Koninkryksprojekte (Samaria) – NAMIBIË NUUS

Andries Gous van DEGNOS in Namibië het sedert die begin van verlede maand heelwat nuus oor Wildevy gemeente gestuur, asook oor Ombili wat binne die bedieningsgebied van Wildevy ressorteer. Hy skryf soos volg oor verskeie kursusse wat aangebied word om leiers en lidmate toe te rus vir hulle getuienistaak:

Dinsdag 5 Januarie: Kerkdiens op Ombili en Vaste Fondamente

Joao, die Here se getroue medewerker op Ombili ,stuur vir ons hierdie foto van die Kerkdiens op Ombili. Ons begin eerskomende Saterdag met die aanbied van die Vaste Fondamente Kursus daar. Die kursus sal een Saterdag per maand aangebied word (as die Here wil) vir die hele jaar en het ten doel om die plaaslike gelowiges toe te rus vir dissipelskap op Ombili en Ondera waar daar om en by 1300 mense woon. Bid asseblief die Here se seën op hierdie werk.

5 Januarie: Opleiding van Jeugwerkers

Tydens die dissipelskap seminaar op Tsintsabis in Oktober 2020 was daar besluit dat Jeug evangelisasie ‘n fokus area is vir die Wildevy Tsintsabis gemeente. Woensdag en Donderdag sal sewe jeug werkers van uit die gemeenskap opleiding ontvang van Child Evangelism Fellowship om hulle te help om waarlik dissipel makers te word onder die jeug in hulle gemeenskap. Bid asseblief vir Trudie van CEF en NG Gemeente Tsumeb  en haar span wat die opleiding aanbied en ook vir die sewe jeugwerkers dat die Here hulle sal gebruik tot eer van sy Koninkryk.

Woensdag 6 Januarie:

Trudie rapporteer dat dit baie goed gaan met die opleiding. Die wonderlikste is dat drie van die persone wat aangewys was deur hulle gemeentes om te kom vir die opleiding die besluit gemaak het om Jesus te volg.  Is ons Here nie fantasties nie, Hy roep en wanneer Hy roep kan niemand nee sê nie. Bid asseblief aanhoudend vir hierdie agt Jeug Evangeliste wat die Here opgeroep het in die Wildevy gemeente.

Vrydag 8 Januarie:

Die opleiding van die jeug-evangeliste is voltooi.  Hulle is baie opgewonde en gereed om met die groot werk te begin. Trudie, wat die opleiding met hulle gedoen het, is bereid om hulle op ’n weeklikse basis by te staan met voortgesette opleiding. Langsaan  is ’n foto van die groep.