“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”  – Handelinge 1:8 –

Hierdie Oesnuus is die laaste van uitgawe vir 2020. Dit was ’n vreemde jaar met besondere uitdagings vir ons almal en ook vir die kerk se getuienis in die wêreld. Tog kon die werk voortgaan.

Gemeentes en ook die stryders op die sending-voorposte, het geleer om deur middel van tegnologie die evangelieboodskap uit te dra. Sommige het selfs net selfone gehad waarmee preke en boodskappe van bemoediging oorgedra en ontvang kon word, maar die werk kon voortgaan, al was dit soms op beperkte skaal en met groot moeite.

Ek deel graag met julle die ervarings van ’n paar van ons sendelinge.

DEGNOS (DIENS EN GETUIENIS NOORD-OOSTELIKE STREEK) IN NAMIBIË

Andries Gous is in Junie aangestel as besturende
direkteur van DEGNOS in die plek van Hendrik
van Zyl wat vroeër vanjaar oorlede is. Anders as
sy voorgangers het Hendrik nie teologiese
opleiding nie, maar hy is ’n gesoute sendeling
met baie goeie kennis en ’n sterk passie vir die
werk van DEGNOS. Sy eggenote is Tracey en
hulle is besig om oor te skuif na Grootfontein.

Andries skryf dat hulle onlangs ’n sessie van
Voortgesette Teologiese Opleiding voltooi het
vir die kerkleiers van al vier die gemeentes wat
onder DEGNOS ressorteer. Die kaart langsaan
dui die ligging van die bedieningsgebiede aan.
Die tema het gehandel oor die vraag “Wat is die
ware Evangelie?” en dis bekyk deur vier
verskillende vensters, naamlik die Wet, die Kerk,
die Verbond en die Solas. Daar is lekker
saamgesels en daar is getuienis aangehoor van
die predikante uit die veld waar hulle daaglikse te doen kry met valse profete en ander wat leuens en die gruwelikste valshede verkondig onder die vaandel van Christenskap.
Leviet vertel selfs van ‘n man wat by een van die nedersettings in sy bedieningsarea kom voorgee het dat hy Jesus Christus self is.

Hulle is dankbaar dat Ds. Lucas se werkspermit goedgekeur is en dat hy na die Kaap kon
reis om by sy vrou Dora-Marie te gaan kuier nadat hulle baie lank weg van mekaar was as
gevolg van die Covid-19 reisbeperkings.
Een van die instrumente wat DEGNOS gebruik om die Evangelie van Christus uit te dra, is
die vyftien DEGNOS skooltjies wat versprei is oor die hele bedieningsarea. Die skooltjies
is deel van die Vroeë Kinderontwikkelingsprogram waar 30 voltydse onderwysers die
kinders uit baie arm gemeenskappe bedien. Behoorlike voeding is ‘n belangrike bousteen
vir breinontwikkeling en daarom voorsien DEGNOS nie net skoolgeboue en onderwysers
nie, maar ook kos. Met die hulp van donateurs soos Bank Windhoek, Namib Mills,
verskeie gemeentes en privaat individue wat die werk ondersteun deur middel van
finansiële bydraes en produkte, was hulle tot dusver in staat om die ongeveer 450 kinders
in die skooltjies te voed en te onderrig.
Gedurende die week van 19 Oktober het Andries en Tracey Wildevy besoek, wat spesifiek
deur ons gemeente ondersteun word en waar di. Josef Gevers en Regina Nausses
werksaam is. Hulle het beplan om die onderwysers te ontmoet en kos af te lewer by die
verskillende klein skooltjies in die gebied.
Vir Dinsdag (20 Oktober) is ’n kerkraadsvergadering beplan vir die Wildevy Gemeente se
kerkraad in die Tsumeb Distrik. Daar is beplan om ook in die wyke Oupos, Ombilli en
Makalani met die gemeentes te praat oor dissipelskap. Saterdag sou hulle die plaas Henta
besoek om ook daar ‘n vergadering te hou met die kerkraad van Grootfontein distrik se
gedeelte van die Wildevy gemeente. Hulle vra ons voorbidding dat die Here hierdie
besoek, wat by die uitgaan van hierdie Oesnuus net afgeloop sal wees, sal gebruik en sal
kroon met sy seën.

ERNST TOERIEN (THAILAND)

Ernst was die afgelope drie weke met vakansie en het die
tyd onder meer gebruik om aan sy M.Div.-studies te
werk, sy kennis van die Burmese taal uit te brei en darem
te rus ook. Hy is verder besig om te beplan aan ’n projek
wat hy wil van stapel stuur in Myanmar, om opleiding te
verskaf in dissipelskap en Christelike leierskap. Hulle wil
’n drie jaar kursus daarstel wat ’n grondige kennis en

