
“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Handelinge 1:8
Aan die hand van “KONINKRYKSPROJEKTE VAN DIE NG KERK LANGENHOVENPARK 2026” wat gedurende Januarie 2026 aan die gemeente beskikbaar gestel is, is die gemeente bewus gemaak van die verskillende UITREIK AKSIES wat deur die gemeente georganiseer word. In hierdie uitgawe van “Oesnuus” gee ons graag terugvoer wat tot nou ten opsigte van die uitreikaksies van die gemeente gedurende 2026 gebeur het. Al ons dank en eer aan ons Hemelvader wat dit alles moontlik maak!
Aan die hand van Hand 1:8 vertel ons graag van die gemeente se
GETUIENIS IN JERUSALEM (GETUIES IN PLAASLIKE GEMEENSKAP)
- Naaldwerkklasse – onder leiding van Ina du Plessis word vir belangstellendes aangebied.
Vir 2026 het twee tienermeisies, een man en een dame vir eerstejaar naaldwerkklasse aangemeld. Ons het egter ook ongelukkig 5 naaldwerkleerders in die ander naaldwerkklasse weens siekte in die gesin en werksomstandighede wat verander het, verloor.

Ons dank die Goeie Vader wat weereens vanjaar voorsien in ons personeelbehoeftes. Ons het deurentyd 6 dames wat onderrig kan gee met ‘n sewende wat binnekort terug sal wees nadat sy ‘n operasie gehad het.
Vir 2026 is ‘n gevoeringde handsak met ritssluiters aangepak wat soms die geduld behoorlik getoets

het. Die volgende projek is ‘n rompbroek (skort), kortbroek of romp vir die eerstejaars. Die gevorderde groep kies hul eie materiaal en patrone vir kledingstukke vir hulself of ‘n gesinslid waarmee hulle hierdie jaar wil spog. Die personeel moes bontstaan om al die materiaal te knip sodat die leerders pante het om hul mooi artikels te kan stik.
Materiaal geskenk deur die gemeente word aan die begin van die jaar goedkoop verkoop aan die leerders. Hierdie materiaal word met hulp kledingstukke vir die leerders. Die geld ontvang vir hierdie materiaal word benut om naaldwerkbenodigdhede aan te koop.
Tussen die leerders en naaldwerktannies heers ‘n gemoedelike gees van omgee sodat elke Donderdagmiddag ‘n geleentheid is waarna ons almal uitsien. Bybelstudies word ook op ‘n gereelde basis gedoen.
Sonder die onbaatsugtige ondersteuning van die gemeente met materiaal en naaldwerkbenodigdhede sou hierdie aksie nie moontlik gewees het nie. Baie dankie ook aan die gemeente vir die gebruik van Lokale 1 en 2. Ons sal nie sonder julle ondersteuning naaldwerkklasse kon aanbied nie. Ons waardeer die ondersteuning opreg! Soli Deo Gloria!
- Aksie Olyftak

Aksie Olyftak het gedurende 2025 ‘n wonderlike jaar beleef en bou in 2026 daarop voort!
Dienste van haarsny op aanvraag, voet behandelings, bloeddruk en suikertoetse word aangebied. Finansies is gesond en ledetal is tans 24.
Byeenkomste is altyd gesellig waar lekker gekuier en lief en leed gedeel word.
Ons Jaar afsluiting was verlede jaar by “Coffee Talks” met ’n tradisionele Israelies Mediterreense spyskaart, wat terdeë interessant was en positiewe aanklank gevind het.
”Aksie Olyftak” het ook “Kind2Hearing” met ‘n “Musiek Bingo” oggend aangebied wat ‘n heerlike afwisseling was.
Olyf Tak Groete
Noodspens
Die Noodspens raak by al meer mense in die samelewing betrokke omdat die nood onder mense al groter word! Die anderkant van die verhaal is ook waar: groter nood en behoefte bestaan vir produkte wat al duurder word vir die wat dit aankoop en skenk. Daarom is daar by die gemeente en diegene betrokke by die Noodspens groot dankbaarheid vir alle skenkings wat ontvang word en die betrokkenheid van lidmate om hierdie uiters noodsaaklike diens te kan lewer!
Groot dank en waardering bestaan vir almal wat kom help om pannekoek te bak en ook diegene wat pannekoek op die dae wat dit gebak word, kom koop! Baie dankie vir alle geldelike skenkings en die skenking van produkte soos blikkieskos, groente, vleis en meel wat verpak word en aan mense in nood gegee word. Instansies wat gereeld gehelp word is Huis Amor, Dr. Böhmer skool en Huis Nederig.
