Ons streef daarna om gehoorsaam te wees aan Jesus se opdrag in Hand.1:8:

“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom,

en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die aarde”

Gedurende 2025 is voortgebou op verhoudinge wat ontstaan het en oor baie jare deur die uitreikwerksaamhede van die NG Gemeente Langenhovenpark gegroei en ontwikkel het.  Die woord van God word deur die Diensraad: Uitreik van die Gemeente geneem as vertrekpunt en motivering vir die soek na en die onstaan van verhoudinge met ons medemens. Die uitreikaksies van die gemeente wat in “Koninkrykprojekte 2026” aan die gemeente bekend gemaak word, is deel van die totale bediening van en aan die gemeente en gemeenskap tot aan die uithoeke van die aarde!

Die uitreikaksies van die gemeente word georganiseer aan die hand van Hand 1: 8. Die doel van hierdie uitgawe van “Koninkryksprojekte 2026” is om die gemeente opnuut weer bewus te maak van die gemeente se uitreikbediening. Enige persoon wat by hierdie uitreikaksies betrokke wil raak word uitgenooi om die kontakpersoon wat genoem word of die kerkkantoor te skakel.

Met dankbaarheid word die volgende aan die gemeente en belangstellendes bekend gestel:

Getuies in die plaaslike gemeenskap (Jerusalem)

Naaldwerkklasse

Die Naaldwerkklasse is een van die gevestigde projekte van die Diensraad: Uitreik wat oor baie jare baie dames in die gemeenskap van Bloemfontein met uiters waardevolle vaardighede toegerus het.  Daarmee saam word ook aandag gegee aan die emosionele en geestelike versorging van die persone wat die klasse bywoon. Die foto’s getuig van vroue wat die opleiding geniet onder die bekwame leiding van vroue uit die gemeente.

Hierdie Naaldwerkklasse word op Donderdae om 15h00 in die Gemeentesentrum aangebied.

Persone wat dit bywoon word oor die bestek van ’n paar jaar opgelei en begelei in die bemeestering van vaardighede wat nodig is om klere en ander artikels te maak. Vir navrae, kontak gerus vir Ina by (0734195730).

Aksie Olyftak

Aksie Olyftak is ‘n uitreik aksie van die gemeente wat elke tweede Dinsdag bymekaar kom. Dienste by Aksie Olyftak sluit in haarsny, bloeddruk- en glukose toetse asook voetbehandelings.  Lede word opgelaai indien vervoer ‘n probleem is. Die groot doel is om lekker en gemaklik saam te kuier oor ‘n koppie heerlike koffie, tee en ‘n eet dingetjie daarmee saam! Persone wat betrokke wil raak by hierdie aksie kan met Mada Benade in verbinding tree.

Noodspens 

Die Noodspens van die gemeente verrig ’n reuse taak in die uitreikaksie van die gemeente. Produkte wat geskenk word, word verpak en na sekere punte versprei waar nood en behoefte bestaan.  Indien persone by die kerkkantoor om hulp aanklop, word die voedselpakkies ook daarvoor aangewend. Groot dank aan “Pick ‘n Pay” Towers wat gereeld aan die gemeente geleentheid gee om voor hul ingang pannekoek te bak en te verkoop ten einde fondse in te samel vir die kospakkies. Vir navrae kontak Willien Fourie by 083 700 8684

Projekte in die groter Bloemfontein (Judea)

Voedingsprojek (Böhmer-skool)

‘n Uitreik aksie van die gemeente vind gedurende skoolkwartale by Böhmer-skool plaas. Kontak gerus vir Nonnie Heyman vir meer inligting of as u betrokke wil raak by hierdie uitreikprojek. 

NGKA Waterbron

Die gemeente is op verskillende maniere by die NG Kerk in Afrika in Waterbron betrokke. Finansiële ondersteuning word deur die gemeente aan die NGKA Waterbron gegee. Ds. Daniel Moshoaliba  bedien die gemeente.

Engo Gesinsorg Bloemfontein

Die Gemeente het met die verloop van tyd ’n baie goeie verhouding opgebou met ENGO Gesinsorgdienste in Bloemfontein. Engo bied onder andere professionele maatskaplike dienste in die Vrystaat. Pieter Miles as gemeentelid van Langenhovenpark (op foto regs saam met personeel van Engo) neem deur sy betrokkenheid by Engo Gesinsorgdienste verantwoordelikheid vir verskeie projekte wat deur die loop van die jaar in die gemeente plaasvind. Enige persoon is welkom om van hierdie professionele diens gebruik te maak. Navrae kan gerig word aan die Engo kantoor by 051 522691 of Pieter Miles by 0829671096

Jeugsorgsentrums

Die gemeente is betrokke by twee Jeugsorgsentrums naamlik Huis Amor en Huis van Omgee.  Ondersteuning van jongmense woonagtig in hierdie huise vind deur lidmate van die gemeente op gereelde basis plaas. Die jongmense skakel by die gemeente se eredienste, kategese en ander aksies in.  Lidmate kan persoonlik betrokke raak by die sentrums of ondersteuning bied deur die skenking van benodighede.