begrip van Bybelse waarhede insluit en studente leer om dit prakties toe te pas in hulle
eie lewe en dit ook met ander te kommunikeer.
Daar is ’n groep gestig wat aan die beplanning werk. Op die oomblik bestaan die groep uit
agt persone waarvan vier uit Amerika is en drie uit Suid-Afrika en dan ook natuurlik Ernst
self.
Twee dokumente van die projek is reeds voltooi, naamlik die Geloofsverklaring en ’n
tweede dokument wat die visie en missie van die projek uitstippel. Die projek sal in
Myanmar begin, maar moet uitgebrei word na omliggende lande soos wat die Heilige
Gees hulle lei. Die span is tans besig om te besin oor die begroting van so ’n projek en vra
ons voorbidding dat die Here stap vir stap sal lei in die verdere beplanning.
Ernst het in ’n vorige brief vertel van ’n dogtertjie, Mary, in Myanmar wat aan ’n ernstige
lewerkwaal ly. Sy moet ’n spesiale dieet volg wat haar sal gereedmaak vir ’n
leweroorplanting, maar die olies en medisynes wat saam met die dieet gebruik moet
word, is totaal onverkrygbaar in Myanmar. Ernst kan nou die nodige middels aankoop in
Taiwan, maar dit is duur en hy vra of daar nie iemand is wat daarmee kan help nie. Hy het
ook ’n moontlikheid gevind om die pakkie met medisynes na Myanmar deur te stuur. Hy
vra ook dat ons sal bid dat sy plan om die medisyne oor te stuur, sal werk, want Myanmar
is in die greep van Covid-19 en daar is nie ’n direkte pad vir die medisyne nie. Volgens
hom sal dit langs die pad van baie hande moet verwissel. Sonder hierdie medisyne sal
hierdie dogtertjie egter sterf voordat sy tien jaar oud is.

GERRIE EN ARLENE COETZEE

Ons het reeds in ’n vorige OESNUUS berig dat Gerrie en
Arlene vanaf SAAWE aanbeweeg het na ’n ander
wêreldsending-organisasie, naamlik SIM. Hulle trek na
Kaapstad het net voor die COVID-19 inperking plaasgevind
en hulle het feitlik net daar aangekom toe alles vanweë die
inperking tot stilstand gekom het. Deur van dag tot dag te
fokus op die leiding van die Here, het daar tog geleenthede
tot getuienis en werk vir die Koninkryk opgeduik.

Sedert hulle inskakeling by SIM was die kantoor heeltyd gesluit as gevolg van die inperking
maar SIM het wel einde Junie hulle jaarlikse SLC – Spirit Life Conference – gehad. Die doel
hiervan is dat al die sendelinge jaarliks bymekaarkom vir ́n paar dae, mekaar versterk,
getuig en om bemoedig te word deur die Woord. Hierdie jaar was dit virtueel deur middel
van Zoom aangebied en almal het vanuit hulle plekke van inperking saamgekom. Dit was baie spesiaal en ook lekker om letterlik die maskers te laat val en die Here te dank en te
loof vir Sy goedheid en genade in almal se lewens!
Sedert einde Augustus is die SIM kantoor weer oop en Gerrie gaan periodiek in en werk
andersins nog van die huis af. Dit is vir hulle wonderlik om te kan getuig dat Gerrie ook in
die grendeltyd, ’n geseënde pad gestap met verskillende groepe mense wat deur die Here
geroep is om betrokke te raak in wêreldsending. Die aansoeke en voorbereiding vorder
fluks om sommige van hulle teologies, emosioneel en finansieel reg te kry om uit te gaan
na die sendingveld, nasionaal asook internasionaal! Dank die Here saam met hulle
daarvoor.

Die verbod op internasionale reise en die sluit van baie lande se grense bring groot
uitdagings aan sendelinge wat tans op tuisbesoeke is, sommige gedwonge as gevolg van
die Korona virus. Dit is baie moeilik om weer terug te keer na die lande waar hulle dien en
in sommige gevalle het visums nou verval. Visum- en toelatingsvereistes word ook
strenger en die verswakking van die Rand bring groot uitdagings vir persone wat aktief by
wêreldsending betrokke wil raak.
Gerrie en Arlene vra dat ons ook sal bid vir voortgesette gesondheid en dat hulle steeds
sal onderskei wat die Here se wil is vir die werk waarmee hulle besig is. Dis nie ’n geringe
saak om ’n pad te stap met iemand wat hom of haar bereid verklaar het om na ’n ander
land te gaan om die Evangelie te verkondig nie!

DS. DEON POTGIETER (VGK HEIDEDAL-SUID)

Ds Deon Potgieter tree aan die einde van Februarie
2021 af. Hy het egter baie opgehoopte verlof en het
dus reeds verlede Sondag sy afskeidspreek in die
gemeente gelewer.
Hy gaan egter nie stilsit nie, maar wil na sy aftrede
voortgaan om die buitewyke, Wepener, Trompsburg
en Springfontein te bedien met Kinderbond, besoeke
aan bejaardes, bidure en ook VERITAS. Hy wil ook
steeds voortgaan met tronkbediening.
Daar is reeds namens ons gemeente aan hom ’n skrywe gerig waarin hy bedank word vir
baie jare se samewerking , veral met die jaarlikse Hervormingsfees, en om hom en sy gesin
die Here se seën toe te bid vir die nuwe fase in hulle lewens.