Oesnuus
September 2026
“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Handelinge 1:8
Aan die hand van Handelinge 1:8 vertel ons graag van die gemeente se
GETUIENIS IN JERUSALEM (GETUIENIS IN PLAASLIKE GEMEENSKAP)
- Naaldwerkklasse
Soos in die verlede word hierdie uitreik projek baie goed ondersteun. Ongelukkig moes sommige van die persone wat opleiding ontvang het, vanjaar hulle opleiding staak omdat hulle hul werk verloor het. Met minder of geen inkomste word die vervoerkoste na die klasse vir hulle net te hoog.

Waaroor daar wel groot opgewondenheid bestaan, is die opleiding van twee jong dogters en selfs ook ’n mans persoon as deel van die groep wat vanjaar opleiding ontvang.
- Aksie Olyftak
By Aksie Olyftak as uitreik aksie van die gemeente word daar vanjaar groot gekuier. Die foto’s vertel die verhaal van lekker gesels, persoonlike aandag en sommer ook saamspeel wanneer die Bingo kaarte uitgehaal word. Hierdie aksie word goed ondersteun en baie moeite word gedoen om elkeen wat opdaag baie welkom te laat voel!

Kom kuier gerus saam! Kontak vir Mada Benade of die Kerkkantoor vir meer inligting.

- Noodspens
Die Noodspens vervul ’n baie groot rol in die uitreik van die gemeente na alle mense in die gemeenskap. Kospakkies word voorberei en beskikbaar gestel aan mense in die gemeenskap wat om een of ander rede nood beleef. Groot waardering bestaan vir elke lidmaat wat hierdie uitreik aksie moontlik maak. Elke bydrae maak ’n verskil in ’n ander mens se lewe!
- Opruimprojek
Die Opruimprojek geniet op die oomblik die aandag van die Diensraad. Die grootste uitdaging op die oomblik is die vervoer van die swart sakke gevul met alles wat opgetel is. Verskeie moontlikhede word ondersoek. Die Diensraad Uitreik vertrou dat daar spoedig ‘n oplossing vir die vervoerprobleem sal wees. Die projek verrig ‘n reuse taak ten opsigte van die opruim van rommel wat veral in die groen areas in Langenhovenpark ‘n groot probleem is.
GETUIENIS IN DIE GROTER BLOEMFONTEIN (Judea)
Die gemeente neem die verantwoordelikheid om mense te bereik wat in die groter Bloemfontein woon, ernstig op. Dit gebeur deur die organisasies te ondersteun wat naby die mense kom wat ondersteuning nodig het.
- Voedingsprojek – Böhmer Skool. MetNonnie Heyman as die gemeente se skakelpersoon word ondersteuning aan hierdie projek gegee.
- Jeugsorgsentrums. Die gemeente is betrokke by twee Jeugsorg huise naamlik Huis Amor en Huis van Omgee.
- Torings van Hoop. Voortgesette ondersteuning word deur die gemeente aan die Middestad bediening gegee wat deur middel van “Torings van Hoop” daagliks plaasvind.
- ENGO
Gedurende Pinkster 2026 is daar ten bate van ENGO produkte, warm klere en komberse ingesamel wat dit versprei na waar daar behoefte is. Die jaarlikse KOUE NAG PROJEK onder leiding van Pieter Miles het plaas gevind waarna hy die produkte en warm klere en komberse aan ENGO namens die gemeente oorhandig het.
Foto links – Pieter Miles oorhandig die gemeente se skenking aan ENGO wat dit met groot dankbaarheid ontvang het!
So het die Here deur die gemeente se ondersteuning warmte aan die liggaam en in die gemoed van baie mense gebring!
Nie net ENGO nie, maar ook Suid-Vrystaat Geestesgesondheid word deur die gemeente ondersteun by wyse van warm klere wat aan hulle geskenk word vir verspreiding. Foto regs waar Pieter Miles die gemeente se bydrae oorhandig het.
- Taxi-fonds
Hierdie fonds maak dit vir pasiënte van die platteland wat dit moeilik vind om in die stad of by ’n kliniek te kom vir mediese behandeling, moontlik om wel die nodige hulp te ontvang. Indien daar nog persone is wat hierdie uiters noodsaaklike diens wil ondersteun, kan u gerus vir Pieter Miles kontak.