Kontakbesonderhede: 

Huis Amor, Faurelaan 12A, Willows – Trudie Peyper (0762827276)

Huis van Omgee, Faurelaan 12A, Willows – Kontak gerus die kerkkantoor.

Bloem Shelter  (Skuilplek vir haweloses)

Die gemeente is dankbaar om die werksaamhede van Bloem Shelter te ondersteun. Bloem Shelter is ʼn Christelike organisasie wat in Bloemfontein skuiling bied aan hawelose mense. Die doel is om aan die fisiese, emosionele en geestelike behoeftes te voorsien van elkeen wat by Bloem Shelter om hulp aanklop. Berading word gegee en lewensvaardighede aangeleer.  Hierdie huis vervul ʼn onontbeerlike rol in die stad en ons as gemeente ondersteun die Skuiling graag.

Kontakpersoon Suretha Odendaal – 0828221398

Torings van Hoop

Torings van Hoop / Towers of Hope coverMense in die midde stad van Bloemfontein kontak die gemeente “Torings van Hoop” vir hulp en ondersteuning.  “Torings van Hoop Leierskapstigting” het in Februarie 2010 tot stand gekom met die visie om die gemeenskap te begelei van kwesbaarheid na vaardigheid. Die leuse van die gemeente (‘n variasie op Kol 3:11) lees:  “Hier maak dit nie saak of iemand ‘n Afrikaner of Sotho is nie, man of vrou, huiseienaar of haweloos nie.  Maar hier is Christus alles en in almal”. Wat eens die bekende Tweetoring Gemeente in Bloemfontein was staan vir jare reeds bekend as “Torings van Hoop”.  Die doel is inderdaad om hoop te bring in die lewe van mense waar moed en hoop verlore geraak het.

Suid-vrystaat gesondheidsorg

Die NG Gemeente Langenhovenpark voorsien op gereelde basis klere aan die Suid- Vrystaatse Geestesgesondheidsorg”. Pieter Miles kan by 0829671096 gekontak word vir meer inligting en ondersteuning.

Taxifonds

Fondse vir die vervoer van pasiënte vanuit die Suid-Vrystaat na hospitale in Bloemfontein word deur indiwidue geskenk en vir hierdie doel gebruik.  Vir enige navrae of ondersteuning, kontak gerus Pieter Miles.

Huis Nederig

Ondersteuning word deur lidmate van die NG Gemeente Langenhovenpark gegee aan persone wat in “Huis Nederig” versorging ontvang en ‘n heenkome gevind het. Huis Nederig is geleë in Universitasrif. Verskeie kuier geleenthede word deur die lede van ‘n  Omgeegroep van die gemeente van Langenhovenpark georganiseer om op persoonlike vlak aandag aan inwoners  te gee.  Belangstellendes kan vir Willien Fourie kontak by  083 700 8684.

manne omgeegroep – ng gemeente langenhovenpark

Een van die sake wat die aandag van die “Manne Omgeegroep” van die gemeente ontvang is om na die “Langenhovenpark Kliniek” uit te reik en waar nodig ondersteuning te bied. Mans van die gemeente word aangemoedig om by die “Manne Omgeegroep” betrokke te raak. Persone wat belangstel kan gerus vir Pieter Miles kontak by 0829671096.

Ons getuig ook in Samaria (Afrika)

Botswana

Die gemeente van Langenhovenpark is reeds vir baie jare betrokke by die bediening van die Woord in Botswana. Die finansiële ondersteuning wat Langenhovenpark gemeente gee is om die voertuig- en reisuitgawes  van ‘n leraar in die uitgestrekte land van Botswana moontlik te maak.  Hierdie ondersteuning wat die gemeente bied is noodsaaklik vir die bediening van die Woord wat daar plaasvind.

Namibië: Degnos (Diens en Getuienis Noord-ooste streek)  en Wildevygemeente

DEGNOS opereer vanuit Grootfontein in Namibië en is verantwoordelik vir die opleiding van Evangeliste wat werksaam is in Namibië. Ons gemeente is deur finansiële ondersteuning by DEGNOS betrokke.

DEGNOS lewer buiten ander aksies waar die Woord bedien word, ’n groot bydrae ten opsigte van die onderrig van kinders binne die DEGNOS bedieningsarea.  DEGNOS bedryf verskeie Vroeë Kind Ontwikkeling Sentrums (ECD). Dit is skooltjies waar kinders tussen die ouderdom van 4 – 6 onderrig ontvang.

