Koninkryksprojekte (Samaria)

TSABONG (BOTSWANA

Ds TC Du Toit, ons sendeling in Botswana  uit Tsabong, skryf soos volg:

 “Na 11 jaar van voltydse leef opTsabong en werk in die NG Kerk Botswana in Kgalagadi, het ons biddend besluit dat dit tyd geword het om ons basis te verskuif. Prakties beteken dit dat ons teruggaan na Suid-Afrika, maar ons sal nog by die gemeente  betrokke wees deur middel van afstandsbetrokkenheid en periodieke fisiese besoeke van tot ses weke per keer.    

Ons residensiële permitte verval op 23 Maart hierdie jaar en die kontrakpos met die NG kerk Hartswater word dan ook op 31 Maart beëindig. EK sal dan 67 jaar oud wees en sal dan finaal moet aftree en ’n emeritusleraar van die NG Kerk wees.

Na ’n tydperk van 41 jaar in voltydse bediening deur die Here se genade, voel ons dat dit nodig is om meer tyd en aandag aan ons kinders en kleinkinders te wy  en ook nader aan hulle woon. Ons beplan dus om in April na Brandfort in die Vrystaat te verhuis.”

Die ideale situasie sal wees om ’n NG Kerk leraar en leraarsvrou te vind wat bereid is om ds. Du Toit te vervang op vrywillige basis en wat hulle eie finansiële  ondersteuningsbasis kan hê.  Maar tot dan sal hulle  betrokkenheid na einde Maart, onder meer insluit dat hulle steeds die gemeente en kerkraad sal adviseer en administratiewe verantwoordelikhede sal nakom.  Hy sal ook preke beskikbaar stel op videoclips indien nodig.

Ander sake wat steeds sy aandag sal verg, is onder meer die jaarlikse Tsabong Sendingkonferensie, die Jeug-Werkswinkel, die opleiding van Sondagskoolonderwysers, die “Early Childhood Development” (ECD) projek met al die administrasie en opleiding daaraan verbonde. Hy sal steeds uitreike inisieer en befondsing vanuit Suid-Afrika koördineer.  Dit alles sal gedoen word gedurende die twee ses-weke besoeke per jaar aan die gemeente. Gedurende daardie periodes sal hy ook Doop en nagmaal bedien.

Hy sal die opleiding van Nehemia-studente aanlyn behartig, asook vele take waarby hy in Rings-en Sinodeverband betrokke is. Hy sal verder voortgaan met sy werk om Frans Hancke by te staan met DIE PLAN, wat ook ’n aantal jare gelede in ons gemeente aangebied is. Dit lyk nie asof hierdie sendeling van ons gaan rus na-aftrede nie!  Hy het werklik in die maande wat kom ons voorbidding nodig – veral ook vir iemand wat sy plek daar op Tsabong sal kan volstaan.