Huis Nederig

’n Omgeegroep van die gemeente is reeds vir jare betrokke by Huis Nederig. Baie moeite word met die tuin gedoen om sodoende ’n warm en hartlike atmosfeer vir die inwoners te gee. Nuwe plantjies is onlangs geplant en die gras word gereeld gesny. Hulp word benodig om die erf langs die huis skoon te maak sodat die braai area langs die huis gebruik kan word.
Foto: Voor – Die Huismoeder Annetjie met agter James, Willien (Omgeegroepleier van die gemeente) en Sylvester.
Daar word op gereelde basis heerlik saam met die inwoners tee gedrink en gekuier. Ds. Kobus Dippenaar is deel van die van die Omgeegroep en het by ’n onlangse geleentheid ’n kort boodskap gebring en ’n gebed vir die inwoners gedoen. Een van die Omgeegroep se lede voorsien ook in die fondse vir ’n skoonmaakdiens wat die huis gereeld kom skoonmaak. Die inwoners en huismoeder is baie dankbaar vir hierdie groot gebaar van welwillendheid!
As enige person graag betrokke wil raak by Huis Nederig, kontak gerus vir Willien Fourie by 0837008684 of e-pos: ironlady@mweb.co.za.
GETUIENIS IN DIE GROTER BLOEMFONTEIN (Judea)
Die gemeente is ook ingestel op die bereiking van mense in die groter Bloemfontein. Verskeie organisasies is daagliks besig om uit te reik na ons medemens wat ondersteuning nodig het en daarom afhanklik is van gemeentes wat hulle hande omhoog hou.
ENGO
ENGO geniet jaarliks die ondersteuning van die gemeente. Gedurende Pinkster word produkte, warm klere en komberse ingesamel ten bate van ENGO wat dit versprei na waar daar behoefte is. Op Vrydag 22 Mei 2026 vind die jaarlikse KOUE NAG PROJEK onder leiding van Pieter Miles plaas waarna hy die produkte en warm klere en komberse aan ENGO namens die gemeente sal gaan oorhandig. So maak die Here deur die gemeente in die koue wintermaande ’n warm verskil in mense se lewe!
TAXI-FONDS
Hierdie fonds maak dit vir pasiënte van die platteland wat dit moeilik vind om in die stad of by ’n kliniek te kom vir mediese behandeling, moontlik om wel die nodige hulp te ontvang. Indien daar nog persone is wat hierdie uiters noodsaaklike diens wil ondersteun, kan u gerus vir Pieter Miles kontak.
SUID-VRYSTAAT GESONDHEIDSORG
Suid-Vrystaat Gesondheidsorg word deur die gemeente ondersteun by wyse van warm klere wat aan hulle geskenk word vir verspreiding. Tydens Pinkster word van die komberse wat ingesamel wat ook aan Suid-Vrystaat Gesondheidsorg oorhandig vir verspreiding.
GETUIENIS IN AFRIKA (Samaria)
DEGNOS – Namibië
Vanaf DEGNOS in Namibië word verneem van ’n baie geslaagde Tsumkwe Jeugkamp waar 80 kinders verwag is en 90 opgedaag het wat met die evangelie bedien is.
Eiesoortige uitdagings vir die bediening van die Woord word in Namibië daagliks ondervind. Van ons word dalk gevra om 2 tot 3 km te ry om ’n kerkraadsvergadering of gemeentevergadering by te woon. 1800km is gery om ’n kerkraadsvergadering op Tsumkwe te laat realiseer!
By die Luhebu Noord gemeente neem Ds. Jafet Moyo leiding en werk die kerkraad van die gemeente baie hard en neem die gemeente die inisiatief om verskeie sake sonder hulp van buite te reël vir die bediening in die gemeente. Dit is verblydend om te sien hoe hierdie gemeente al meer selfstandig begin funksioneer.
Verskeie Paaskampe is die afgelope tyd aangebied wat deur 400 mense bygewoon is. Vriende uit Amerika van TVCC wat DEGNOS goedgesind is, het op Tsumkwe kom help asook nuwe vennote vanaf Ligpunt Pretoria het in die Caprivi te Omega hulp aangebied. Luhebu Noord hou sy kamp op Omatako en Wildevy hou sy kamp op Tsintsabis. DEGNOS se motorbestuurders het ongeveer 7000km afgelê om al hierdie Paaskampe suksesvol aangebied te kry!