Andries Gous besoek gemeentes op gereelde basis om dankie te sê en inligting te verskaf oor die bediening wat deur DEGNOS plaasvind.  Die gemeente kry jaarliks die geleentheid om die Jaarvergadering van DEGNOS by wyse van ’n afgevaardigde by te woon en sodoende inspraak te hê in die besprekinge wat plaasvind en besluite wat geneem word.

Kontakbesonderhede: ngtsumke@iway.na en gousandries74@gmail.com

LESOTHO

Die uitreik geleentheid vir die gemeente na die inwoners van ons buurland, Lesotho geniet die aandag van die Diensraad. Dr. Nico Mostert, Sendingsekretaris van die NG Kerk in die Vrystaat, het kontak gemaak met die Lesotho Evangelical Church (LEC). Die  betrokkenheid van die NG Kerk in Lesotho sal in die toekoms plaasvind deur die LEC. Die Diensraad Uitreik van die gemeente gaan voort met gesprekvoering oor die wyse waarop die gemeente by die bediening van die Woord in Lesotho betrokke kan wees.

 

Tot in die verste uithoeke van die aarde

INDIЁ: Pastor S. Sam Selva raj –“Echo of His Call”

Brother Sam (foto regs) en vele ander ondersteuners en medewerkers saam met hom is besig met verskillende evangelisasie bedieninge in Indië, onder andere

  • Die hou van eredienste in verskillende tale
  • Publisering van die “Echo His Call” nuusbrief wat ons ook in Langenhovenpark ontvang en in 16 tale, onder andere in Afrikaans, uitgestuur word
  • Voorsiening van Teologiese Korrespondensiekursusse deur afstandsonderrig in Tamil en Engels
  • Aanbieding van Bybelkor Bybelkursusse in 3 tale naamlik Tamil, Hindi en Engels
  • Bestuur van 3 Nehemia Bybelkolleges in Hindi en Tamil
  •   St Paul Matrikulasieskool waar studente in Engels onderrig word
  •   Bedryf van ’n moderne vlakdruk drukpers wat teen hoë spoed in 16 tale kan druk
  •   Organisering van sosiale opheffingsprogramme vir die armes
  •   Bestuur van veldtogte in verskeie tale
  •   Onderhouding van die “Echo His Call” YouTube kanaal

Die gemeente ontvang maandeliks terugvoer vanaf Br Sam. Ons vra graag die gemeente se voorbidding vir die bediening  wat daar plaasvind asook vir die persoonlike omstandighede van Br Sam en sy familie. Kontakpersoon: Pastor S. Sam Selva Raj.  e-posadres: sam@echoofhiscall.org.

slowakye

Pierre en Lisa van Vuuren doen sedert 1996 sendingwerk in die Slowaakse Republiek, 

deel van die voormalige Tsjeggo-Slowakye.  Hulle werk fokus op Bybelvertaling.

Foto regs – Pierre, Lisa en hul kinders Elise en Samuel.

In 2026 sal Pierre en almal wat saam met hom betrokke is by Bybelvertaling DV voortgaan met verskeie vertalingsprojekte om sodoende die Woord van God beskikbaar te stel in ’n verskeidenheid tale in daardie deel van die wêreld. Die gemeente ondersteun graag hierdie werkssamheid.

Kontak besonderhede: pierre.a.jansenvanvuuren@gmail.com

Geopende Deure

Persone betrokke by “Geopende Deure” besoek die gemeente op gereelde basis om inligting van “Geopende Deure“ aan die gemeente oor te dra.  “Geopende Deure” is ‘n wêreldwye organisasie wat omsien na die behoeftes van die mees vervolgde Christene in die wêreld. Daar is meer as 360 miljoen Christene in 60 verskillende lande wat hoë vlakke van vervolging beleef. Dit is 1 uit elke 7 Christene!  Aan die hart van “Geopende Deure” se bediening is die strewe om bewustheid te skep en gebed aan te moedig vir die wêreldwye vervolgde kerk.

Besoek gerus www.opendoors.org.za vir meer inligting.

Befondsing

Die finansiering van die gemeente se uitreik projekte vorm deel van die kerkraad se begroting.  Dit het daartoe aanleiding gegee dat die “Arbeiders vir die Oes” fonds gebore is. Lidmate kan, bo en behalwe hulle dankoffers, spesifiek vir hierdie Koninkryksprojekte van die gemeente bydra. Bydraes kan direk in die kerk se bankrekening inbetaal word met as verwysing ‘Arbeidersfonds’. Alternatiewelik kan ‘n ACB-betaling met die kerkkantoor gereël word. Bankbesonderhede: ABSA Brandwag (Tjek) Takkode 632005, Rek nommer:  1570 590 630