs 47 600 in 2017, met ʼn verdere afname sedertdien.
- Gaza: Slegs sowat 600 van 1 000 Christene bly oor, wat meestal in kerke skuil sedert die oorlog in Oktober 2023 uitgebreek het.
- Betlehem: Die Christelike bevolking het gedaal van 86% in 1950 tot 10% in 2017.
Baie faktore het bygedra tot Christene wat die streek verlaat, insluitende vervolging, onrus en oorloë, wat tot politieke onstabiliteit, korrupsie en sosio-ekonomiese probleme kan lei. Dit is verstaanbaar dat dit ook die vrees vir ʼn (onsekere) toekoms kan wees wat mense laat padgee.
In sommige gebiede van Irak het talle Christene al padgegee. Biskop Daniel sê: “Baie kerke is amper leeg; ons het dorpe met slegs leë huise en grond sonder eienaars.”
Pastoor Nsier van Sirië sê dat hierdie Christelike uittog uit die Midde-Ooste ook die wêreldwye Kerk beïnvloed. “Die wêreldwye Kerk moenie voel dat dit gesond is wanneer die Kerk in Sirië of die Midde-Ooste ongesond is nie. Wanneer die Kerk nie meer in die Midde-Ooste bestaan nie, beteken dit dat die hele prentjie verwring is.”
Alhoewel kerkbywoning in ʼn groot deel van die Levant-streek afneem, bly ʼn sterk en inspirerende gedeelte van die Kerk in hierdie lande oor.
“My hoop vir die Kerk se toekoms is kerke vol mense, kerke waar Jesus se onderrig die fokuspunt is, waar mense mekaar liefhet en een liggaam is,” sê ʼn optimistiese Adham, wat vir die Palestynse Bybelgenootskap werk.
En daar is hoop . . . Israel se Christelike bevolking het die afgelope jare stadig toegeneem. Die drie oggendbyeenkomste by die Geboortekerk in Bethlehem is só vol dat daar soms geen plek is om te sit nie, het Adham gedeel. In Jordanië is daar ongeveer 181 500 Christene van alle denominasies, met die getal wat die afgelope paar dekades relatief stabiel gebly het. Hierdie voorbeelde herinner ons daaraan dat God steeds aan die werk is, selfs te midde van ʼn desperate situasie.
Geopende Deure kan danksy ons plaaslike vennote skouer aan skouer met Christene in die streek staan deur dissipelskap, traumaberading, Bybelverspreiding, ondersteuning met die vestiging van mikro-ondernemings, noodleniging en ʼn beroep op mense om te bid. Ons missie is om die Kerk te ondersteun om beide ʼn baken van lig en ʼn sentrum van hoop in hul gemeenskappe te wees.
Bid asseblief:
- Bid dat die oorblywende Christene in die Levant-streek ʼn sterk getuienis van ons
Here Jesus Christus sal bly.
- Bid dat kerke in die streek versterk sal word en in getalle en geloof sal groei.
- Bid dat kerkleiers standvastig sal bly en nie moed sal verloor nie, wetende dat “vir God is alles moontlik” (Matteus 19:26).
- Bid dat diegene wie se familielede die land verlaat het, vertroosting in die Here
en hul kerke sal vind.
- Bid vir ons familie in Gaza, Israel, die Wesoewer, Libanon en ander streke wat
geraak word deur die oorlog wat in Oktober 2023 begin het.
- Bid vir blywende vrede en geregtigheid in die Heilige Land en die omliggende
lande.
“Die gebed van ʼn gelowige het ʼn kragtige uitwerking.” – Jakobus 5:16
Laat ons nooit die krag van gebed vergeet nie en aanhou om God te vra om Sy Kerk oor die hele streek te versterk en op te bou.
Ons grootste dank en waardering vir elkeen wat betrokke is by Geopende Deure. Ons bid hulle die bystand en seën van die Here toe op hulle werksaamhede. Baie dankie aan die gemeente wat dit moontlik maak om hierdie arbeid te ondersteun!
Ernst Toerien Bediening
As gevolg van die aard en omvang van die bediening waarby Ernst betrokke is word geen inligting in enige “Oesnuus” uitgawe vermeld nie. Die gemeente ondersteun hierdie bediening van die Woord van die Here wat dikwels onder uiters moeilike omstandighede plaasvind. Die moontlikheid bestaan dat die gemeente DV in 2026 besoek van Ernst sal ontvang en sal tydens daardie besoek kan verneem wat hierdie bediening behels.
Die gemeente bid vir Ernst en sy gesin die liefde en nabyheid van die Here toe in hierdie bediening wat hy met oorgawe tot uitvoer bring!
Volgens die opdrag van die Oorwinnaar, Jesus Christus die Heer, is daar ook in hierdie jaar dus deur die gemeente van Langenhovenpark gepoog om gehoorsaam te wees aan die opdrag van Here Jesus. Dit het gebeur
- deur die projekte en aksies waarna in hierdie “Oesnuus” verwys is asook die uitreik na ander wat ongeorganiseerd en spontaan daagliks deur lidmate van die gemeente op baie verskillende maniere plaasgevind het (ons Jerusalem perspektief),
- ondersteuning en betrokkenheid in die groter Bloemfontein deur getuienis en hulpverlening wat deur die gemeente gegee is (ons Judea perspektief),
- in Afrika word die verkondiging van die evangelie moontlik gemaak deur die ondersteuning wat die gemeente ook daar gee (ons Samaria perspektief),
- met getuienis oor Jesus Christus en ondersteuning aan die verkondiging van die Woord tot uitbreiding van die Koninkryk van God wat tot aan die uithoeke van die wêreld plaasvind!
AAN DIE HEER, AL ONS DANK EN EER!