GETUIENIS TOT IN DIE VERSTE UITHOEKE VAN DIE AARDE
Die gemeente ondersteun ook die bediening van die Woord tot aan die uithoeke van die aarde deur:
GEOPENDE DEURE
Jozua van “GEOPENDE DEURE” vertel:
Toe Sadrag, Mesag en Abednego geweier het om voor die goue beeld te buig, was koning Nebukadneser woedend. Selfs met die dreigement van ʼn brandende oond het hulle vasgestaan. Op dieselfde wyse is daar vandag gelowiges wat getrou bly wanneer dit makliker – en veiliger – sou wees om pad te gee. En net soos die drie manne in Daniël, vertrou hulle dat God in staat is om hulle van enigiets te verlos (Daniël 3:17).
In dele van die Midde-Ooste, soos in Sirië, het jare se konflik veiligheid, sekuriteit, lewensonderhoud en daaglikse sorge vir die Liggaam van Christus vererger.
Die volgende woorde behoort aan Vader Bashar Laham. Hy is een van 60 gegradueerdes van die beradingskool wat gestig en bestuur word deur Geopende Deure se plaaslike vennoot in Sirië. Hy was betrokke by die berading van die slagoffers van die Saint Elias-Kerk bomaanval. Sy woorde gee ’n beeld van die alledaagse lewe in Sirië – gevorm deur druk en swaarkry, maar wat ook gekenmerk word deur volharding. Hy praat oor die Kerk se huidige situasie in Sirië, maar ook oor die hoop wat hy vir die Siriese Kerk het.
Die Siriese Kerk is kleiner as wat dit eens was. Gemeentes wat vroeër die land gevul het, het baie kleiner geword – maar hulle het nie verdwyn nie. Die getalle vertel hul eie verhaal. Na raming was daar in 2011 ongeveer 1,8 miljoen Christene in Sirië. Vandag bly daar sowat 300 000 oor. Vader Bashar Laham het hierdie verandering oor meer as ’n dekade sien ontvou. Hy onthou ’n tyd toe Christelike gemeenskappe met ’n gevoel van veiligheid en sekerheid geleef het. Toe het 2011 uitdagings gebring wat daardie fondament geskud het.
“Ons was gewoond aan veiligheid en sekerheid in Sirië,” vertel hy. “Sekere uitdagings wat in 2011 begin het, het die Christelike gemeenskap geskud en onsekerheid en onstabiliteit veroorsaak.” Baie het begin glo dat die enigste manier om weer stabiliteit te vind, was om die land te verlaat. Baie het inderdaad vertrek, terwyl onstabiliteit steeds een van die grootste uitdagings bly vir dié wat agterbly.
Die toekoms van die Kerk
Die gevolge van soveel mense wat vertrek het, raak die toekoms van die Kerk. “’n Kerk sonder jongmense is ’n Kerk sonder ’n toekoms,” sê Vader Bashar. “En jongmense sonder die Kerk het ook geen toekoms nie. ”Hy het gesien hoe die Kerk sy jongmense verloor – sommige trek oorsee, die wat bly kom nie meer kerk toe nie. Volgens hom het die verlies van jongmense die Christelike kultuur en geloof verswak. Tog het Bashar en ander nie moed opgegee nie. “Ons probeer hierdie jong geslag wakker maak om hul verantwoordelikhede na te kom en die voortbestaan van die Christelike Kerk in Sirië te verseker.”
Toe hy gevra is of die Kerk dalk heeltemal kan verdwyn, antwoord Vader Bashar met stille oortuiging: “Ek glo dat die Kerk sal bly voortbestaan,” sê hy. “Die wêreldwye Christendom het sy oorsprong in Sirië. Siriese Christene het die geloof na alle dele van die wêreld gedra.” Toe Pous Johannes Paulus II Sirië in 2001 besoek het, het hy bevestig dat Sirië die geboorteplek van die Christendom is. Vir Vader Bashar vorm hierdie geskiedenis die grondslag van sy hoop.