- “Manne Omgeegroep”
Waardering bestaan vir die uitreik bediening van die “Manne Omgeegroep” van die gemeente. Daar is ’n gesamentlike bediening wat plaasvind deur die Noodspens en die “Manne Omgeegroep” om ’n verskil in mense se lewe te maak. Die “Manne Omgeegroep” beplan ook ’n braai op 4 November 2026 – Verkiesingsdag om fondse vir die Noodspens in te samel.
GETUIENIS IN AFRIKA (Samaria)
DEGNOS – Namibië
Die !Kung reik uit na Suid-Afrika
Op 11 Augustus 2026 het ’n groep van 14 gemeenteleiers van die Luhebu-Noord-gemeente in die noordooste van Namibië die pad na Kimberley in Suid-Afrika aangedurf. Die groep staan onder leiding van ds. Jafet Moyo en is op pad na Platfontein, waar hulle die plaaslike !Kung-gemeenskap en gemeente gaan ontmoet.
Die besoek is die gevolg van gesprekke tussen DEGNOS, die Sendingkantoor van die Vrystaatse Sinode en die Noord-Kaapse Sinode van die NG Kerk in Suid-Afrika. Die uitreik is ook finansieel moontlik gemaak deur die mildelike donasies van die NG Kerk Vrystaat in besonder.
“Ons wil ons mense op Platfontein gaan help om self kerk te wees,” sê die groep se leiers.
*’n Volk wat deur oorlog verdeel is*
Die geskiedenis van die !Kung-gemeenskappe in Namibië en Suid-Afrika is diep verweef. In 1974 het !Kung-mense wat as soldate in die Portugese weermag in Angola gedien het, na destydse Suidwes-Afrika gevlug nadat Portugal hom aan Angola onttrek het. Baie van hierdie !Kung-mense is vervolgens in die Suid-Afrikaanse Weermag opgeneem en het tot en met die onttrekking van die Suid-Afrikaanse Weermag uit Namibië in 1989 as soldate gedien.
Met die onttrekking het die soldate en hul families ’n keuse gehad: om in Namibië agter te bly of om saam met die Suid-Afrikaanse Weermag na Suid-Afrika te verhuis. Hierdie besluit het ’n volk wat reeds deur oorlog getraumatiseer was, verder verdeel. Sommige families het in Namibië agtergebly, terwyl ander hulle by Platfontein, buite Kimberley, gevestig het.
*Kerk oor grense heen*
Die huidige besoek is daarom veel meer as net ’n konferensie. Dit bied aan twee !Kung-gemeenskappe, wat dekades gelede deur oorlog en politieke omstandighede van mekaar geskei is, die geleentheid om weer kontak te maak en saam na die toekoms te kyk.
Die groep uit Luhebu-Noord sal saam met kerkleiers van die !Kung Alfa-gemeente op Platfontein ’n konferensie hou. Die gesprekke sal onder meer fokus op die vraag hoe !Kung-gemeentes ’n sterk en eiesoortige kerkidentiteit kan ontwikkel binne die breër verband van die NG Kerk.
Vir DEGNOS is dit ’n besondere voorbeeld van hoe die kerk oor grense heen kan saamwerk. “Dit is ’n volk wat voorwaar deur oorlog uitmekaar geskeur is, maar daar is groot troos in die wete dat waar die strome van die Evangelie vloei, daar ook genesing en herstel kan kom.”
*’n Kerk wat na buite kyk*
Die inisiatief is volgens DEGNOS ook ’n belangrike herinnering dat die kerk nie net na binne behoort te fokus nie. Dit is maklik vir gemeentes om hoofsaaklik met hul eie uitdagings, behoeftes en oorlewing besig te wees. Die besoek aan Platfontein wys egter op iets anders: dat gemeentes wat self nog op pad is na groter selfstandigheid, ook iets vir ander kan beteken.
Die groep sien hierdie reis as ’n praktiese uitlewing van Jesus se opdrag in Matteus 28: “Gaan dan heen en maak dissipels van al die nasies.”
Vir DEGNOS is die besoek daarom ’n besondere geleentheid om te sien hoe die liggaam van Christus oor geografiese en historiese grense heen na mekaar uitreik.
