Liewe Gebedsvriende

Geopende Deure berig dat Indië tans baie naby aan Noord-Korea kom wat intensiteit van Christenvervolging betref.  Hindoeïsme is die grootste godsdiensgroep in Indië  en geniet ook regeringsondersteuning. Ekstremistiese Hindoes beskou die Christendom as ’n nuwe, vreemde godsdiens wat uitgeroei moet word.  Daarom word Christene, wat ongeveer 5% van die land se bevolking tel, deur hierdie groepe geteiken.  Hulle kry baie moeilik werk en kan byna nie ’n bestaan maak nie.  Hulle word selfs doodgemaak net omdat hulle Christene is.  Dit alles, terwyl Indië as land daarop roem dat hulle godsdiensvryheid voorstaan!  Ook is die konsep dat die Christelike godsdiens ’n nuwe godsdiens in Indië is, ’n leuen van die Bose.  Die Christelike kerk is sowat 2000 jaar gelede deur die apostel Thomas in Indië geplant en daar is steeds ’n kerk wat hulleself die Thomas-christene noem.

Geopende Deure nooi ons gemeente as hulle ondersteuners om hierdie maand spesiaal vir die kerk in Indië te bid en vir die Christene daar wat eensaam, gemarginaliseer en bedreig is.  Gaan vir meer inligting en vir ’n gebedsgids na hierdie skakel: https://www.opendoors.org.za/afr/indie-gebedsgids-2021-laai-af2/.

Die gebedsgids kan ook van ons webwerf afgelaai word.

Groete en seën uit die Uitreikkantoor

Hanneke