Maar dit kom nie sonder uitdagings nie. Toe ’n regeringsverandering in Desember 2024 ’n nuwe tyd van onsekerheid inlei, het dit groot kommer veroorsaak, want elke tydperk van oorgang bring sy eie vrese mee – vrees oor veiligheid, oor ekonomiese toestande en oor wat die toekoms inhou. “Elke fase het sy eie uitdagings en moeilikhede,” sê hy. “In elke oorgang is mense bang vir verandering.” Die vraag waarmee Siriese Christene leef, is of die nuwe bestel stabiliteit gaan bring of nie. “Ons het veiligheid en vertroue nodig. Word hierdie dinge deur die huidige owerhede voorsien? Ons weet nie. Daarom leef ons met vrees en onsekerheid oor die toekoms.”
Toe kom 25 Junie 2025.

’n Bom het die Saint Elias-Kerk in Damaskus getref. Dit was meer as net ’n gebou – dit was ’n plek van veiligheid. Skielik het dit nie meer veilig gevoel nie. Vader Bashar vertel dat sy ouers hom as kind dikwels in die kerk gevind het – dit was die plek waar mense ontmoet, gespeel en veiligheid ervaar het, in vreugde sowel as hartseer.
Die bomaanval het daardie gevoel van veiligheid diep geskud. “Ons hoor baie mense sê dat hulle bang voel. Hulle vrees dat hulle dalk nie sal oorleef as hulle kerk toe gaan nie. En tog weier Vader Bashar om toe te laat dat vrees die laaste woord spreek. “Ons glo steeds dat dit die Here is wat die huis bou – Hy is die Beskermer van hierdie stad. As die Here nie die huis bou en die stad beskerm nie, werk die bouers tevergeefs.” Hy glo dat elke tyd van beproewing uiteindelik die Kerk sterker sal maak. “Ons geloof is dat elke fase, elke versoeking en elke tyd van swaarkry ons sterker sal maak. As ’n koringkorrel nie sterf nie, kan dit nie lewe en vrug dra nie.” Hy wys na die geskiedenis om te toon hoe beproewings die Kerk behoue laat bly het: “Die vroeë Kerk het oorloë, vervolging en martelaarskap beleef; daarom bly Christene, ten spyte van alles, steeds standvastig en sterk.”
Soos Sadrag, Mesag en Abednego, wat nie geweet het of God hulle uit die vuur sou red nie, maar tog daarin ingestap het, bly dié gelowiges wat in Sirië agterbly nie omdat dit veilig is nie, maar omdat hulle glo in God se mag om te red. En selfs al doen Hy dit nie, kies hulle steeds om Hom in hierdie land te dien. “Ongeag die vyandige groepe en vyande wat ons in die gesig staar, bly ons standvastig in hierdie land.”
Meer as net geestelike druk
Terwyl hierdie gelowiges kies om in Sirië te bly ondanks die onsekerheid, ervaar hulle ook daagliks groot ekonomiese druk bo en behalwe die geestelike druk. Vader Bashar vertel hoe swaar dit op Christelike gesinne druk aangesien veiligheid, sekuriteit en inkomste die grootste uitdagings is waarmee Christene vandag te doen het.
“Die grootste uitdaging waarmee ons vandag te kampe het, is wanneer ’n pa gedwing word om meer as een werk en skof te werk om vir sy gesin te sorg. Wanneer hy nie die huishoudelike uitgawes kan dek nie, moet die ma twee of drie werke doen. Die kinders en hul toekoms ly daaronder, want die afwesigheid van beide ouers beteken dat die kinders hulself grootmaak. [In so ’n situasie], wie lei die huisgesin? Ons weet nie; dalk neem sosiale media daardie rol oor. Ons beweeg na ’n sekere vlak van verval binne die gesin. Dit is een van ons grootste uitdagings.”
Die Kerk reageer so goed as wat dit kan deur saam te werk met liefdadigheids- en internasionale organisasies om mediese sorg, onderwys en ondersteuning te bied sodat mense met waardigheid kan leef. Maar Vader Bashar maak dit duidelik dat die Kerk nie hierdie las alleen kan dra nie.
Wanneer hy na die toekoms kyk, praat hy van die Kerk nie as ’n gemeenskap wat terugval nie, maar as een met ’n voortdurende roeping. “Ons sal die ligbaken, die sout en die suurdeeg bly – ons sal lig bring in die donker harte van mense.” Sy geloof, gegrond in die lang geskiedenis van Siriese Christendom en die getuienis van sy martelare, wankel nie. “My geloof is dat die Kerk sal bly voortbestaan.”
Staan saam met die Kerk in Sirië!