*Bid dat die Here hierdie “vuur-aansteek”- geleentheid ryklik sal seën en dat die uiteinde daarvan groot geestelike vrug sal dra.*
- Botswana
Die gemeente gaan voort met ondersteuning van die bediening van die Woord in Botswana by wyse van finansiële hulp wat aangebied word. Dit sal voortduur tot einde Februarie 2027. Dit was ’n voorreg vir die Diensraad Uitreik en die gemeente om by daardie bediening in Afrika oor baie jare betrokke te wees. Die fondse wat gegee is, is aangewend om die vervoer van Leraars in die gemeentes en na bedieningspunte in Botswana moontlik te maak.
GETUIENIS TOT IN DIE VERSTE UITHOEKE VAN DIE AARDE
Die gemeente ondersteun ook die bediening van die Woord tot aan die uithoeke van die aarde deur ondersteuning te bied aan
- Echo of His Call – Br Sam Indië
Vanuit Indië word maandeliks terugvoer ontvang ten opsigte van al die werksaamhede van Echo of His Call. Groot dank word betuig aan die gemeente van Langenhovenpark vir die ondersteuning wat ontvang word. Br Sam vertel:
God het die 26ste Gradeplegtigheid van ons Nehemia Bybelkolleges baie geseën. Dit is gehou op 4 Julie 2026. Sewe en dertig studente het gegradueer en is toegewy vir God se heerlike bediening. Hulle is nou na die sendingvelde gestuur om te dien as evangeliste, pastore en ander areas in die Christen-bediening. Foto: Br S. Sam Selva Raj
Indië is ‘n besondere demokratiese nasie met ‘n bevolking van byna 1.5 biljoen mense. Statistiek wys dat slegs sowat 2 persent van die bevolking Christene is. Ons het dus ‘n baie groot verantwoordelikheid om uit te reik na almal wat nog die Evangelie van Jesus Christus moet hoor.
Voorbidding word gevra vir:
- Die studente van die Nehemia Bybelkolleges vir die 2026-2027 akademiese jaar.
- Al die studente van die St. Paul Matrikulasieskool vir die 2026-2027 akademiese jaar.
- Die welsyn van die Staats koördineerders en hul gesinne.
- Die vermoë om die onbereikte gebiede van Indië te kan bedien.
- Die aksies van die bediening en uitbreiding daarvan.
- Die veiligheid en beskerming van vroue en kinders oor die wêreld.
- Die bekering van alkoholiste en kwaaddoeners deur God se genade.
- Eenheid en vrede onder alle nasies.
- Christen predikers – dat hulle die Evangelie getrou en suiwer sal verkondig.
- God se seën en beskerming oor alle Christelike organisasies en kerke.
- Dienaars van God wat in gevangenisse bedien.
- Die senior Pastoor S. Sam Selva Raj, vir seën met nuwe visie vir sy veelvuldige bedienings.
- Die veiligheid en beskerming van die senior Pastoor S. Sam Selva Raj en sy gesin teen alle bose magte.
- Bybelvertaling – Slowakye Pierre van Vuuren
| ’’n Pierre Van Vuuren – Direkteur van Bybelvertaling van TWFTW (The Word for the World) International. Pierre skryf soos volg: | |||
- Geopende Deure
Die gemeente word gevra om op ’n deurlopende basis voorbidding te doen vir die werk wat Geopende Deure oor die wêreld heen doen. Hulle doelwit is om die verspreiding en verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus in die mees vervolgde lande in die wêreld moontlik te maak!
- Suid-Oos Asië
Ernst Toerien, werksaam in Suid-Oos Asië, het die gemeente vroeër vanjaar besoek en die gemeente ingelig van die bediening wat hy in daardie deel van die wêreld doen. Die gemeente het kennis geneem van die geweldige uitdagings waarmee hy te kampe het asook die eise wat hierdie bediening aan sy gesin stel. Hy bly egter oortuig van sy roeping en is afhanklik van die ondersteuning van die gemeente wat ons graag aan hom gee!
Al die lof en eer vir die uitreik bediening van die gemeente word aan die Vader gegee! Indien u betrokke wil raak, kontak gerus die Kerkkantoor wat u na die Diensraad Voorsitter of ander Diensraad Lede of aanbieders van Uitreik projekte sal verwys.
